Promosie

Die groot vergeet

Om ouer te word kan vervullend, maar ook uitdagend wees. Ouderdomsiektes, en meer spesifiek demensie, is vir baie 'n vreesaanjaende moontlikheid. Demensie is 'n breë term wat verskeie siektes insluit, waaronder Alzheimer se siekte. Dit raak nie net die persoon wat daaraan ly nie, maar ook familielede en vriende.

Alzheimer se siekte is in 2010 by die veteraanaktrise Wilna Snyman gediagnoseer. Haar dogter Lize van der Walt vertel: "My ma het in 2012 haar laaste optrede in die Civic-teater [in Johannesburg] gehad. Sy gaan stadig agteruit, sy het nie die vinnige soort nie. Ek sien my ma egter op 'n daaglikse basis en is meer bewus van hoe sy agteruitgaan as mense wat haar min sien.

"Daar is 'n hele paar tekens dat my ma die siekte het. Sy is nou 83 en haar korttermyngeheue is aangetas. Sy kan onthou wat in haar 20's gebeur het, maar alles wat in haar 50's, 60's en 70's gebeur het, is uitgevee. Sy weet dat sy vergeet. Sy het ook die manier om stories oor en oor te vertel, in so 'n mate dat ek haar somtyds moet stop omdat sy mense verveel.

"Sy ervaar depressie en is ook soms aggressief. Haar persoonlikheid het verander en sy ervaar wisselvallige emosies, van depressie tot irritasie. Haar siekte is in 'n vroeë stadium. Ons moes egter haar motorsleutels wegvat, want sy kan nie meer alleen bestuur nie, veral in die aand. Daaroor is sy baie kwaad. Ons moes ook vir haar 'n versorger kry, want sy bly alleen en vergeet byvoorbeeld die stoof aan. Sy is egter verskriklik eensaam en dit breek my hart om te sien dat die eens gewilde aktrise op haar oudag alleen is."

Ouma is nie haarself nie

Carina Stander, skrywer, digter, beeldhouer en skilder, se ouma het ook Alzheimer se siekte gehad. Sy vertel: "My ouma Anna het geleidelik begin vreemd optree. Sy het byvoorbeeld begin verwys na ‘die tyd toe ek nog 'n mens was'. In geselskap het sy glimlaggend, onbegrypend van een mens na die ander gekyk. Stadig het die blaartjie van ons af weggedryf."

Aan die begin het hulle gedink dis net vergeetagtigheid wanneer hul ouma tussen die slaapkamer en die badkamer verdwaal. "Sy kon onthou wat sy as kind geleer het, maar sy kon nie aldag haar eie kinders se name onthou nie."

Carina sê die oorgangsfase na Alzheimer se siekte is moeilik, maar daarna is daar "genade" vir die lyer, want hulle weet nie dat hulle nié weet nie. "Een oggend toe Ma koffie en beskuit vir Ouma in die bed vat, vind sy haar met die termosfles in haar arms. Met 'n skalkse glimlaggie het sy die nuus aan ons gebreek: ‘Kyk hier, ek het laas nag 'n babatjie gekry!' My arme ma was verpletter."

Carina was 12 jaar oud toe sy begin het om haar ouma te versorg. "Ses jaar lank, omdat ek íéts wou doen om dankie te sê dat sy my geleer het van rym toe haar verstand nog helder was. Buiten vir die vergeetsiekte was ouma Anna blakend gesond. Sy het nog vir jare lank met 'n kierie of 'n loopraam rondbeweeg. Eers op 88 moes sy 'n rolstoel gebruik en slegs die laaste maand van haar lewe was sy heeltemal bedlêend."

Die skrywer Annelie Ferreira vertel demensie is sowat vyf jaar gelede by haar ma gediagnoseer. "Dit was aanvanklik baie, baie swaar vir al haar kinders en kleinkinders. Soos sy ouer geword het, het my verhouding met haar in elk geval verander. Ouer mense is nie meer so veerkragtig nie, dis 'n normale proses.

"My ma was 'n intelligente vrou wat die beste van haar omstandighede probeer maak het. Sy het ná haar aftrede die tuine behartig in die kompleks waar sy gebly het. Toe sy in haar vroeë 80's daarmee opgehou het, het die demensie redelik vinnig duidelik geword. Dit was hartverskeurend om die verandering in haar te sien."

Geniet die snaakse oomblikke sonder om te spot en koester die oomblikke van helder herkenning met jou hele hart.

Dis meer as net vergeet

Stephanie Macilwaine, kliniese sielkundige met 'n spesiale belangstelling in neurosielkunde, verduidelik demensie is 'n sambreelterm vir neurodegeneratiewe siektes waarin kognitiewe vermoëns aangetas word.

"Die moderne term is neurokognitiewe versteurings, maar in die volksmond staan dit steeds as demensie bekend. Alzheimer se siekte is 'n spesifieke siekte wat die meerderheid van demensiesiektes veroorsaak. Dis ook belangrik om daarop te let dat 'n sekere mate van vergeetagtigheid normaal is tydens veroudering en dat dit nie noodwendig beteken dat 'n persoon demensie het nie. As dit 'n persoon egter bekommer, is dit belangrik om 'n professionele opinie in te win."

