Die Krone 6-konsertreeks, een van die hoogtepunte op die Afrikaanse musiekkalender, is om die draai. Konserte word vanjaar weer in Kaapstad en Pretoria aangebied.
Diegene wat dit wil bywoon, sal moet spring om kaartjies te kry. Daar is vanjaar 'n ekstra vertoning in Kaapstad asook in Pretoria.
Kaartjies vir die konsert op Saterdag 17 Augustus in die Jakarandastad is reeds uitverkoop!

Kunstenaars
Van die gewildste Afrikaanse sangers, onder wie Juanita du Plessis en Kurt Darren, is weer deel van Krone, terwyl Theuns Jordaan vanjaar vir die eerste keer in dié konsertreeks gaan optree. Ander kunstenaars wat hul Krone-debuut gaan maak, is Lianie May en Dirk van der Westhuizen.

Hulle gaan die verhoog onder andere deel met Brendan Peyper, Snotkop, Refentse, Ricus Nel, Elandré, Elizma Theron, Andriëtte, Nicholis Louw, Manie Jackson, Robbie Wessels en Liezel Pieters.
Lekker saamsing
Een ding wat Krone onderskei van ander konserte, is dat die gehoor lekker saam met die sterre kan saamsing omdat die liedjies se woorde op 'n grootskerm vertoon word. Verlede jaar het sowat 20 000 mense dié konserte bygewoon en heerlik saamgesing. Vanjaar word 30 000 mense verwag.

- Krone 6 vind op Saterdag 3 Augustus om 19:00 en op 4 Augustus om 14:00 in Kaapstad in die Grand Arena in GrandWest plaas.
- Kaartjies is ook nog beskikbaar vir die konserte in Pretoria, wat op Vrydag 16 Augustus om 19:00 en Sondag 18 Augustus om 14:00 in die Sun Arena in Time Square gehou word.
Koop jou kaartjie nou!
Kaartjiepryse wissel van R195 vir 'n staankaartjie teen die verhoog tot R470 vir sitplekke. Kaartjies vir vanjaar se Krone is aanlyn beskikbaar by iTickets.















