Verkiesing 2021

VF Plus is ‘hensoppers’ in taalstryd, sê DA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

In die voortslepende moddergooiery voor die plaaslike verkiesings het die DA die VF Plus "hensoppers" genoem en dié party daarvan beskuldig dat hy tou opgooi in die geveg om 'n toekoms vir Afrikaans in Suid-Afrika te vestig.

Dit volg nadat dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP, Vrydag in 'n verklaring gesê het die regering se houding oor Afrikaans wys dat die skikking van 1994 misluk het en dat selfbeskikking nou die enigste oorblywende oplossing is.

Hy het tot die taaldebat toegetree nadat die DA 'n klag teen dr. Blade Nzimande, minister van höer onderwys, wetenskap en innovasie, ingedien en 'n petisie begin het weens sy departement se beleid vir hoëronderwysinstellings wat Afrikaans as 'n "uitheemse" taal klassifiseer.

Boshoff het by navraag gesê die regering se houding is net nog 'n teken dat Afrikaans in Suid-Afrika sy hoër funksie in plekke soos die universiteite sal verloor.

Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus-leier.
Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus-leier.

"Die ideaal vir Afrikaans sou wees dat die Wes-Kaap en dalk dele van die Noord-Kaap ook afstig, omdat die meeste van die inwoners Afrikaanstalig is," sê Boshoff.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP, het in 'n afsonderlike verklaring gesê Boshoff se uitlatings wys daarop dat hy geen toekoms vir Afrikaans in Suid-Afrika sien nie.

"Terwyl die stellings uiters teleurstellend is, is dit nie heeltemal verbasend nie. Oor die afgelope paar jaar was die VF Plus geheel en al afwesig in die stryd om Afrikaans se toekoms. Die DA staan as die enigste politieke party wat daadwerklik dinge gedoen kry om die regte van Afrikaanssprekendes te beskerm.

"Die VF Plus praat graag oor sy verbintenis tot Afrikaans, maar Boshoff se kommentaar verklaar waarom die party by geen enkele praktiese geveg vir Afrikaans betrokke is nie."

Schreiber sê waar die VF Plus nou die "wit vlag gehys het" in die geveg om prakties uiting te gee aan taalregte soos verskans in Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie, stel die DA geensins daarin belang om te "hensop" nie.

Daar is wel 'n aspek wat belangrik is aan die VF Plus se oorgawe in die stryd vir Afrikaans se regmatige plek as 'n gelyke, inheemse taal wat deur Suid-Afrikaners van alle agtergronde gekoester word.

Dit is dat dit "aan kiesers die geleentheid bied om op 1 November eerder te stem vir 'n party wat nie langs die kantlyn staan en hensop nie, maar eerder dag-na-dag prakties saam met studente, belangegroepe en die breër Afrikaanssprekende gemeenskap werk om die toekoms van taalregte in Suid-Afrika te verseker".

Terwyl die stellings uiters teleurstellend is, is dit nie heeltemal verbasend nie. Oor die afgelope paar jaar was die VF Plus geheel en al afwesig in die stryd om Afrikaans se toekoms. Die DA staan as die enigste politieke party wat daadwerklik dinge gedoen kry om die regte van Afrikaanssprekendes te beskerm.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM