Promosie

Gesoek: 2025 se Matrikulant van die Jaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Inskrywings vir 2025 se Matrikulant van die Jaar is nou oop. Van links is Charles Smith (nuusredakteur, Netwerk24 Sentraal), Jayden Leech (2024 se wenner) en prof. Hester Klopper (prinsipaal en vise-kanselier van die UV).Foto: VERSKAF
Inskrywings vir 2025 se Matrikulant van die Jaar is nou oop. Van links is Charles Smith (nuusredakteur, Netwerk24 Sentraal), Jayden Leech (2024 se wenner) en prof. Hester Klopper (prinsipaal en vise-kanselier van die UV).Foto: VERSKAF

Jayden Leech, die wenner van verlede jaar se Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat, Netwerk24 en Volksblad, sê sy deelname het die oorgang na universiteit baie vergemaklik.

"Dit het my ouers baie geld gespaar en dit maak elke dag vir my deure oop. Dit het my lewe drasties ten goede verander," sê dié oudleerling van Grey-kollege in Bloemfontein.

Hy moedig voornemende Kovsie-studente aan om hulle vir die kompetisie in te skryf. Veelsydige matrikulante wat op akademiese, sport-, kultuur- en leierskap-gebied presteer, kan hulle nou vir vanjaar se kompetisie inskryf.

Jayden geniet sy mediese studie baie, al is dit nog vroeg in die jaar.

"Dit is baie anders as skool. 'n Mens is meer ontspanne, want dit is in jou hande om jou vakke te slaag."

Hy is ook steeds vriende met die 13 finaliste wat verlede jaar saam met hom aan die eindronde in Bloemfontein deelgeneem het.

Op skool het Jayden graag aan sport deelgeneem. Hy het uitgeblink in karate, hokkie en waterpolo. Hoewel sy studies beteken dat sy program betreklik vol is, maak hy steeds tyd om hokkie by Grey-kollege af te rig en speel hy ook nog self hokkie.

"Dit maak my wel meer besig, maar ek het dit nodig; dit hou my kop reg," verduidelik hy.

Hoewel dit nog vroeg in die jaar is, kry hulle reeds weekliks drie werkstukke om te doen. Jayden, wat nog nooit aan uitstel geglo het nie, pak dit aan soos hy alles aanpak - doen dit nou, dan is dit klaar.

Skryf só in

Matrikulante van oor die land heen wat van voorneme is om volgende jaar aan die UV te studeer, kan hulle vir die kompetisie inskryf.

Danksy die borge van die kompetisie - UV Studentewerwingsdienste, die Kovsie-Alumnitrust, Forvis Mazars (ook die amptelike ouditeurs van die kompetisie), Absa en Pick n Pay Preller Walk - is beurse en prysgeld ter waarde van meer as R500 000 op die spel vir die 25 topdeelnemers.

Leerlinge kan hulself inskryf of hul skole kan hulle inskryf. Dit is egter belangrik dat die vorm die handtekening van die skoolhoof en die stempel van die skool bevat.

Kandidate word beoordeel op grond van 'n stel kriteria wat oor jare verfyn is. Altesame 25 semifinaliste, waaruit eindelik 14 finaliste gekies word, word aangewys. Die eindronde vind van 13 tot 15 Oktober in Bloemfontein plaas.

Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge, beurse van UV Studentewerwingsdienste, en geskenke ter waarde van R15 000 tydens die eindronde.

Vir die 11 semifinaliste is daar steeds erkenning. Hulle ontvang prysgeld van die Kovsie-Alumnitrust en beurse van UV Studentewerwing.

Inskrywings moet die UV teen Vrydag 1 Augustus bereik. Vir inskryfvorms of verdere inligting, kontak Linda Greyling per e-pos by greylinl@ufs.ac.za.

Siska Martin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM