Promosie

LIEFDESKOS VIR PAASFEES

Die komende Paasnaweek sal vir altyd in ons lewe uniek bly. Nog nooit voorheen het ons so 'n situasie beleef nie.

Tog het ons die geleentheid om die Paastradisie te eer deur kos wat met liefde voorberei is, met familie te deel. Kom ons hou die blink kant bo en dek 'n tafel vir 'n Paasviering!

Varkvleis is heerlik, veelsydig en bekostigbaar, en met ons maklike resep sal die hele familie gelukkig en tevrede wees.

Die meeste geure werk goed saam met varkvleis. Al kies jy dalk om vleis te braai oor die Paasnaweek, probeer gerus ‘n paar van hierdie smaakkombinasies.

Gebraaide vrugte: Plaas heel vrugte soos klein appels, pere, pruime of vye in 'n braaipan, verf met olie en bestrooi met kaneelsuiker. Braai tot die skille bros en die vrugte sag is. Heerlik by gebraaide tjops.

Kaas en vark is ook ‘n puik kombinasie.

Mosterd is 'n klassieke bykos by varkvleis. Meng 'n bietjie heuning en mayonnaise met mosterd en sit dit saam met die vleis voor.

Kruie soos vars salie, lourierblare en koljander gee wonderlike geur, terwyl speserye soos koyn, koljander, steranys, gemmer, kaneel en kardemom perfek saam met vark is.

Moenie varkvleis oorgaar maak nie - Dit is gaar wanneer die vleis aan die binnekant net wit word. Vanweë die lae vetinhoud, en omdat die vet aan die buitekant sit, kan varkvleis uitdroog wanneer dit oorgaar gemaak word.

Al is dit net jul gesin bymekaar oor Paasnaweek, is daar niks wat jou verhoed om 'n paar varktjoppies oor die kole te gooi nie.

Varktjops met Brandrissie, Heuning en Suurlemoen

Hierdie lekker tjops kan voorafberei word met 'n eenvoudige droë vryfmengsel. Plaas die tjops dan oornag in die yskas en jy's reg vir die volgende dag se braai.

Genoeg vir 6-8 mense | Bereiding: 15 min. | Marineer: oornag | Kook: 8 min.

Bestanddele:

10 dik varktjops (lendetjops)

sout

125 ml (½ k) bruinsuiker

MARINADE

sap van 4 suurlemoene of lemmetjies

60 ml (¼ k) heuning

45 ml (3 e) olie

3 knoffelhuisies, fyngedruk

1 rooi brandrissie, fyngekap

15 ml (1 e) droë origanum (opsioneel)

fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Metode

  • Klad die tjops met kombuispapier droog en geur goed met die sout en bruinsuiker.
  • Plaas die tjops op 'n rakkie wat oor 'n oondpan pas. Plaas onbedek oornag in die yskas. Verwyder die volgende dag uit die yskas en laat tot by kamertemperatuur kom.
  • MARINADE - Meng al die bestanddele goed.
  • Klad die tjops droog en verf met die marinade.
  • Braai 1 minuut per kant oor matige kole en 8 minute in totaal. Draai die tjops gereeld en verf met die marinade elke keer wanneer jy dit omdraai.
  • Verwyder van die braai, maak seker dat jy nie die tjops oorgaar maak nie.
  • As jy 'n lekker bros vetlagie soek, stapel 4 tjops opmekaar en plaas met die vetkant na onder op die braai. Hou vas met 'n tang tot die vet lekker uitgebraai en bros is. Herhaal met die res van die tjops.
  • Laat rus die tjops 10 min. Sit voor saam met 'n kraakvars groenslaai.

Diagram:

DIE BEKOSTIGBAARSTE SNITTE

  • Pootjies
  • Varkboud met been - ekonomiesste en veelsydigste snit
  • Skenkel
  • Skouer/nek - sappigste en sagste snit; kan in steaks gesny word of heel (ook gevul in oond of gepotbraai); beste snit om blokkies vir Oosterse geregte of kebabs uit te sny
  • Kruisstuksteaks (Porterhouse-steaks word ook uit kruis gesny)Ghoelasjblokkies (uit die boud gesny)
  • Roerbraairepies
  • Varkliesrepies
  • Maer maalvleis

DUURSTE SNITTE

  • Filet
  • Lendetjops
  • Braairibbetjie (hoewel nie duur per kilogram nie, benodig 'n mens baie per porsie)
  • Ribtjops
  • Varklies

WENK: Dikwels word van die beste varksnitte nie in die winkeltoonbank uitgestal nie. Die slaghuispersoneellede sal met graagte vir jou die varksnit van jou keuse uit die regte deel van die karkas sny. Moenie bang wees om dit vooraf te bestel of daarvoor te vra nie; dis altyd die moeite werd.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM