
Doelgerigte mentorskapingrypings aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) het nie net gelyke indiensneming by dié instelling bevorder nie, dit het ook maatskaplike samehorigheid en 'n groter gevoel van gemeensaamheid onder die akademiese personeel aangewakker.
Die vestiging van 'n menslikehulpbron-kontingent binne die hoogste akademiese strukture wat gebalanseerde geslagsverteenwoordiging behels en die land se demografie gunstiger weerspieël, bly 'n ingewikkelde uitdaging vir Suid-Afrikaanse universiteite. In die meeste openbare universiteite is daar nie genoegsame vroulike verteenwoordiging onder top-akademici nie, en daar is aansienlike mededinging om Suid-Afrikaanse swart, bruin en Indiese akademiese personeel te lok en te behou.
Streng eise van die akademie
Dit is 'n lang en moeilike reis om die hoogste vlakke van die akademie te bereik. Om die mees senior akademiese graad, dié van professor, te behaal, moet kandidate 'n baccalaureus-, meesters- en doktorsgraad verkry - wat etlike jare verg. Hulle moet ook 'n uitstekende rekord van publikasies, nagraadse toesig, akademiese leierskap, diens en erkenning in hul veld kan toon. Vir baie toppresterende jong swart akademici in die land is die privaatsektor dikwels 'n vinniger en meer winsgewende loopbaanopsie as die streng eise van die akademie.
Transformasie van die professoraat-mentorskapprogram
Die Universiteit van die Vrystaat se verbintenis tot akademiese uitnemendheid, maatskaplike impak en transformasie het aanleiding gegee tot 'n reeks doelbewuste, omvattende mentorskapingrypings om rasse- en geslagsongelykheid op 'n verantwoordelike en doeltreffende wyse reg te stel.
Die UV het vyf jaar gelede sy transformasie van die professoraat-mentorskapprogram van stapel gestuur met die doel om opkomende akademici wat op die drumpel van bevordering tot professorale poste staan, te help ontwikkel en te ondersteun. Die program fokus op die holistiese ontwikkeling van die vaardighede en eienskappe van opkomende akademici in die kernfunksies van onderrig en leer, navorsing, gemeenskapsbetrokkenheid en akademiese leierskap ter voorbereiding op hul rolle as toekomstige professore en akademiese leiers.

Die program bestaan tans uit verskeie takke, elk met 'n bepaalde fokus:
- Toekomstige professoraat-groep
Dié pasgemaakte ontwikkelingsprogram bestaan uit individuele mentorskapbesprekings met verskeie raadgewers, skrywerswegbreke, maandelikse skrywersruimtes, asook 'n verskeidenheid opleidings- en ondersteuningsaktiwiteite gerig op die versterking van akademiese en leierskapsvaardighede. Akademici wat hul driejaar-lidmaatskap in hierdie groep voltooi het, tree daarna op as alumni-mentors vir nuwe kandidate in die program.
- Versnelde groep vir opkomende akademici
Hierdie program teiken belowende jong akademici op 'n vroeër stadium in hul loopbane, om hulle voor te berei vir toetreding tot die Toekomstige professoraat-groep. Sommige van die aktiwiteite van die twee programme word geïntegreer om kollegas uit verskillende departemente en fakulteite die geleentheid te gee om saam te werk en voordeel te trek uit die gesamentlike ervaring en vaardighede van die groep. Individuele loopbaanplanne word opgestel om die vordering van kandidate onderweg na verskillende mylpale te monitor, soos Nasionale Navorsingsfonds (NNF)-gradering, die ontvangs van vooraanstaande internasionale toekennings, die afstudeer van PhD-kandidate, en erkenning vir uitnemendheid in onderrig en vakgeleerdheid.
- Akademiese bevorderingsprogram vir vroue
Hierdie program erken dat, ondanks bestaande beleide, daar dikwels 'n gaping tussen gestelde doelwitte en die praktyk bestaan, wat veroorsaak dat vroue tydens bevorderingsprosesse opsy geskuif of oor die hoof gesien word. Dit bied dus ondersteuning wat spesifiek gerig is op die akademiese loopbaanbevordering van vroue. Terselfdertyd spreek die program ook strukturele hindernisse, houdingsprobleme en gedragskwessies aan wat vroue-akademici van bevordering weerhou.
- Versnelde program vir navorsingsuitnemendheid
Ná die sukses van die Versnelde groep vir opkomende akademici-program, het die universiteit vanjaar die Versnelde program vir navorsingsuitnemendheid bekendgestel - 'n nuwe program gerig op toekomstige akademici wat besig is om hul PhD-kwalifikasies te voltooi.

Belowende uitslae ná eerste vyf jaar
Die universiteit pluk reeds die vrugte van vyf jaar se gestruktureerde, intensiewe mentorskap. Die 110 kandidate wat die afgelope vyf jaar voordeel uit die Toekomstige professoraat- en Versnelde groep vir opkomende akademici-programme getrek het, presteer uiters goed. Die sukseskoers van die eerste Toekomstige professoraat-groep (gemeet aan bevorderings tot professoraat-vlak) is 'n indrukwekkende 73%.
Sowat 70% van die kandidate in hierdie programme is swart Suid-Afrikaners en akademici van ander Afrika-lande, wat 'n groot verskil maak in die regstelling van historiese wanbalanse in rassegelykheid.
Die kandidate het 315 akademiese artikels en 30 boeke gepubliseer. Hulle ervaar ook 'n toename in internasionale samewerkingsgeleenthede, vooruitgang in NRF-graderings, en het altesaam 22 vooraanstaande navorsingstoekennings ontvang.
Terugvoering van deelnemers lewer bewyse van nie net akademiese ontwikkeling nie, maar ook 'n toename in betrokkenheid by die universiteitsgemeenskap, asook beter samewerking tussen junior en senior kollegas.

'n Selfs blinker toekoms wink
Indien kandidate wat hul mentorskap- en ontwikkelingsprogramme voltooi het, op hul beurt mentors vir nuwe toetreders word, beloof hierdie suksesse om oor die komende jare eksponensieel te groei. Die Transformasie van die professoraat-mentorskapprogram beoog om sy mentorskap- en kapasiteitsbouprogramme verder te versterk, terwyl breër institusionele mentorskapspraktyke gevestig word om uitnemende akademici in alle fakulteite en departemente te lok en te behou.
Die verbetering van die professoraat se gelykheidsprofiel, uitbreiding van die personeel se intellektuele diversiteit, en die strewe na geslagsgelykheid in alle leierskapsposisies, is 'n integrale deel van Visie 130 - die UV se dapper, omvattende strategie om homself teen 2034, wanneer die universiteit sy 130ste bestaansjaar vier, te vernuwe en te herverbeel.
Bogenoemde mentorskapsuksesse is 'n belangrike mylpaal in die universiteit se voortgesette strewe om uitnemendheid te inspireer en lewens deur gehalte, impak en sorg te verander.
Kontak
- Bloemfontein-kampus: +27 51 401 9111
- Qwaqwa-kampus: +27 58 718 5000
- Suid-kampus: +27 51 401 9111
- E-pos: info@ufs.ac.za
- Webtuiste: www.ufs.ac.za
- UV se sosiale media:Facebook, Twitter, Instagram, LinkedIn en YouTube.
Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die adverteerder. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produk nie.





















