Michelle Botes gesels oor haar terugkeer na kykNET se sepie Binnelanders en laat val 'n paar dinge wat vir Ingrid voorlê.
Ons het met die aktrise Michelle Botes gesels wat terug is op die kassie as Ingrid, die voormalige vrou van die onderduimse dokter At Koster, vertolk deur Hans Strydom.

Hoe het Ingrid verander sedert ons haar laas gesien het?
Ingrid het haar pad geloop deur kanker en egskeiding en kykers het dit saam met haar beleef tydens haar tyd by Binnelanders. Sy sit nou sonder 'n enkele sent op haar naam en is terug . . . wyser, minder materialisties maar so giftig soos altyd. Hulle sê jy kan mense nie verander nie en dit is beslis die geval met Ingrid Jordaan. Sy is steeds 'n vegter, maar sy het 'n voorkeur om die buiteperd te ondersteun. Sy is ook bietjie meer nederig en dankbaar vir die geliefdes wat sy in haar lewe het. Sy moet nou van vooraf begin om 'n lewe vir haarself te skep, maar sy is hopelik nie vir te lank 'n alleenloper nie.
Is daar enige ooreenkomste tussen jou en jou karakter?
Ons is albei gestroop van baie eksterne dinge - aardse goed - maar ons kyk albei met 'n nuwe perspektief na die lewe en met 'n oop hart na die lewe wat ons wil lei.
Hoe was dit om terug te wees op Binnelanders se stel?
Dit was soos om weer jou gunsteling warm baadjie te ontdek. Die eerste dag terug was senutergend en onverwags wonderlik. Ek dink ek het dit opnuut ontdek hoe om te speel en ook weer my liefde herontdek vir hierdie bedryf wat ons die geleentheid bied om elke dag te speel.
Jy is bekend vir verskeie sepierolle. Wat is dit van sepies waarvan jy hou?
Dat dit 'n vasgestelde skedule het en ek my kinders van die huis af kon grootmaak was nog altyd vir my 'n groot aantrekkingskrag van dié genre. As 'n introvert voel ek ook veiliger om myself te laat gaan tussen 'n bekende span en akteurs. Dit is die stabiliteit en die inherente veiligheid van die genre wat my keer op keer teruglok. Dit was nog altyd vir my maklik om dapper te wees en die onbekende aan te pak in 'n bekende omgewing - die roetine, akteurs en storielyne - en om te laat gaan sodat ek myself nóg dieper in die werk kan ingooi.
Is daar iets van Binnelanders se stel wat ons nie weet nie wat jy mag deel?
Kykers dink dalk die akteurs kan kies watter klere hulle wil aantrek. Dis glad nie die geval nie! 'n Opgeleide groep mense in die kostuumdepartement ontwikkel 'n karakter se styl en modesin en jy moet jou beste doen om dit deur jou karakter uit te beeld. Ek was nog altyd gelukkig genoeg om van Ingrid se styl te hou - en dié keer het hulle nie teleurgestel met haar modekeuses nie.
kykNET vier in Oktober sy twintigste bestaansjaar. Wat het die kanaal oor die afgelope twee dekades vir Suid-Afrikaanse akteurs en vir Afrikaans beteken?
kykNET het só baie vir Afrikaanssprekendes en die verskillende dialekte van die taal gedoen. Twintig jaar is 'n lang tyd, maar 'n mens kan maar net hoop dat die kanaal se verjaarsdag met baie dankbaarheid gevier sal word. Baie geluk, kykNET! Mag daar nog baie kreatiewe jare vir jou - en vir almal van ons - in hierdie spanpoging voorlê.
As 'n veteraan in die bedryf, watter raad het jy vir iemand - veral jonger mense - wat daarvan droom om in 'n sepie op te tree?
Jy moet jouself afvra: Wat wil ek regtig vir die wêreld gee? Wat wil ek regtig met die wêreld deel? Is jy 'n storieverteller? Dan moet jy ook kyk na jou definisie van dissipline. Jy moet jou instinkte vind om 'n storie te kan lééf. Los jou ego by die huis en wees altyd, altyd betyds.
Kyk Binnelanders op weekdae op kykNET (DStv-kanaal 144) om 19:30, stroom die nuutste episodes op DStv Now of fuifkyk dit van die heel begin af op Showmax.












