
Of jou kind nou voorskool of in matriek is, of sy nou Afrikaans Huistaal neem of Afrikaans Eerste Addisionele Taal, Afrikaans.com se leerhulpafdeling is saam met kundiges ontwikkel om ouers, onderwysers en leerders te ondersteun.
Die afdeling word voortdurend uitgebrei met nuwe materiaal om leerders by te staan. In Afrikaans.com se leerhulpafdeling kan jy kies uit praktiese en aflaaibare hulpbronne, lesplanne, studiegidse, artikels en interaktiewe materiaal wat moedertaalonderrig bevorder en Afrikaans in die klaskamer en tuis ondersteun.
Een voorbeeld van die nuttige inligting wat beskikbaar is, is hul CuraParent-matriekklaskamer. Dit is PowerPoint-aanbiedings wat matrieks se eksamenvoorbereiding beslis makliker sal maak.
Eksamenwenke vir ouers en matrieks
Met die matriek-eindeksamen wat om die draai is, het dr Cecilia Klopper, skepper van Afrikaans.com se matriekklaskamer, die volgende wenke vir ouers om hul kinders in hierdie spanningsvolle tyd by te staan.
- Skep 'n rustige leerklimaat en 'n stil plek waar ongestoord gestudeer kan word.
- Sorg dat jou kind riglyne en hulpbronne vir letterkunde en taalkonvensies tot sy beskikking het - Afrikaans.com se matriekklaskamer is perfek hiervoor.
- Maak seker jou kind het toegang tot die internet sodat hy of sy die gratis hulpbronne wat beskikbaar is, kan aflaai.
- Sien toe dat jou kind genoeg slaap, gesonde kos en aanvullings, indien nodig, inneem en gereeld oefening doen.
- Indien jou kind probleme met skoolwerk ondervind, reël onmiddellik ekstra hulp.
- Identifiseer angs en depressie betyds en tree daadwerklik op.
Raad vir matrieks
- Moenie uitstel nie. Beplan vooruit en begin reeds op dag EEN jou werk organiseer en bemeester.
- Begin jou voorgeskrewe letterkundeboeke dadelik lees en opsom.
- Indien jy hulp nodig het, stel jou ouers in kennis.
Beplan só
- Gebruik 'n jaarplan en bring alle belangrike datums daarop aan sodat jy met een oogopslag die hele maand se aktiwiteite kan sien en daarvolgens beplan.
- Organiseer jou los bladsye in afsonderlike lêers - een vir elke vak - en hou alle aantekeninge bymekaar.
- Laai ou vraestelle van die afgelope drie jaar gratis af, beantwoord dit en vergelyk jou antwoorde met die memorandums. Só leer jy uit jou foute en kan jy dit dadelik regstel. Nuttige webtuistes om te gebruik: https://www.afrikaans.com; https://www.education.gov.za.
- Let op hoe vrae gestel word en wat as antwoord verwag word. Kyk ook na die puntetellings.
- Daar behoort twee stelle vraestelle vir elke jaar te wees - Mei/Junie en November. Laai vraestelle 1, 2 en 3 met hul memoranda af.
- Hersien jou werk in klein dele - net wat jy binne 15 tot 30 minute per dag kan baasraak.
Berei só vir Afrikaans voor
Vir spesifieke voorbereiding vir die vraestelle in Afrikaans Huistaal en Afrikaans Eerste Addisionele Taal, lees die volgende artikel op Afrikaans.com: Eksamenvoorbereiding: Afrikaans Huistaal en Afrikaans Eerste Addisionele Taal. - Afrikaans.com.
Hersiening
Om jou te help met hersiening, gaan na Afrikaans.com se leerhulpafdeling, kies die hoërskoolkategorie en klik op kurrikulumgebaseerde PowerPoint-aanbiedings om by die matriekklaskamer uit te kom: Matriekklaskamer - Leerhulp (afrikaans.com)
Kry alles hier
Afrikaans.com nooi jou uit: Verken hul Leerhulpafdeling by Tuis - Leerhulp (afrikaans.com).
















