Met die inperkingsregulasies wat ietwat verslap is, kan jy planne begin maak om dinge in en om Kaapstad te doen en interessante plekke te besoek wat voldoen aan die nodige Covid-19-veiligheidsprotokol.
CITY SIGHTSEEING

City Sightseeing se busse en bote loop volstoom in Kaapstad en jy kan daagliks van die diens gebruik maak.
Vanaf 16 Desember is daar 'n voldagtoer na Kaappunt, 'n dagtoer op die trem in Franschhoek asook 'n daglange toer in die wynlande.
Wanneer jy op die busse of bote klim, sal jy oplet dat al die nodige Covid-19-protokol in plek is. Om getalle te beperk is daar minder sitplekke op die busse, wat volledig ontsmet word soos mense deur die dag op- en afklim. Almal wat saamry moet maskers dra en City Sightseeing maak ook gebruik van 'n opspoordiens, sou daar 'n Covid-19-geval wees. Vir die volledige lys van toere, besoek www.citysightseeing.co.za/af/cape-town/were-open.
Wanneer: Daagliks
Prys: R179 (volwassenes) en R90 (kinders). Gesinspakkette: R390 (klassieke buskaartjies), R125 (hawebootrit) en R450 (klassieke bus- en hawebootritkaartjies). Die gesinspakkette is geldig vir twee volwassenes en twee kinders tussen die ouderdom van vier en 17.
Kaartjies: Koop aanlyn of op die dag van jou rit.
Meer inligting:www.citysightseeing.co.za
BABYLONSTOREN

Babylonstoren is oop en alle aktiwiteite is weer op dreef, maar natuurlik onder streng Covid-19-maatreëls. Wanneer jy die landgoed besoek, is die dra van maskers verpligtend. Getalle in openbare ruimtes word beperk, 'n gesonde afstand moet gehandhaaf word, temperatuurkontrole word gedoen, handreinigers is maklik beskikbaar (insluitende kontaklose handreiniger) en alle ruimtes - veral punte waaraan gereeld geraak word - word deurlopend ontsmet. Gelukkig bied die plaas baie oop ruimte, vars lug en natuurskoon - dinge wat in dié tyd selfs van groter waarde is.
Wanneer: Die tuin en plaaswinkel is daagliks oop van 09:00 tot 17:00. Babel-restaurant bedien daagliks ontbyt tussen 08:00 en 09:30, en aandete vanaf 19:00. Middagete word Woensdag tot Sondag vanaf 12:00 voorgesit. Die Glaskas-restaurant is daagliks tussen 10:00 en 16:00 oop en jy kan die proelokaal van 10:00 tot 17:00 gaan besoek.
Prys: Besoekers wat na Babylonstoren kom vir middagete of 'n tuintoer, moet by die hek toegangsgeld betaal. Op naweke en openbare vakansiedae beloop dit R20 per persoon en R10 per kind onder 12, maar op weeksdae kos dit R10 vir almal.
Kaartjies: Besoekers kan op die dag betaal.
Meer inligting: 021 863 3852 of enquiries@babylonstoren.com
* LEES OOK: Kersfees is weer Kersfees met dié gewilde Kaapse markte
* LEES OOK: Kweek jou eie groente tuis
TWEE OSEANE-AKWARIUM

'n Uitstappie na die Twee Oseane-akwarium is die ideale daguitstappie vir die hele gesin. Hier kan jy verskeie seediertjies en veel meer ervaar.
Die akwarium is in volle werking, maar sommige van die interaktiewe uitstallings is nog nie oop nie. Dae waarop die diere gevoer word, word ook nie geadverteer nie, om 'n samedromming van te veel mense in een ruimte te verhoed. Daar word steeds minder mense op 'n slag in die akwarium toegelaat as voor die Covid-19-pandemie. Die akwarium het pas sy Adventure Dive-opsies weer ingestel, maar die pikkewyn-ervarings is nog nie beskikbaar nie. Besoek www.aquarium.co.za/content/page/keeping-you-safe vir die Covid-19-veiligheidsprotokolle wat in plek is.
Wanneer: Daagliks van 09:30 tot 18:00 en naweke van 09:00 tot 18:00. Vanaf 26 Desember tot 10 Januarie geld verlengde ure en kan jy die akwarium van 09:00 tot 19:00 besoek.
Prys: R200 (volwassenes), R150 (kinders tussen 14 en 17 jaar), R95 (kinders tussen vier en 13 jaar), gratis toegang vir kinders onder vier jaar en R150 vir Suid-Afrikaanse pensionarisse en studente.
Kaartjies: Koop aanlyn by www.aquarium.co.za of op die dag by hul kaartjiekantoor. Hulle het voorsiening gemaak vir kontaklose betalings.
Meer inligting: 021 418 3823 of www.aquarium.co.za
KIRSTENBOSCH BOTANIESE TUIN

Die Kirstenbosch-tuine is 'n wonderlike plek waar kinders op die lowergroen grasperke kan speel of in die strome roei. Vir voetslaners is dit ideaal en dit is natuurlik ook een van die beste plekke vir 'n piekniek - bring jou eie piekniekmandjie of koop jou eetgoed by een van die restaurante.
Die tuine is oop vir die publiek, maar hul somerkonserte sal ongelukkig nie vanjaar plaasvind nie. Oor die veiligheid van jou gesondheid hoef jy jou nie te bekommer nie, want al die nodige Covid-19-protokolle is in plek. Met jou aankoms word jou temperatuur geneem en hande gereinig. Die dra van maskers is verpligtend.
Wanneer: Daagliks van 08:00 tot 17:00. Openbare vakansiedae ingesluit.
Prys: R75 (volwassenes), R20 (kinders tussen ses en 17) en gratis toegang vir kinders onder ses.
Kaartjies: Koop jou kaartjies aanlyn by www.webtickets.co.za of op die dag van jou besoek by die kaartjiekantoor.
Meer inligting: 021 799 8783, 021 799 8773 of www.sanbi.org/gardens/kirstenbosch/
WESKUS NASIONALE PARK

Die Weskus Nasionale Park bied 'n wonderwêreld wat jy nooit sou kon dink deel van Suid-Afrika kan wees nie.
Van die park se besienswaardighede sluit in die pragtige Preekstoel vir swem, die Atlantiese uitkykpunt en die asemrowende uitsig vanaf Tsaarbank. Die park is weer in volle werking, dus kan jy dit enige tyd besoek vir aktiwiteite soos swem, stap en wildbesigtiging vanuit jou motor. Wanneer jy by die park aankom, sal jou temperatuur by die hekke geneem word. Die dra van maskers is verpligtend.
Wanneer: Daagliks. Hektye is van 07:30 tot 19:00 (laaste toegang 18:30).
Prys: R66 per volwassene (12 en ouer), R33 vir kinders (twee tot 11 jaar)
Kaartjies: Tans hoef dagbesoeke nie vooraf bespreek te word nie. Gaan net na enige van die toegangshekke en betaal die toegangsfooi.
Meer inligting: 022 772 2144/5 of www.sanparks.org/parks/west_coast/

LOURENSFORD-MARK
http://pubads.g.doubleclick.net/gampad/clk?id=5546362077&iu=/8900/24.com/Web/Netwerk24
Lourensford-mark spog met 70 permanente stalletjies, asook 'n paar "pop-ups", om 'n interessante verskeidenheid van topgehalte-produkte aan markgangers te bied. Van smullekker kos, organiese goedheid en oorspronklike handgemaakte ware tot unieke kuns en musiekoptredes. Om by te dra tot die feestelike atmosfeer, is daar Lourensford se uitstekende reeks van wyne, sowel as koeldrank, koffie, bier en hardehout - iets vir almal om te geniet.
SIMPLY BEE

Simply Bee vir produkte met slegs natuurlike bestanddele soos byewas, fynbosheuning, propolis en essensiële olies uit die oorvloedige bronne van Moeder Natuur. Alle produkte is omgewingsvriendellik.
BUNCHES FOR AFRICA

Bunches for Africais jou eenstop-winkel vir blomme, geskenke, dekor en soveel meer oor die feestyd. Met besonderse handelsware, hulpbronne, kommoditeite, blomme, blommerangskikkings en persoonlike dienste vir troues, funksies en begrafnisse, streef hulle daarna om 'n onvergeetlike ervaring te skep vir diegene wat betrokke is en sal hulle jou feestafel meer kleurvol kan maak. By hul Papaz Bistro is daar spesiale aanbiedinge wanneer jy kom inloer vir 'n koppie koffie. Dit is ook 'n gewilde lokaal vir 'n bruidstee, ooievaarspartytjies, verjaarsdae en vele meer.

SKILPAD-TEATER
By Skilpad-teater kom kuier Brendan Peyper, bekend vir treffers soos "Stop wag bly nog 'n bietjie", "Tafelberg vir twee" en "Lekkerder op my Trekker", met sy band op Sondag 13 Desember.
Pak 'n piekniekmandjie of bestel een aanlyn en bring die familie vir 'n uitstappie tussen die berge en appelbome van Vyeboom.
'n Kontantkroeg is beskikbaar en geen eie drinkgoed word toegelaat nie.
* Pryse was korrek teen druktyd, maar bevestig dit self by die instansie voor jou besoek.