Volgens Stephanie is daar geen enkele bloedtoets of skandering waarmee demensie gediagnoseer word nie. "Ons maak hipotetiese diagnoses wat gegrond is op 'n deeglike kliniese onderhoud, radiologiese ondersoeke, bloedtoetse, kollaterale inligting en neuro-psigologiese evaluasies. Demensie kan slegs nadoods bevestig word."

Nog oorsake van demensie is vaskulêre siektes, MIV-infeksies, Lewy-liggaamsiekte, alkoholmisbruik, Prion se siekte, Parkinson se siekte, Huntington se siekte, fronto-temporale lobêre degenerasie en traumatiese breinbeserings.

"Demensie ontstaan gewoonlik ná 65-jarige ouderdom, maar kan soms vroeër ontstaan, veral waar dit geneties is of ná 'n breinbesering," sê Stephanie. "Die kliniese simptome van verskillende soorte demensie kan wissel. In die Alzheimer-tipe is klassieke simptome geheueprobleme, om te verdwaal en weg te raak en probleme om alledaagse voorwerpe te identifiseer.

"By die vaskulêre tipe word konsentrasie, beplanning- en redeneringsvaardighede en oordeel dikwels aangetas. Gedrags- en emosionele simptome soos aggressie, geïrriteerdheid, depressie, angs, visuele hallusinasies en paranoia is ook algemeen. Fisieke simptome sluit in stadige beweging, spraakprobleme, probleme om te loop, om dikwels te val en onvas op die voete te wees."

Begrip is nodig

Stephanie sê dis belangrik om hulp te kry by 'n psigiater wat in demensie spesialiseer.

"Gaan sien ook 'n neuroloog en sielkundige wat in neurosielkunde spesialiseer, want soms is daar ander redes vir kognitiewe en gedragsveranderinge. Depressie kan ook konsentrasie- en geheueprobleme veroorsaak."

Demensie word behandel met medikasie wat deur 'n neuroloog of neuropsigiater voorgeskryf word. "Medikasie kan help met die kognitiewe simptome, maar dit kan nie die proses vertraag of die siekte genees nie," maan Stephanie. "Ander simptome soos depressie, aggressie en psigose kan ook met medikasie behandel word. 'n Maatskaplike werker kan help met aspekte soos tuisversorging en arbeidsterapie, sowel as fisioterapie."

Só 'n diagnose kan oorweldigend wees, ook vir vriende en familie. "As jy in die vroeë stadium van die siekte is, gesels met mediese, finansiële en regspersone om alles in plek te kry," sê Stephanie. "Dit sluit in finansies, 'n testament en palliatiewe instruksies. Doen dit terwyl jy nog kán."

Om 'n geliefde met demensie te versorg kan eensaam en traumaties wees, voeg sy by. "Gevoelens soos hartseer, woede, skuld, angs en verwyt is normaal. Dis nogmaals belangrik om professionele hulp te kry. Probeer ook die gedrag van jou geliefde verstaan en begryp hoekom 'n roetine en struktuur belangrik is. Verder is dit nodig om vir jouself 'n ondersteuningstelsel te skep, want ‘omgeevoosheid' kan tot depressie en angs lei."

Carina sê 'n mens moenie van Alzheimerlyers verwag om sinvol op te tree nie. "Leer om hul andersoortige kyk na die werklikheid te waardeer. Geniet die snaakse oomblikke sonder om te spot en koester die oomblikke van helder herkenning met jou hele hart."

Annelie meen weer 'n mens moet ál die hulp kry wat jy kan. Hulle het haar ma in 'n versorgingsoord gesit. "Ná die aanvanklike moeilike aanpassing - die demensie het onmiddellik tydelik vererger weens angs - was die sosiale interaksie met die ander inwoners en versorgers baie goed vir my ma. Sy het erg vereensaam alleen in haar huis. My ma het ook baat by antidepressante gevind. Dit maak haar minder angstig, wat die demensie ook beter maak."

Karen Borochowitz, uitvoerende direkteur van Demensie Suid-Afrika, sê dis belangrik om by 'n punt van aanvaarding te kom en voorbereid te wees. "Elke persoon is anders en moet met soveel waardigheid en respek moontlik hanteer word. Hoewel dit moeilik mag wees om met gewone aktiwiteite voort te gaan, kan iets soos om familiefoto's te sorteer, tuin te maak of na musiek te luister steeds vreugde verskaf."

Jill Robson, Wes-Kaapse streeksbestuurder van Alzheimers Suid-Afrika, voeg by ondersteuningsgroepe se rol moenie onderskat word nie, want mense kan dáár vrae vra en mekaar steun. "Dit help om met mense te praat wat verstaan en presies weet waardeur jy gaan."

Sy vertel baie mense noem aan haar hul vriende verdwyn sodra Alzheimer se siekte gediagnoseer word. "Die persoon is anders en mense probeer nie om te verstaan of te help nie. Die persoon se geliefdes of huweliksmaat het ook baie steun nodig. Vriende moenie verdwyn nie, maar probeer verstaan, steun en luister. Klein dinge soos om by die pasiënt te sit terwyl die geliefde inkopies doen of 'n bietjie gholf gaan speel, kan 'n groot verskil maak.

"Vra mense wát hulle nodig het. Nie elkeen kan by 'n Alzheimerpasiënt sit nie, maar daar kan iets anders wees wat jy kan doen."

Hierdie artikel het in die someruitgawe van Taalgenoot verskyn. Taalgenoot is die amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Klik hier om in te teken.

Anne Marais

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM