
Geheime, intrige, bedrog, rugstekery en hope drama is alles bestanddele vir 'n suksesvolle telenovelle wat kykers se aandag boei en ongeduldig op die volgende episode laat wag. En e.tv se eerste plaaslik vervaardigde Afrikaanse daaglikse drama Kelders van Geheime is propvol raaisels en geheime wat al geslagte lank verborge is.
Net toe ons dink die bestuur van die plaas verloop vlot, hervat Charl sr. (Nic de Jager) se kanker en hy sterf. Nou is die naels en die messe uit, want wie gaan sy opvolger wees? Watter geheime is in sy testament opgesluit? Daar gaan nog baie versteekte waarhede aan die lig kom wat die plaas, sy inwoners en die gemeenskap se toekoms en verhoudings kan bedreig.
Wat jy moet weet
Die reeks met geliefde akteurs handel oor die wel en wee van 'n gemeenskap wat op Soebatskloof, 'n wynplaas in die Boland, woon, en fokus op drie families: die Abrahamse, Systers en Marais's. Hierdie families moet saamstaan, saamstem, en bowenal saamwerk om hul brood en botter - en 'n glas wyn! - te verdien. Maar soos die lewe maar is, kom struikelblokke altyd voor. Veral wanneer elkeen sy eie geheime probeer wegsteek.
Ontmoet die families
Die Marais-familie
Charl Marais sr. (Nic de Jager) is die eienaar van die wynplaas Soebatskloof waar die Marais-familie al dekades lank woon. Hermien Marais (Sandra Prinsloo), Charl sr. se tweede vrou, hou haarself met beeldhouwerk besig.
Tjoppie Marais (Geon Nel) is Hermien se seun uit haar eerste huwelik. Tjoppie het saam met Charl sr. se kinders uit sy eerste huwelik grootgeword. Charl Marais jr. (David Chevers) woon in Londen, en Annette Fourie (Ashley de Lange) bly in Australië saam met haar rugbyspeler-man, Du Toit Fourie (Zak Hendrikz). Lynn Fourie (Illse Roos) is Du Toit se "Sosiale Vlinder van die Wynland"-mamma.
Veronique (Rushney Ferguson), Tjoppie se vrou, bestuur die restaurant op die plaas. CJ (Angelo Johnson), die egpaar se oudste kind, is vanjaar 'n matrikulant by Simonsvallei Gimnasium, waar Marco (Angelo Bergh), die egpaar se jongste, nou in graad 11 is.
Die Abrahams-familie
Edmund Abrahams (Duane Williams) is die wynmaker op Soebatskloof, en Nenna Abrahams (Vinette Ebrahim) is die afgetrede huishoudster en gasvryheidsbestuurder vir wie Edmund "ma" noem.
Die Syster-familie
Joey Syster (Cedwyn Joel) is die patriarg van dié familie en woon en werk al sy hele lewe lank op Soebatskloof. Sandy (Riana Alfreds) is Joey se dogter wat Nenna se verantwoordelikhede oorgeneem het. Sandy se oudste dogter, Debbie-Lee (Veronique Jephtas), werk saam met haar, terwyl haar jongste, Shireen (Vashti Prins), haarself as 'n algemene praktisyn in die Wynland vestig. Phillip Smith (Dean Balie) is die man in Debbie-Lee se lewe.
Die "helpers" weet dalk die meeste . . .
'n Mens hoef nie in hierdie geweste jou oë na die berge op te slaan vir hulp nie! Rijk Nel (Marcel van Heerden) is die Marais-familie se rekenmeester, en Dewald Piedt (Abduragman Adams) die familie se getroue prokureur. En hulp het die gemeenskap van Soebatskloof nou broodnodig.
Ander karakters wat deel is van die gemeenskap op die wynplaas, is Mercy (Tyral-Lee Miggels), Gabby (Karli Heine), Jason (Ben Albertyn) en Armand (Robert Hindley), die kelners wat kliënte gelukkig hou. Stil Piet (Jurgen McEwan), Bismarck (Lorenzo Syster), Napoleon (Ivan Abrahams) en Nicodemus (Jason van Wyk) is van die werkers op die bedrywige plaas en in een van talle verrassende wendings, maak Brümilda van Rensburg ook 'n draai op die plaas.
Kyk saam, raai saam wie wat wegsteek, en raak verlore in die kelders vol geheime op Soebatskloof! #Keldersvangeheime.














