
Februarie is Moedertaalmaand, met die hoogtepunt Moedertaaldag wat wêreldwyd op 21 Februarie gevier word.
Het jy geweet dat die taal wat 'n mens voor jou geboorte hoor jou hartjie op twee maande vinniger laat klop wanneer jy dit hoor? Wanneer ‘n ma met haar kind in haar moedertaal praat, styg haar stemtoon en dit geld vir al 7 099 tale wat wêreldwyd gepraat word!
In jou ouerhuis leer jy praat, hoor, dink, voel … leer jy om mens te wees. In jou moedertaal verwoord jy jouself die maklikste en duidelikste.
Wannie Carstens, direkteur van Noordwes-Universiteit se Skool vir Tale verwoord dit so: "Ons voel ons 'n beter mens in ons eie taal omdat ons ons menswees soveel makliker daarin kan uitleef - lief kan hê, kan bid of ons fynste gedagtes kan verwoord. Dit verbind ons aan ons kultuur en ons gemeenskap."
"Taal is die klere van die gedagte. Ons woorde is die boustene van ons drome … die grootste skeppende krag en energie wat ons het."
— Samuel Johnson (Engelse skrywer)
Jou moedertaal laat jou presteer
Moedertaal is jou sleutel tot uitnemendheid en om onderrig te ontvang in jou moedertaal laat jou uitstyg bo die gemiddelde en gee jou die vermoë om saam te praat met die bestes in die wêreld.
Volgens Theo du Plessis, professor by die Eenheid van Taalfasilitering en -bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat, is die bestes van die wêreld byvoorbeeld Israel, Nederland, Duitsland, Japan en Amerika wat die onbetwiste voordele van moedertaalonderrig geniet. Hy sê die sleutel tot sukses bly moedertaalonderrig wat jou in staat stel om op dieselfde vlak as hierdie presterende nasies te wees.
Jou moedertaal ook jou onderrigtaal?
Al hoe meer ouers wonder of dit nog wys is om jou kind in haar moedertaal te laat skoolgaan as tersiêre instellings en die ekonomiese wêreld, nie net internasionaal nie, maar ook plaaslik, Engels as voertaal gebruik.
Akademici en taalaktiviste is dit egter eens: Mense word deur hul moedertaal bemagtig. Kinders het hul moedertaal nodig om hul kognitiewe ontwikkeling te verseker.
Kinders leer makliker lees en skryf in hul moedertaal. Skrif is 'n tegniese aktiwiteit waardeur taal uitgedruk word en anders as gesproke taal, ontwikkel dit nie spontaan nie.
Dit is baie makliker vir kinders wat in hul moedertaal leer lees en skryf om die konneksie tussen gesproke en geskrewe taal te maak. As jy leer lees het in 'n taal wat vir jou maklik is, is dit soveel makliker om konsepte en vaardighede in 'n tweede of derde taal oor te dra.
Die ontwikkelingsvlak van 'n kind se moedertaal is 'n sterk voorspeller van die ontwikkelingsvlak van 'n kind se tweede taal omdat hulle uit hul onderliggende taalstelsel en hul bestaande taalkennis kan put. As 'n kind byvoorbeeld in Afrikaans tydkonsepte leer, hoef hulle nie weer die totale tydsbegrip in Engels te leer nie, maar slegs die oppervlakgegewens, m.a.w. die Engelse woorde. Hulle het reeds die intellektuele basis en begrip. Ander intellektuele begrippe soos oorsaak en gevolg, of om tussen hoofgedagtes en ondersteunende detail te kan onderskei, word gemaklik vanuit die moedertaal tot 'n tweede taal oorgedra.
Die diversiteit van tale is net so kosbaar as die diversiteit in die natuur … taal simboliseer die diversiteit van die mensdom.
— Christien Neser (spraakterapeut en skrywer)
Volgens Christien Neser is daar 'n belangrike konsep wat ouers nie verstaan nie.
