Die WNNR en die SAUK sê in hul jongste voorspelling Dinsdagoggend vir die proporsionele steun die ANC sal slegs 37,4% van die proporsionele stemme in Gauteng op hom verenig teenoor die 31,2% van die DA en die EFF se 12,7%.
ActionSA van Herman Mashaba, voormalige DA-burgemeester van Johannesburg, wat die eerste keer aan die verkiesing deelneem, kan moontlik 6% van die stemme op hom verenig. Die stempersentasie in Gauteng was na verwagting net 45%. In 2016 was dit 57%.
Dié uitslag wys dat koalisievorming in dié provinsie waarskynlik onvermydelik sal wees.
Nadat 18% van die stemme in die Ekurhuleni-metro verklaar is, meen die WNNR die ANC se steun sal 39,6% wees teenoor die DA se 30%, die EFF se 12,9%, die VF Plus se 4,4% en ActionSA se 5,9%.
Nasionaal is die verwagting dat die stempersentasie 46% was en die ANC 46,7% van die stemme sal kry, die DA 22,6%, die EFF 10,6%, die Inkatha Vryheidsparty (IVP) 5,9% en die VF Plus 2,7%. Die WNNR se model voorspel dit op grond van die 22,9% van die stemme wat uitgebring is.
In die Vrystaat, waar 25,9% van die stemme verklaar is, behoort die ANC 'n volstrekte meerderheid van 52,4% te kry teenoor die DA se 19,7% en die EFF se 12,6%. Die VF Plus se verwagte steun is 4,4%. Die WNNR meen die stempersentasie hier was 45%.
In KwaZulu-Natal, die ANC se grootste provinsie, sukkel hy. Nadat die ANC in 2016 58,9% van die stemme gekry het, meen die WNNR dit kan dié keer daal tot 42,8%. Die IVP, wat in 2016 18,5% steun geniet het, kan ná Maandag se verkiesings 24,3% steun verwag. Die DA se verwagte steun is 14,4% en dié van die EFF 9,3%.
In Mpumalanga sal die ANC na verwagting met 60% van die steun wen, gevolg deur die EFF se 15,6%, die DA se 12,2% en die VF Plus se 3,1%. In dié provinsie is 30,4% van die stemme al verklaar.
In die Noord-Kaap kan die ANC moontlik net-net nie 'n volstrekte meerderheid behaal nie. Die WNNR voorspel hy sal 49,9% steun kry, teenoor die DA se 20%, die EFF se 10,2% en die VF Plus se 3,5%. Die stempersentasie was 'n verwagte 56% (60% in 2016) en 56,7% van die stemme is al verklaar.
In Limpopo wag 'n wegholoorwinning op die ANC met 71,1% steun nadat 10,5% stemme verklaar is. Die EFF is moontlik die naasgrootste party (14,3%), die DA (6,8%) die derde grootste en die VF Plus (1,6%) die vierde grootste.
In die Oos-Kaap sal die ANC met 64% van die stemme wen, gevolg deur die die DA met 16,9% en die EFF met 7,7%. 31% van die stemme is al hier verklaar.
In Noordwes, waar die ANC erg verdeeld is en die stempersentasie na verwagting net 44% was, voorspel die WNNR die ANC sal met 'n meerderheid van 56% van die stemme wen, teenoor die EFF se 17,5% en die DA se 10,4%. Die VF Plus se steun sal moontlik in die omgewing van 5,5% wees.
Wat die Wes-Kaap betref, sal die DA 'n volstrekte meerderheid van 51,4% behaal, terwyl die ANC 21,7%, die EFF 3%, die ACDP 1,8%, die VF Plus 3,9% en Good 4,3% steun sal hê.
Die voorspelling is gegrond op 35% van die stemme wat reeds in dié provinsie verklaar is. In die vorige plaaslike verkiesings het 54,5% van die inwoners vir die DA, 24,8% vir die ANC en 8,2% vir die EFF gestem. Die stempersentasie was 62% in 2016 teenoor 52% vandeesweek.




















