
'n Dapper, tweeledige benadering om gestremde mense te bemagtig om hul ruimte in die gemeenskap op te eis en weg te doen met selfbejammering. Dít was die uitkoms van 'n onlangse seminaar wat in Gauteng gehou is vir mense met gestremdhede.
Die seminaar is op 7 Desember by die Birchwood-hotel-en-konferensiesentrum aangebied deur die Gautengse provinsiale wetgewer. By die geleentheid is die belange van mense met gestremdhede gekonsolideer en is daar nuwe stukrag gegee aan die soeke na kwalitatiewe en kwantitatiewe oplossings vir dié groep.
Uhuru Moiloa, adjunkspeaker van die Gautengse provinsiale wetgewer, het die doel van die seminaar kortliks toegelig, naamlik motivering vir gestremdes en die bestuur van die veelvuldige uitdagings waarmee hulle daagliks te doen kry.
"Ons verantwoordelikheid as die Gautengse wetgewer is om seker te maak dat mense met gestremdhede nie benadeel word gegrond op hul posisie in die ekonomie, maatskaplike ingryping of enige aktiwiteite wat mense laat floreer nie," het Moiloa gesê.
Opvolg op ons verbintenis tot mense met gestremdhede in Gauteng
Dié pro-aktiewe sentiment is bevestig deur die tema van die seminaar: "Opvolg op ons verbintenis tot mense met gestremdhede in Gauteng".
Een van die oogmerke van die seminaar was om die uitdagings uit te lig wat mense met gestremdhede daagliks te bowe moet kom. Die doelwitte was om platforms vir bemagtiging te vestig, die status van mense met gestremdhede te bevorder en te behou en om bewusmaking te skep van die regte, welstand, veiligheid en sekuriteit van gestremdes.
Daar is besluit om kanale te skep vir voortgesette, konstruktiewe gesprek en vir die daadwerklike inwerkingstelling van resolusies waaroor eenstemmigheid bereik is by die seminaar.
Een van die genooide afgevaardigdes was Rhulani Baloyi, 'n aktivis wat haar sterk idees met die gehoor gedeel het.
Baloyi het gesels oor die stigma wat kleef aan mense met gestremdhede - dat hulle beskou word as veeleisend en moeilike mense in die werkplek. Sy het afgevaardigdes genooi om ontslae te raak van die juk van selfbejammering.
"Dit is ons verantwoordelikheid om mense se persepsies oor ons te verander. Die doel is om gerespekteer te word, nie dat mense ons bejammer nie," het sy gesê.

Baloyi is self gestrem en het as blinde verskeie uitdagings oorkom. Sy het haar droom om 'n joernalis te wees nagevolg ondanks die swaarkry waarmee sy gekonfronteer is en het ‘n bekende radio- en TV-aanbieder by die SABC geword.
As voormalige mede-aanbieder van die SABC1-geselsprogram Shift, het sy uitgeblink daarin om mense se vooropgestelde idees en houdings teenoor mense met gestremdhede te verander en mense ‘n kykie te gee in die lewe van 'n gestremde.
Die seminaar is aangebied in pas met Artikel 118 van die Grondwet van Suid-Afrika, wat fokus op openbare toegang tot en betrokkenheid in provinsiale wetgwers. Op grond hiervan is die doelwit om dié seminaar te vestig as 'n voorkeur-forum vir die diskoers rondom die behoeftes van mense met gestremdhede.
Die Gautengse wetgewer het in die lig hiervan 'n deurslaggewende rol gespeel om deur interne bemagtiging by te dra tot die bemagtiging van eksterne deelnemers tot die gesprek.
Die wetgewer het in 'n persverklaring gesê die seminaar is gehou "om seker te maak dat mense met gestremdhede 'n aktiewe rol speel in die besluitnemingsprosesse van die wetgewer", veral wanneer dit kom by "die opstel van wette en besprekings wat gestremdes direk raak".
Op 'n praktiese vlak het die seminaar daartoe bygedra dat bepaalde onregverdige praktyke teenoor gestremdes en benarde omstandighede waarmee hulle soms gekonfronteer word, uitgelig is.
Een van die probleme wat byvoorbeeld geidentifiseer is, is die houding van lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens teenoor mense met gestremdhede.
Hoewel spesiale voorsiening deur die polisie gemaak word om gestremdes te akkommodeer, het dit tydens die seminaar aan die lig gekom dat daar geen toegewysde assistente vir mense met gestremdhede binne die polisiediens is wat die spesifieke behoeftes van gestremdes verstaan nie.
In 'n land met hoë misdaadvlakke, waar gestremdes dikwels deur oortreders as sagte teikens uitgesonder word, kan dit "uitdagend en vernederend" wees om ‘n misdaad by die polisie aan te meld.
Gestremdes se demokratiese regte word geskend wanneer blindes byvoorbeeld nie toepaslik bygestaan word in die identifisering van verdagtes tydens misdaadondersoeke en vervolging nie.

Afgevaardigdes by die seminaar het eenparig 'n voorstel aanvaar dat "SAPD-lede en polisiekantore opgelei en toegerus moet word met alternatiewe maatreëls omdat verskillende omstandighede vir gestremdes geakkommodeer moet word waar sake buite konvensionele prosedures ondersoek moet word".
Basies kom dit daarop neer dat dit nie vanselfsprekend aanvaar word dat meganismes in die samelewing almal noodwendig pas nie. Dit is duidelik dat allesomvattende voorsiening gemaak moet word om alle landsburgers te help, ongeag wie hulle is of wat hul vermoë is.
'n Ander gebied wat geidentifiseer is as kommerwekkend, is die van hoër onderwys en opleiding. Van die kwessies wat ter sprake gekom het, is dat "die taal in handboeke nie sensitief teenoor gestremdes is nie" en dat daar 'n tasbare "gebrek aan inligting oor mense met gestremdhede" in die sektor is.
gebrek aan leermateriaal, leergereedskap en bystandstoestelle vir verskillende gestremdhede
Daar is ook 'n "gebrek aan leermateriaal, leergereedskap en bystandstoestelle vir verskillende gestremdhede" wat verklaar waarom gestremde student soms op klasmaats moet staatmaak vir klasaantekeninge.
Die seminaar het daarom ook die besluit bekragtig dat "die Departement van Hoër Onderwys 'n verteenwoordiger uit die gemeenskap van gestremdes op daardie vlak moet hê" en "dat die regering moet toesien dat daar 'n verhoogde toeganklikheid vir gestremdes is by opvoedkundige instellings".
In gesprekke by die seminaar is dit ook benadruk dat daar sterk klem gelê moet word op die noodsaaklikheid van amptelike ingryping om seker te maak dat daar selfs op skoolvlak leerplanne moet wees oor verskillende gestremdhede.
In 'n verklaring wat na die seminaar uitgereik is, is dit beklemtoon dat "opleiding en bewusmaking van verskillende gestremdhede van kritieke belang is in ons gemeenskappe".
Uiteindelik is dit net deur bewusmaking en begrip dat ons die verband kan sien wat daar is tussen gestremdes wat hul eie ruimte in die gemeenskap opeis en die verlammende sielkundige effek van selfbejammering. Dit is deur bewusmaking en begrip dat gestremdes uiteindelik bemagtig word.
En dit is uiteindelik slegs deur die opheffing van mense met gestremdhede dat hulle waarlik suksesvol met die gemeenskap kan integreer - vry van stigma en ten volle bemagtig om ruimtes te deel met ander wat nie gestremd is nie.
Gelykheid - in al die verskillende variasies waarvan ons soms totaal onbewus is - is uiteindelik wat elkeen van ons verdien om te ervaar in ons daaglikse handel en wandel.