"Dit is amper onmoontlik vir kinders om nie Engels in ons land aan te leer nie, maar slegs 'n ouer (ma, pa, ouma, oupa…) kan vir die kind 'n moedertaal aanleer. Die plastisiteit van kinders se breine gee hulle die unieke voordeel dat hulle taalkodes uit die omgewing kan absorbeer. Die taalkundiges glo: ‘Language is caught, not taught'. Wanneer ouers dus hul moedertaal vir die kind aanleer, verseker hulle dat hy of sy later meertalig gaan wees. Want Engels gaan hy leer praat, kom wat wil."
Die tien vrae wat almal vra
Ek wil net die beste hê vir my kind. Wat staan my te doen ten opsigte van die taal waarin hy/sy onderrig word?
1. V:Moet my kind in Engels skoolgaan om Engels te leer?
A: Nee, jou kinders kan in hul moedertaal skoolgaan en Engels as ‘n vak neem en so Engels leer. Kinders wat in hul moedertaal onderrig word, leer Engels (of 'n ander tweede taal of derde taal) baie makliker aan as diegene wat nie in hul moedertaal leer nie. Die suksesresep is om die kinders in hulle sterkste taal te laat leer, want dit stel hulle in staat om 'n tweede of derde taal vinnig te bemeester. Aan die begin sal hulle dalk die tale ? bietjie meng, maar dis ? fase wat vinnig verbygaan.
2. V: Is dit nie beter om my kind liewers in Engels groot te maak, sodat sy/hy Engels ordentlik kan praat nie?
A: Kinders wat nie in hul moedertaal leer nie, het meer moeite in 'n veeltalige omgewing. As jou moedertaal sterk ontwikkel is, kommunikeer jy dikwels beter in ‘n tweede of selfs derde taal. Kommunikasievaardigheid in meer as een taal kom handig te pas in enige werksomgewing.
3. V: Afrikaans op tersiêre vlak is onder druk en word nog net by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, Stellenbosch, Vrystaat, Pretoria en Akademia gebruik. Maak dit sin om jou kinders na ‘n Afrikaanse skool te stuur?
A: Kinders wat in hul moedertaal skoolgaan en Engels as vak neem, praat uiteindelik ‘n baie goeie huistaal EN Engels. Omdat hulle in hul moedertaal skoolgaan, presteer hul beter en kry makliker toegang tot universiteit. Omdat hulle in hul moedertaal geleer het, het hul ‘n dieper begrip en vaar hulle oor die algemeen beter op universiteit.
4. V: Gee ek my kind ‘n voorsprong deur hom/haar in 'n Engelse klas te plaas?
A: Kinders leer stadiger in ? taal wat nie hulle moedertaal is nie. Hulle onderpresteer en ontwikkel dikwels ? agterstand wat hulle nooit inhaal nie. Kinders wat in ? tweede taal skoolgaan word dus juis benadeel. Dit is dikwels vir ouers en familielede moeiliker om die kinders met hulle skoolwerk te help.
5. V: Verwar dit my kind as hulle meer as een taal moet leer?
A: Nee wat! Dis is al oor en oor bewys dat kinders maklik meer as een taal aanleer terwyl hulle grootword. Die suksesresep is om die kinders in hulle sterkste taal te laat skoolgaan, want dit stel hulle in staat om 'n tweede of derde taal vinnig te bemeester. Aan die begin sal hulle dalk die tale ? bietjie meng, maar dis ? fase wat vinnig verbygaan. Dis nietemin makliker vir die ouer om die kind in die moedertaal groot te maak.
6. V: Benadeel ‘n aksent my kind?
A: Nee. Enige twee- of veeltalige persoon het ‘n aksent. ‘n Aksent is geen aanduiding van 'n persoon se taalvaardigheid nie.
7. V: Is dit waar dat kinders in Engelse skole beter vaar as kinders in ander skole?
A: Die statistiek sê iets anders. Kinders wat in hul moedertaal leer presteer beter.
8. V: Ek praat nie standaard- of ‘keurige' Afrikaans nie en ek wil hê my kind moet ten minste een taal ordentlik praat.
A: Jou taal is wie jy is. As jy dit verwerp, dan verwerp jy jou identiteit. Hoe jy ook al jou taal praat, dit is JOU taal en die taal waarin jou kind die beste en maklikste gaan leer!
9. V: Ons praat verskillende tale in ons huis. Watter een is nou die moedertaal?
A: Kinders kan verskillende tale wat in ? gesin gebruik word vanaf ? vroeë stadium onderskei en word nie daardeur verwar nie. Die skielike uitsluiting van een van daardie tale sal hulle eerder verwar. Dit gee kinders juis 'n gevoel van uitsluiting uit die familie, wat hulle selfvertroue kan benadeel. Laat leer jou kind in sy of haar sterkste taal!
10. V: Waarom is moedertaalvaardigheid so belangrik?
A: 'n Persoon wat hom-/haarself goed kan uitdruk, is meer selfversekerd. ‘n Kind wat twee tale magtig is, het nog meer selfvertroue, aangesien die beheersing van twee tale voordelig is in ‘n multikulturele land soos Suid-Afrika, in die werksplek en op sosiale vlak.
Veeltalige kinders:
- het meer geleenthede in Suid-Afrika en in die wêreld;
- presteer beter in sekere verstandelike aktiwiteite as eentaliges;
- is onbevooroordeeld en meer ontvanklik vir verskillende kulture en perspektiewe; en
- het 'n meer praktiese ingesteldheid, omdat hulle die vermoë het om deur kommunikasie ander mense te help.
Om kinders slegs Engels te leer in 'n veeltalige land soos Suid-Afrika, kan problematies wees, want sulke eentalige kinders kan sosiaal uitgesluit voel.
Die Afrikaanse Onderwysnetwerk
Die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) se visie vir volhoubare, kwaliteit Afrikaanse onderwys het die bevordering van moedertaalonderrig as grondslag. Deur Afrikaanse onderwys te ondersteun en ‘n pyplyn vir Afrikaanse moedertaalonderrig, van kleuterskool tot tersiêre vlak, te vestig, word die toekoms van Afrikaanse onderrig verseker. Daan Potgieter, hoof- uitvoerende beampte en Wilma van Rooyen, vroeëkinderontwikkelingspesialis het met Afrikaans.com gesels.
https://www.youtube.com/watch?v=Mr6QPfmRhLA&feature=emb_title
Lees meer oor die AON hier.
Die MOS-inisiatief
Die MOS-inisiatief (Moedertaalonderrig in Onafhanklike Skole) is 'n privaat maatskappy wat gehalte-onderrig wat bekostigbaar en volhoubaar is, wil skep. Roedolf van der Westhuizen (uitvoerende hoof) en Alta Greef (onderwysspesialis) gesels met Afrikaans.com oor die belangrikheid van moedertaalonderrig.
Lees meer oor die MOS-inisiatief hier.
Afrikaans.com fokus gedurende Februarie op moedertaalonderrig.

Kyk uit vir die volgende:
Afrikaans.com het ten doel dat leerders, onderwysers en ouers ons webtuiste / leerhulpafdeling met selfvertroue kan raadpleeg om toepaslike inligting en skakels te bekom wat hulle sal help om die mees geskikte bronne te raadpleeg. Daarom gaan Afrikaans.com in die loop van 2020 ons leeraanbod verder aanpas en uitbrei deur veral op die volgende spilpunte oor moedertaalonderrig te fokus:
- Die belangrikheid van taal, veral m.b.t. feite oor die ontstaan van Afrikaans.
- Jou taalvaardigheid en hoe dit jou help op jou pad na sukses.
- Die voordele van veeltaligheid en hoe dit lei tot sukses.
- Die plek van dialek/variante van Afrikaans. Veral ons taaldiversiteit word belig.
- Transtaling ("translanguaging") in die Suid-Afrikaanse klaskamer. 'n Belangrike pedagogiese tegniek omdat klasse deesdae baie gemeng is. Dit laat die soepel wisseling tussen twee (of meer) tale of dialekte in een klaskamer toe omdat dit die taalrealiteit van leerders in veeltalige kontekste benut. Daar word gekyk na die uitdagings en ons poog met die hulp van kundiges om die boodskappe te vereenvoudig.
- Suksesverhale - ons plaas die kollig op individue uit verskillende omgewings en op verskillende terreine wat sukses deur moedertaalonderrig behaal het.
Die bestaande aanbod oor moedertaalonderrig vertel jou meer oor veeltaligheid en hoekom jy beter in jou moedertaal leer.













