Matrikulante van oor die land heen het nog net meer as twee weke oor om hulle vir die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Netwerk24/Volksblad se Matrikulant van die Jaar-kompetisie in te skryf. Die inskrywings sluit Vrydag 1 Augustus.
Dié kompetisie vir veelsydige gr. 12-leerlinge fokus op leerlinge wat op die terreine van akademie, leierskap, kultuur en sport uitblink en van voorneme is om volgende jaar heeltyds aan die UV te studeer.
Inskrywings kan deur die leerlinge self of hul skole gedoen word, mits die vorm die skoolhoof se handtekening en die skool se amptelike stempel bevat.
Finaliste word gekies volgens 'n streng stel kriteria wat oor dekades vervolmaak is. Altesame 25 semifinaliste sal uit al die inskrywings geïdentifiseer word, waaruit 14 finaliste aangewys sal word. Die eindronde vind van 13 tot 15 Oktober in Bloemfontein plaas.
Daar wag pryse en beurse van groot waarde:
- Die wenner en 13 finaliste ontvang geld- en ander pryse van die Kovsie Alumni-trust, Forvis Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walkin Bloemfontein.
- Beurse word ook deur UV Studentewerwingsdienstebeskikbaar gestel.
- Daar is geskenke ter waarde van R15 000 tydens die eindronde.
- Twee uitblinkers in sport en kultuur ontvang elk 'n ekstra R5 000 prysgeld van die Kovsie Alumni-trust.
- Die 11 semifinaliste ontvang ook prysgeld en beurse.
Forvis Mazars is die amptelike ouditeur van die kompetisie en verseker dat alle prosesse regverdig en deursigtig verloop.
Vir inskrywingsvorms of meer inligting, kontak Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.
Hier is 'n paar van die inskrywings wat reeds ontvang is:




















