Met die Beste Professor-reeks kan jy in die grootste gerief tuis klas draf by van die blinkste breine wat aan die Universiteit Stellenbosch verbonde is.

As jy vroeg in die 1980's TV gekyk het, is die kanse goed jy onthou nog die oorgeklankte trefferreeks Beste Professor (oorspronklik as The Paper Chase in Amerika uitgesaai) - met die briljante regstudent James T. Hart (gespeel deur James Stephens) wat opgekeil word deur die ou knorpot van 'n professor, Charles W. Kingsfield Jr. (John Houseman). Destyds - dit was in die dae voor sofapokkels met die druk van 'n knoppie eindeloos aan hul gunstelingkykstof kon smul - het die week na die volgende episode lánk geraak.
Die goeie nuus is dat Beste Professor nou herleef - weliswaar in 'n nuwe, eietydse gedaante, maar tog met 'n belangrike element van die oorspronklike resep in die vorm van 'n kundige wat sy of haar kennis deel. Eintlik is die nuwe weergawe beter, want hierdie keer is dit nie fiksie en net regsfeite nie, maar kennis en kundigheid uit 'n verskeidenheid velde wat oorgedra word.
Insetsels met dié naam sal deel uitmaak van die Toyota US Woordfees, wat vanjaar op televisie uitgesaai word. Die kundiges aan die woord is almal vooraanstaande akademici verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), wat toeganklike praatjies oor interessante onderwerpe lewer.
Die aanbiedings vind in TED Talk-styl plaas, en duur elk 10 minute. Die Engelstalige weergawe (met onderskrifte) heet Professor Presenting.
Die ekonoom prof. Johan Fourie praat oor wat ons uit syfers oor die geskiedenis kan wys raak, die selbioloog dr. Hanél Sadie-Van Gijsen vra of natuurlike produkte regtig met gewigverlies kan help, die ingenieur prof. Thinus Booysen het raad met die "honger donkie" (warmwatersilinder) op jou plafon, en die mikrobioloog prof. Karin Jacobs verwonder haar oor die groot verskeidenheid swamme in fynbos.
Die toekomskundige dr. Morne Mostert praat oor hoe ons krisisse beter kan hanteer, prof. Stella Viljoen, 'n visuelekunsdosent, ontbloot rassisme en seksisme in die destydse tydskrif Scope, en die botanis prof. Nox Makunga raak opgewonde oor al die plante in Suid-Afrika wat gesondheidsvoordele bied.
Ons kan die wêreld verander as ons kinders eerste plaas, sê die openbare gesondheidskenner prof. Mark Tomlinson. Die datawetenskaplike prof. Kanshu Rajaratnam wys slaggate in die inligtingslandskap van Covid-19 uit. En die klinikus prof. Helmuth Reuter gebruik werklike gevallestudies om te verduidelik hoe ons immuunstelsel artritis en viruspneumonie die stryd aansê.












