
Liefde by die Dam is nie net vanjaar in Johannesburg en Kaapstad te sien nie, maar ook vir die eerste keer in Namibië! Dié gewilde musiekfees is bekend vir groot skares met 'n verskeidenheid kunstenaars wat die topklas Afrikaanse pop en alternatiewe klanke van die Suid-Afrikaanse musieklandskap verteenwoordig.
Kaartjies vir Liefde by die Dam wat by Emmarentia Dam in Johannesburg sal plaasvind, het in minder as twee uur uitverkoop. Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties en ook een van die hooforganiseerders van die Liefde-konsertreeks sê: "Dankie aan almal wat kaartjies gekoop het. Dit is epies! 14 000 kaartjies het net gevlieg! Ek dink Liefde by die Dam is so gewild omdat ons moeite doen met die feesgangers se algehele ervaring van 'n groot musiekkonsert. Vandat mense by die hek instap, wys ons vir hulle 'n goeie tyd. Van kos en drank tot wat op die verhoog gebeur, dis een gehalte produksie. Ons probeer om elke raakpunt van die fees jaarliks perfek te hê."
Die kunstenaars watop 5 Augustus by Emmarentia Dam optree sluit onder andere in Die Heuwels Fantasties, Early B, Fokofpolisiekar, Robbie Wessels, Kurt Darren, Droomsindroom, Bobby van Jaarsveld, Riana Nel, Tasché en vele meer.
In September, trek die Liefde-span op na Namibië vir die heel eerste Liefde by die Nam konsert. Dit sal by die Vegkop WHS in Windhoek op 9 September, plaasvind. Die bogenoemde kunstenaars sal ook hier te sien wees en verwag al die lekkerte van 'n nog bekende name! "Ons is ook baie opgewonde om vanjaar die eerste Liefde by die Nam na musiek-fans in Namibië te bring. Ons maak gereed om vir ons feesgangers `n ervaring uit te boonste rakke aan te bied, " laat Pierre hoor.
Kaapstad se beurt kom op 4 November by die Meerendal wynlandgoed. Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties, Riaan Benadé, Appel, Droomsindroom, Francois van Coke, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld en nog vele bekende kunstenaars gaan sorg vir `n groot bederf teen die prentjiemooi agtergrond.
Die gewilde komediant en akteur Schalk Bezuidenhout is, soos elke jaar, die seremoniemeester by Liefde Meerendal en sal sorg dat alles seepglad verloop, met lekker vibes!
Early B is een van die kunstenaars wat gereeld op die Liefde by die Dam verhoog te sien is en vanjaar sal hy by al drie die konserte optree. "Dis altyd 'n eer om selfs by een op te tree, maar om hierdie keer dit te ervaar in al die verskillende stede en veral ook in die buiteland, is nogal groot vir my hoor! Dit gaan ook oor meer as net musiek. Die feesgangers word gevra om kombersies en so te skenk aan liefdadigheid. So, die fees is meer as net musiek. Dis sy naam werd."
Tasché, wat ook vanjaar by al drie feeste te sien is, sê: "Liefde is vir almal. Dit raak elke jaar net groter en dit is nie sommer net enige fees nie. Elke jaar los hulle die feesgangers in awe. As ek sê ek is opgewonde is dit `n understatement. Ek kan nie wag nie!"
Francois van Coke sal ook by al drie venues te sien wees. Hy sê: "Liefde by die Dam kry altyd die line-up reg. Daar is altyd iets nuuts; altyd iets oud. Altyd iets aan die pop kant en altyd iets aan die alternatiewe kant, so ek dink dis ‘n goeie mengsel van wat op die oomblik aan die gang is in Afrikaans. Ek dink die Liefde-span vat dit altyd reg vas vir die spesifieke jare. En die fees gaan oor die liefde en dis 'n lekker tema. Dis altyd 'n goeie tyd daar!"















