Promosie

Dwaalkoeëls en doodloopstrate

In die beknopte tweevertrekwoonstel in Westbury, Johannesburg, hang 'n verbleikte namaaksel van Die laaste Avondmaal. Jesus in die middel en weerskante sy 12 dissipels. Maar in hierdie vervalle gebou, waar vier mans skuiling teen die moordende son soek, word daar nie brood gebreek en wyn gedrink nie.

'n Gebreekte bottelnek kom na vore.

"Stop daai ding, my broe'!" sê Fika.

Sy hemp is verslete en sy hare deurmekaar, maar sy oë brand so helder soos die Bic-aansteker se vlam wanneer hy die bottelnek na sy mond bring en 'n diep teug vat. Op die oorkantste muur is daar 'n skildery van Maria en die baba Jesus wat skynbaar hartseer toekyk.

Fika bol sy wange en die wit rookpluim stroom by sy neus en mond uit en gaan hang baldadig teen die plafon, terwyl sy makker Reezoo sake met gevoude arms bekyk.

"Bring daai glas laat ons hom chase!" roep nog een opgewonde.

'n Tikpyp kom te voorskyn. Die groep stuur dié ook om, totdat dit weer by die fireman (die een wat die pyp opgesteek het) eindig. Die groep mans sit agteroor, hul oë wasig soos die bleekwit dwelmmiddel wat hulle oomblikke tevore brandgesteek het.

"Ja, my broe'," sê Reezo ná 'n paar oomblikke van stilte, "ons hier in Westbury is almal dissipels van die dwelm, maar in plaas daarvan dat ons vir Jesus volg, volg ons vir Judas".

Fika beaam dit. "Dit is my ondergang. Dit is al my broers hier se ondergang."

"Saluut!" roep die groep gelyk uit.

"My geloof is te swak om hierdie ding te los," sê Reezo. "Ek gaan nie kerk toe nie. Ek het myself verloor. Ek is soos 'n blaar aan 'n boom. Daai blaar gaan eventually uitdroog en afval."

'n Bendelid spog met sy tatoes. Die strate in Westbury word deur twee bendes, die Vardos en die Fast Guns regeer. Foto: André Badenhorst
'n Bendelid spog met sy tatoes. Die strate in Westbury word deur twee bendes, die Vardos en die Fast Guns regeer. Foto: André Badenhorst

"Ons is gatvol"

Jy kom agter dwelms is hier meer as net 'n verslawing. Dit is die moordenaar wat ma's by die grafte van hul kinders laat ween. Dit is die bendes se dwaalkoeëls wat vroue in die strate laat sterf. Dit is die demoon wat sy tande in mans met kinders soos Fika en Reezo inslaan en verslind.

"Ons is gatvol," sê Caswell Snyders (36). "Ek het saam met hierdie manne grootgeword. Dit breek 'n man se hart om te sien hoe hul lewens deur mandrax en tik oorheers word."

Casswell en sy vriend Clinton Stols (34) werk by die plaaslike jeugsentrum, waar hulle nuwe geleenthede en 'n uitkomkans vir die jeug probeer skep. Hulle was aan die voorpunt van die #TotalShutdown-veldtog, waartydens inwoners van dié woonbuurt in Oktober 2018 'n protesoptog teen bendegeweld gehou het en "algehele oorlog" teen die dwelmbase verklaar het. Dit het gespruit uit die dood van die 45-jarige Heather Peterson, wat in bendelede se kruisvuur beland het.

"Die feestyd kom nader en ons is moeg," sê Caswell. "Ons wil nie in vrees lewe en te bang wees om by ons voordeur uit te gaan nie. Daar was 'n tyd toe jy geweet het in wintertyd is jy nie ná vyf in die strate nie. Jy het presies geweet wie gaan op wie skiet en waar.

"Deesdae het dit nie meer 'n gesig nie. Dit is onvoorspelbaar."

Westbury word deur twee bendefaksies regeer, die Varados, ook bekend as die Spaldings, en die Fast Guns. "Die Fast Guns is jou ouens met geld," vertel Caswell. "Hulle is gesiene mense in die gemeenskap. Hulle is betrokke by die kerke en die NGOs, terwyl die Varados tronkvoëls is. Jou hard living-ouens wat 'n boemelaarsbestaan voer.

"Hierdie is die drug capital van Johannesburg. Ek het vriende wat drug dealers geword het, en hulle het binne die eerste nege maande hul eerste miljoen gemaak."

Caswell Snyders, 'n jeugleier van Westbury, was aan die voorpunt van die #TOTALSHUTDOWN-VELDTOG. Foto: André Badenhorst
Caswell Snyders, 'n jeugleier van Westbury, was aan die voorpunt van die #TOTALSHUTDOWN-VELDTOG. Foto: André Badenhorst

Caswell was ook 'n bendelid. Hy wys na sy tronktatoe, 'n slordige spatsel "VC" op sy binne-arm. "Dit staan vir Varados Cortette. Ek was deel van die Varados en het self in die tjoekie gemang [om gevangenisstraf uit te dien].

"As jy deel van die bendes is, is jy nie bang om tronk toe te gaan nie. Jy weet daar sal na jou gekyk word en dwelms sal vir jou in die tronk ingesmokkel word. Kom jy tien jaar later uit die tronk uit vir 'n moord of dwelmhandel, ken jy nie van iets anders nie en word jy net weer in die bende se ranks opgeneem.

"Ek wou net nie meer daardie lifestyle lei nie. Ek kan vir jou môre 'n drug dealer of 'n gangster word. Ek het die gedagte en ek het die krag om dit te doen, maar die Here het vir my 'n vrou en kinders gegee. Twee mooi kinders.

"Hoekom is ek op hierdie aarde gesit? Om 'n verskil te maak. Om ons youth op die regte pad te kry."

Jy besef gou dat geloof vir hierdie mense die laaste uitweg bied. Die laaste greintjie hoop om uit hul haglike omstandighede te kan ontsnap.

"Hulle sê mos ons bruin mense het nie 'n kultuur nie," sê Caswell. "Ons hét 'n kultuur. Ons kultuur is om God te vrees. Onse oumas en oupas se vakke op skool was Bybelkunde. Hulle was godvresende mense. Deesdae dink elke tweede drug lord hy is god.

Jy het mos geen kans om uit omstandighede soos hierdie te ontsnap nie. Dit is 'n bose kringloop.

"Want jy sien, ons bruin mense is steeds in the pursuit of happiness. Ons het nog nooit, selfs ná 1994, happiness gevind nie en ons soek wat ons buurman het. Ek het nie, so ek gaan vat. Ek soek daai kar, ek gaan hom steel, maar ons almal lewe nie só nie. Daar is van ons wat 'n verskil wil maak, en dit is ons jeug wat leiding moet neem en mekaar moet help."

Die beknopte woonstelblok staan bekend as "die flats". Die meeste van die eenhede is dwelmhole en in sommige woonstelletjies bly tot tien mense. Foto: André Badenhorst
Die beknopte woonstelblok staan bekend as "die flats". Die meeste van die eenhede is dwelmhole en in sommige woonstelletjies bly tot tien mense. Foto: André Badenhorst

"Hoe kan 'n mens só lewe?"

Ons stap saam met Caswell en Clinton tussen die woonstelgeboue deur wat as "die flats" bekendstaan.

"Hoe kan 'n mens só lewe?" sê Clinton terwyl 'n vrou met 'n sigaret in haar hand ons agterdogtig dophou. "Die mense hier lewe in terrible conditions. Jy sit hier met tot tien mense wat saam in een woonstel bly. In die aande dans die poppe. Dan is almal op drugs en gereed om te speen [steel en roof].

"Jy het mos geen kans om uit omstandighede soos hierdie te ontsnap nie. Dit is 'n bose kringloop."

By een van die eenhede loer nuuskierige ogies tussen verslete gordyne uit. 'n Hand skuif die gordyn weg om beter te kan sien. Binne is daar 'n geskel. Die gesiggie met die snotbel op sy bolip verdwyn vinnig agter die flenters materiaal.

Ons klop aan en 'n vrou maak oop. Agter haar staan die seuntjie saam met vier van sy sibbe, almal se oë op die vreemde mense gevestig. Die klein tweevertrekwoonstel is huis vir ses mense. In die voorkamer staan 'n klein buistelevisiestel waarop Dr. Phil sy wyshede kwytraak. Vier beddens staan in die volgende vertrek, terwyl 'n walglike reuk van die badkamer by jou neusgate inkruip.

"Nie ek of my man het werk nie," vertel die vrou. "Ons lewe op ons Sassa-kaarte. Ons probeer net ons kinders grootmaak en van die bendes weghou. Gisteraand was daar weer 'n geskietery in een van die flats. As dit gebeur sê ek vir die kinders om onder die bed weg te kruip. Jy weet nooit of een van die koeëls sommer hier deur jou huis kan kom nie."

"This place gets ruled by the gun," sê Clinton terwyl ons in een van die hoofstrate 'n koeldrank en pastei koop. 'n Vrou kom met inkopiesakkies verby gestap. Sy loop soos iemand met lood in haar skoene en vermy oogkontak. "Haar kind is 'n paar weke terug deur die bendes doodgeskiet. Hy was maar vier jaar oud," vertel Clinton. "Dit was weer 'n geval waar die meisietjie in die crossfire vasgevang is."

Af in die straat sit 'n groepie tieners wat nog op die skoolbanke moet wees. 'n Polisievangwa kom verby gekruie en een van die jongelinge spring op om iets vir die manne in blou aan te gee.

"Sien jy daai?" sê Caswell en skud sy kop. "Daar was nou net 'n transaction. Die polieste is op die payroll en kyk anderkant toe. Al daai laaities is in die Fast Guns en smous op daardie hoek."

"Haar kind is 'n paar weke terug deur die bendes doodgeskiet. Hy was maar vier jaar oud," vertel Clinton. "Dit was weer 'n geval van die dogtertjie was in die crossfire"

Op in die straat sit 'n kaalkop man agter sy groentestalletjie. David Mentoor (55) groet beleefd toe ons by hom aansluit. "Ja, jy sien, dit was nie altyd só nie," sê hy. "In die tagtigs en die negentigs het die Spaldings en die Fast Guns mekaar met messe en pangas gekap, maar hulle het respek vir vroue en kinders gehad. Deesdae gee hulle nie om wie sterf nie.

"As ek hier sit en ek hoor geweerskote daarbo, dan maak ek myself klein en verdwyn in my huis in. Ek sien gereeld hoe hulle losbrand op mekaar, en waar los dit vir my? Moet ek ook maar 'n geweer kry en die gunfight join?"

'n Ouerige vrou met 'n geblomde bloes keer ons voor met 'n pamflet. Sy en haar kerkgroep gaan 'n biduur teen die dwelms in hul gemeenskap hou. "Dit raak nou te erg," sê sy. "Ons verloor ons kinders aan dié duiwel."

Sy wil nie haar naam noem nie. "Ek is te bang. Mense sien klaar ek praat met julle. Hulle gaan vrae vra."

Sy verdwyn in die gemaal sonder om te groet.

"Dink aan Westbury as Israel," sê Casswell. "Dit was nog die heeltyd ongenaakbaar en onaantasbaar wanneer dit by die bendes en ons dwelmprobleem kom, en dit gaan só bly as ons nie vir ons self begin opstaan nie."

David Mentoor het al baie bendegeweld in sy lewe. Hy bedryf 'n groentestalletjie langs die pad en wanneer die skote begin klap, maak hy seker dat hy skuiling soek. Foto: André Badenhorst
David Mentoor het al baie bendegeweld in sy lewe. Hy bedryf 'n groentestalletjie langs die pad en wanneer die skote begin klap, maak hy seker dat hy skuiling soek. Foto: André Badenhorst

Hierdie artikel het in die someruitgawe van Taalgenoot verskyn. Taalgenoot is die amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Klik hier om jou kopie te bestel.

Jacques Myburgh

Jacques Myburgh

Jacques is a journalist based in Johannesburg, he works for Huisgenoot. He's won an ATKV-Mediaveertjie and a Vodacom Journalist of the Year award.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM