
Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die politieke party. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produk nie.
Woensdag 29 Mei 2024 gaan die mees beslissende dag in Suid-Afrika se geskiedenis wees sedert die ontstaan van ons demokrasie. Die besluit wat ons op stemdag as 'n nasie neem, sal oor die volgende paar dekades 'n geweldige uitwerking op die lewens en lewensmiddele van alle inwoners hê.
Vir die eerste keer in 30 jaar staan die ANC op die punt om sy meerderheid te verloor. Dit beteken dat daar 'n haalbare kans is om SA van ANC-georkestreerde agteruitgang te red en die land op die suksespad te plaas, waar alle kinders veilig grootword, hul skoolopleiding voltooi en daarna gaan studeer of werk.
Wanneer jy jare van nou af op hierdie dag terugkyk, sal dit duidelik wees vir wie jy moes stem. Die wysheid van nawete bring duidelikheid, maar jy kan slegs lewens red en lyding voorkom deur die toekoms in ag te neem. Dit is nie 'n besluit wat ligtelik geneem moet word nie. As jy 'n hart het, moet jy die bewyse oorweeg en met jou kop stem.
Watter party is in staat om werk te skep, skoon water, betroubare elektrisiteit en gehalte-onderwys en -gesondheidsorg te lewer en gemeenskappe te beveilig? Watter party bied die beste verdediging teen 'n oordeelsdag-koalisie tussen die ANC, EFF en MK, gesteun deur die Patriotic Alliance? Dit is die twee belangrikste vrae - en die antwoord is onteenseglik die Demokratiese Alliansie (DA).
Dade tel meer as woorde. Die DA is die enigste politieke party met 'n sterk, volgehoue rekord van dienslewering in die regering. In die plekke waar die DA regeer - waaronder die Wes-Kaap, uMngeni, Kaapstad, Tshwane en Midvaal - toon hulle reeds hul vermoë om topprioriteite, soos uiteengesit in hul verkiesingsmanifes, in tasbare uitkomste te verander tot voordeel van almal.
Neem byvoorbeeld hul belofte om twee miljoen werksgeleenthede te skep. Kaapstad het sedert die begin van die plaaslike regeringstermyn (kwartaal 1 2022 - kwartaal 1 2024) 316 000 nuwe poste geskep. As die DA dit binne die huidige ekonomiese beleidsraamwerk van die ANC kon vermag, wat vyandig teenoor belegging staan, dink net aan al die moontlikhede van 'n nuwe DA-beleidsraamwerk waar belegging verwelkom word eerder as om dit te vervreem. Verder is daar 'n bestaande raamwerk vir die DA se ekonomiese beleide waarvan die koste reeds bereken is. Wanneer hulle dus verklaar dat hulle twee miljoen werksgeleenthede kan skep, kan die DA dit met die nodige syfers staaf.
En dit is nie net in Kaapstad waar die DA werk skep nie. Die Midvaal-munisipaliteit toon konsekwent die laagste werkloosheidsyfer in Gauteng, terwyl breë werkloosheid in die Wes-Kaap 15,8 persentasiepunte laer is as die nasionale gemiddelde. Hul benadering tot werkskepping is 'n stelsel van ondernemingsvryheid om groei te genereer, wat ongetwyfeld werk.
Die DA se belofte om beurtkrag en wateronderbrekings te beëindig is net so geloofwaardig, gegewe die vordering wat reeds gemaak is in die gebiede waar hulle regeer. Die Stad Kaapstad beskerm reeds inwoners teen tot twee beurtkragfases, en betaal huishoudings en ondernemings kontant vir die oortollige energie wat hulle opwek. Oor die volgende drie jaar sal R39 miljard in infrastruktuur belê word. Dit is meer as Johannesburg en eThekwini tesame, en die grootste deel daarvan sal aan betroubare watervoorsiening en waardige sanitasie in die armste en snelgroeiendste stadsgebiede bestee word.
Al het die Wes-Kaap 'n beperkte mandaat en begroting om misdaad te bekamp, is 1 200 wetstoepassingsbeamptes in misdaadbrandpunte ontplooi. Hierdie LEAP-beamptes het tot dusver meer as 27 000 inhegtenisnemings gedoen en meer as 550 onwettige vuurwapens van die strate verwyder, wat die misdaadsyfer in gebiede soos Delft, Atlantis en Kraaifontein laat daal het. Hierdie tasbare optrede saam met aktiewe landelike veiligheid- en K9-eenhede, toon die DA se diep verbintenis daartoe om hul belofte om SA se geweldsmisdaadsyfer te halveer, na te kom.
As jy gemoedsrus wil hê dat jou regering alles in die stryd sal werp om 'n gehalte-opvoeding aan elke kind te gee, kyk gerus na die Wes-Kaap se Rapid School Build-program, wat sedert 2019 'n indrukwekkende 2 217 nuwe klaskamers gebou het. Die nuutste skool is in net 71 dae voltooi. Jy het nie 'n meer tasbare bewys as dit nodig nie.
Eweneens is hul intensiewe regstryd om kaderontplooiing af te skaf en dit met merietegebaseerde aanstellings te vervang, 'n onweerlegbare bewys van hul verbintenis tot die bou van 'n bekwame staat wat almal se behoeftes in ag neem.
Die DA is ook die enigste party wat grondige bewyse kan lewer dat belastingbetalersgeld in die openbare belang bestee sal word. Vanjaar het die Wes-Kaap skoon ouditverslae van die ouditeur-generaal ontvang vir 100% van sy 14 departemente en 11 entiteite. Midvaal het sy 10de agtereenvolgende skoon oudit ontvang, en uMngeni sy tweede - net 12 maande nadat die DA die munisipaliteit by die ANC oorgeneem het.
Enige party kan beweer dat hulle die reëls nakom, goed regeer en werk skep. Net die DA kan dit bewys. As die grootste opposisieparty is hulle ook jou beste versekering teen 'n ANC-EFF-MK-koalisie, wat 'n lewensgevaarlike bedreiging vir die voortbestaan van Suid-Afrika se demokrasie inhou. Dit is nie nou die tyd om die opposisie te verdeel nie.
Stem is 'n belangrike besluit wat warm harte en koel koppe vereis. Realisties gesproke, is die DA die land se beste hoop, en net 'n sterk DA kan SA van ondergang red. Dade tel meer as woorde. As jy SA wil red, is die kragtigste manier om vir die DA te stem.
















