Promosie

BBP-daling ergste in 100 jaar

Foto: iStock
Foto: iStock

Die finale syfer vir BBP vir 2020 gaan een vir die rekordboeke wees - die ergste inkrimping sedert 1920.

Hoewel Suid-Afrika nie die enigste land is waar die ekonomie skerp verswak het ná die uitbreek van die Covid-19-pandemie nie - verskeie ontluikende ekonomieë, met die uitsondering van China, het ongekende dalings in ekonomiese aktiwiteit beleef - moet in gedagte gehou word dat Suid-Afrika in resessie was voordat hierdie probleme die wêreld getref het.

Die ekonomie was reeds besonder swak voordat streng inperkings in die tweede kwartaal van 2020 afgekondig is en dit het 'n geweldige impak gehad. 'n Totaal van 1,4 miljoen werkgeleenthede is verloor en verskeie ondernemings het gesluit. 'n Kommerwekkende situasie, en dit gaan jare neem voordat Suid-Afrika daarvan herstel.

Suid-Afrika % verandering in BBP sedert 1920: Hierdie data is die verste terug wat beskikbaar is, maar die data van 1918 tot 1933 is eers in die laat 1930's geskep. Hoewel dit waarskynlik nie 100% akkuraat is nie, is dit die beste data wat beskikbaar is. BBP as ‘n rekeningkundige standaard is eers in die 1930's begin en eers baie later in die 1950's volledig ontwikkel. SA het wel mynbou- en landbou-aktiwiteit voor 1900 gemeet en inflasie in sommige stede is sedert 1910 gemeet. Vervaardiging is vanaf die Eerste Wêreldoorlog gemeet, asook kleinhandel- en groothandelverkope. Die data in die grafiek is dus nie geraam nie, maar ná afloop van die termyn saamgestel.
Suid-Afrika % verandering in BBP sedert 1920: Hierdie data is die verste terug wat beskikbaar is, maar die data van 1918 tot 1933 is eers in die laat 1930's geskep. Hoewel dit waarskynlik nie 100% akkuraat is nie, is dit die beste data wat beskikbaar is. BBP as ‘n rekeningkundige standaard is eers in die 1930's begin en eers baie later in die 1950's volledig ontwikkel. SA het wel mynbou- en landbou-aktiwiteit voor 1900 gemeet en inflasie in sommige stede is sedert 1910 gemeet. Vervaardiging is vanaf die Eerste Wêreldoorlog gemeet, asook kleinhandel- en groothandelverkope. Die data in die grafiek is dus nie geraam nie, maar ná afloop van die termyn saamgestel.

Prestasie van sektore in 2020

Agt van die tien ekonomiese sektore het in 2020 agteruitgegaan en slegs staatsdienste en die landbousektor het positiewe groei getoon.

Die primêre en sekondêre sektore (konstruksie, vervoer, vervaardiging en mynbou) is die swaarste getref toe die plaaslike ekonomie so te sê tot stilstand gekom en die internasionale verskaffingsproses onderbrekings beleef het, wat veral sektore wat op uitvoer fokus, benadeel het.

Die dienstesektor het die inkrimping nie vrygespring nie en het ook beduidend gekrimp.

BBP-prestasie per sektor in 2020.
BBP-prestasie per sektor in 2020.

Ekonomiese herstel bly broos

Met 2020 nou geskiedenis is die vraag, wat gaan 2021 oplewer? Hoewel die verwagting is dat die ekonomie wel in 2021 sal herstel, is dit grootliks danksy die lae basis wat deur die skerp inkrimping in 2020 geskep is. En die herstel gaan waarskynlik matig en sporadies wees. Reuters se jongste (18 Maart 2021) konsensusvoorspelling deur 'n paneel van ekonome is dat Suid-Afrika se reële groeikoers 3,6% sal wees in 2021 en 2,1% in 2022 én 2023.

Hierdie lae verwagting dui daarop dat dit minstens vier jaar gaan neem voordat die ekonomie tot die vlakke van voor Covid-19 sal herstel.

BBP-verwagtinge het verander ná Covid-19 die ekonomie getref het.
BBP-verwagtinge het verander ná Covid-19 die ekonomie getref het.

Die slakkepas van herstel is onderhewig aan bepaalde risiko's en voortslepende faktore wat dit kniehalter:

  • Die stadige pas van inentings en 'n algemeen verwagte "derde vlaag", wat tot nuwe inperkings kan lei wat die ekonomie sal raak, terwyl daar min staatsteun moontlik gaan wees weens die regering se finansiële probleme;
  • Voortslepende probleme met kragvoorsiening wat beurtkrag tot gevolg sal hê. Eskom het onlangs aangedui dat Suid-Afrika gereed moet maak vir minstens nog vyf jaar van gereelde beurtkrag;
  • Verdere druk op die finansies van huishoudings weens stygende brandstofpryse, stygings in geadministreerde pryse (in die besonder die 15,6% styging in elektrisiteitstariewe wat op 1 Julie vir munisipale verbruikers in werking tree) en die uitfasering van Covid-19-verwante staatshulp;
  • Hoë werkloosheid met min vooruitsigte van enige verbetering gegewe die stadige ekonomiese herstel. Werkloosheid onder jongmense (15 tot 24 jaar) staan op 'n skrikwekkende 63,1% in die vierde kwartaal van 2020 teenoor die totale werkloosheid van 32,5%;
  • Lae verbruikers- en sakevertroue; en
  • Swak vordering met strukturele hervorming, wat 'n beter ekonomiese groeikoers kan bevorder. Die verdere oponthoud met die langverwagte spektrum-veiling is 'n tekenende voorbeeld van Suid-Afrika se "maak gou en wag"-benadering wat met die meeste planne aan die orde van die dag is.

Hoewel die BBP vir die vierde kwartaal effens beter was as wat verwag is, is daar tekens dat die momentum in die eerste kwartaal van 2021 stoom verloor het. Inperkings was in plek, gereelde beurtkrag het teruggekeer en daar is besef dat die pyn wat huishoudings se finansies en sake-ondernemings getref het, tyd gaan neem om te herstel.

Daar is wel 'n paar positiewe ontwikkelings wat van die negatiwiteit kan verminder. As die kommoditeite-siklus lewendig bly en die internasionale ekonomie herstel goed, kan die mynbou en verwante sektore (byvoorbeeld vervaardiging en vervoer) goed vaar en die BBP steun met hoër uitvoer. Dit sal die staatskas steun en ook werkgeleenthede skep.

As die inentingsprogram momentum kry, sal dit ook vertroue steun.

BBP per kapita

Dit is wyd bekend dat Suid-Afrikaners die laaste paar jaar armer geword het, weens die feit dat ekonomiese groei vir die afgelope ses jaar laer as die bevolkingsgroei was. Daar is hoop dat daar in 2021 positiewe BBP per kapita sal wees as die BBP teen die verwagte 3,6% groei en bevolkingsgroei laer is (die verwagting is 1,4%). Suid-Afrikaners gaan egter nie sommer enige welvaart ervaar nie, aangesien die werklike BBP per kapita byna dieselfde is as wat dit in 2006 (15 jaar gelede!) was.

Langtermyn BBP per kapita en langtermyn voorspelling
Langtermyn BBP per kapita en langtermyn voorspelling

Hoe het die SA ekonomie gevaar teenoor ander lande?

Die pandemie het elke land ter wêreld geraak. China het wel ekonomiese groei aangeteken, maar glad nie die 6,5% groeikoers gehaal wat aan die einde van 2019 voorspel is nie. Daar wás lande wat ekonomiese groei beleef het, maar die ekonomieë van die meeste lande het gekrimp.

Inperkings oral het 'n negatiewe impak vir verskeie lande gelewer, hoewel 'n paar lande positiewe syfers aangeteken het.

Die BBP-syfers vir 2020 vir 40 lande
Die BBP-syfers vir 2020 vir 40 lande

Die Nordiese lande het nie te sleg gevaar nie, maar lande in Latyns-Amerika, Suid-Afrika en lande waar streng inperkings ingestel is - bv. Spanje, Italië en Brittanje - het swak gevaar. Suid-Afrika se BBP-syfer is in die onderste tien vergeleke met lande waarvoor data beskikbaar is.

Dit is die volle waarheid van die stand van ekonomiese sake in Suid-Afrika. Beleggers word aangeraai om deeglike aandag aan hul finansies te gee en dit is raadsaam om 'n professionele adviseur te raadpleeg vir die pad vorentoe.

Mike Schüssler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM