Vroegoggend op die trappe van die Voortrekkermonument in Pretoria weerklink die stemme van Chinese toeriste. Dié monument, wat vanjaar sy 80ste bestaansjaar vier, is een van min in die land wat nog groot groepe toeriste lok.
'n Mens sou dink in 'n land wat hom op sy diversiteit roem, sou die hele spektrum museums floreer, maar die teendeel is waar. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vroeër vanjaar 'n verslag uitgereik wat lui meer as 50 museums is reeds gesluit en nog 50 kan dieselfde paadjie stap.
Maar waarom in die eerste plek moeite doen met museums in 'n land waar armoede en werkloosheid so 'n groot probleem is?

Diverse benaderings
Prof. Anton van Vollenhoven, buitengewone professor in geskiedenis aan die Noordwes-Universiteit, sê die bewaring van geskiedenis gee mense 'n gevoel van behoort - om deel te wees van iets groter.
In Suid-Afrika is dit nie so eenvoudig nie. Cecilia Kruger, uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument-erfenisterrein, sê dit is makliker om 'n gemeenskaplike trots vir die geskiedenis te kweek én tasbare relieke te bewaar in 'n land waar almal hulle met die geskiedenis kan vereenselwig - hoe goed of sleg dit ook was.
"In Suid-Afrika sit ons nie net met diverse kulture nie, maar ook met uiteenlopende benaderings tot die bewaring van geskiedenis. Die ‘Westerse benadering' is op tasbare kultuur gefokus."
Dis juis uit dié benadering dat die ontstaan van museums gespruit het: vir die bewaring van voorwerpe met inherente kulturele betekenis.
"Die sogenaamde derde wêreld, waarvan Afrika deel is, fokus op lewende geskiedenis, wat mondelinge oorlewering en tradisies insluit en waar voorwerpe van die verlede net om religieuse redes bewaar word," sê Cecilia.
Volgens haar word die uiteenlopende benaderings tot bewaring - en die redes waarom kulturele erfenis bewaar moet word - duidelik in die aanhef tot die Erfeniswet omskryf. Dit lui onder meer dat Suid-Afrika se erfenis die potensiaal het "om ons nasionale karakter te vorm". Die rol wat erfenisbewaring in die erkenning van Suid-Afrika se komplekse verlede speel, word ook bevestig: "Ons erfenis gedenk ons prestasies en dra daartoe by om onbillikhede van die verlede reg te stel. Dit voed op, dit verdiep ons begrip van die samelewing en moedig ons aan om empatie vir die ervarings van ander te toon."

Kundiges kwyn
Op papier is daar dus 'n sterk verbintenis tot bewaring, maar die werklikheid lyk anders. Dr. Jackie Grobler, skrywer en dosent in geskiedenis en erfenis- en kultuurtoerisme aan die Universiteit van Pretoria, sê museums geniet nie prioriteit nie "omdat dit nie deel van die kultuur van óf die leiers óf die ondersteuners van die heersende politieke party is nie".
Dit bring mee dat finansiering 'n probleem is. Maar, sê Anton, opleiding is waarskynlik die groter probleem. "Mense het geen begrip daarvoor dat museumkunde 'n wetenskap is wat deur kundiges bedryf moet word nie." Die korrekte manier van insameling is byvoorbeeld nodig "sodat die museum nie bloot 'n vullishoop word vir alles wat ander nié wil hê nie".
Die opleiding van museumkundiges het feitlik tot stilstand gekom. Mense sonder kwalifikasies word aangestel "want mense dink enigiemand kan dié taak verrig", voeg hy by.
"Daar is nie kulturele begrip onder die nuwe generasie museumwerkers vir die bewaring van voorwerpe nie," sê Cecilia. "Tot sowat vyf jaar gelede is museumkunde by die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Stellenbosch as nagraadse vakrigtings aangebied. Kultuurgeskiedenis was 'n voorvereiste. Dié vak is egter by albei universiteite afgeskaf omdat dit fundamenteel as te suiwer en eensydig eurosentries beskou is."
Sy wys ook op organisatoriese veranderings wat ná 1994 ingetree het. Vóór dit is museums nasionaal, provinsiaal en deur stadsrade bestuur. Die uitbreiding van vier tot nege provinsies het die vestiging van nuwe museumdienste vereis, maar volgens Cecilia het net KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap dit werklik reggekry.
Ekonomiese werklikheid beteken ook dat plaaslike owerhede eerder geld aan dienslewering as die bewaring van kultuurhistoriese voorwerpe bestee. Maar die probleem eindig nie daar nie. Namate museums in pas met die nuwe politieke narratief gebring is, het besoekersgetalle afgeneem.
"Verpligte transformasie van en in museums het veroorsaak dat versamelbeleide en uitstallings moes verander," sê Cecilia. "Baie museums het hul temas en identiteit verloor. Elke liewe plattelandse museum het skielik uitstallings oor die struggle gehad - op sigself nie verkeerd nie, maar dit het besoekers verveel. En wat is 'n museum sonder besoekers?"
Volgens haar is daar nie werklik 'n museumkultuur onder die "deursnee-Afrikaner" nie en selfgeregtiging dra verder tot die probleem by. "Ons hoor dikwels: ‘Ek gaan nie toegang betaal nie, want my voorouers het met hul bloed vir hierdie land of monument betaal ...'"

Min begrip vir mekaar
Jackie meen die klowe tussen Suid-Afrikaners word ál wyer omdat ons neig om mekaar se geskiedenis óf te demoniseer óf te kleineer. Hy sê talle Afrikaners voel ongemaklik juis oor die demonisering van hul geskiedenis en wil niks daarmee te doen hê nie. Hy meen meer as die helfte van wit, Afrikaanstalige kinders kan nie met sekerheid sê wat was eerste nie, die Groot Trek of die Anglo-Boereoorlog.
Mense kan museums nog vermy, maar standbeelde pryk in openbare ruimtes. In 2015 het die #RhodesMustFall-beweging momentum gekry en tot die verwydering van Cecil John Rhodes se standbeeld op die Universiteit van Kaapstad se kampus gelei. Soortgelyke bewegings het landwyd gevolg en talle standbeelde is steeds in gedrang. Jackie sê #RhodesMustFall het bygedra tot 'n reeds negatiewe ingesteldheid, wat nie bevorderlik vir bewaring is nie. Cecilia meen weer dit het nie werklik 'n gevolg vir museums gehad nie, want "die verval en verlatenheid het reeds 20 jaar gelede begin".
"Wat dit wel illustreer, is hoe erfenishulpbronne verdelend eerder as versoenend kan wees," sê sy. "As ons aanvaar dat alle kultuurerfenishulpbronne iets vir iemand beteken, dan moet ons aanvaar dat die fisieke en ander aanslae op dié hulpbronne ook iewers deur iemand as 'n aanslag op hul identiteit ervaar sal word." Dit, sê Cecilia, sien 'n mens onder sommige Afrikaners wat meen "as hul helde nie welkom is in 'n openbare plek nie, is hulle [ook] nie welkom in die land nie".
Raak jy aan iemand se held, raak jy aan daardie persoon se identiteit. "Wat word daardeur bereik?" vra Cecilia. "Ek is bevrees as 'n nasie is ons nog ver van volwasse genoeg om verdraagsaam en selfs omhelsend met mekaar om te gaan, wat nog te sê om mekaar se simbole van die verlede te verdra."

Wat is die oplossing?
Openbare druk om standbeelde te verwyder lei ook tot 'n impuls wat 'n mens in die briewekolomme van koerante sien: "Nou maar vat dan die ding weg!" Dit is nie noodwendig 'n oplossing nie.
Die plek waar 'n standbeeld staan, dra net so sterk by tot die beeld se boodskap. Cecilia sê verwyder jy die beeld, verminder of verdwyn die kulturele betekenis wanneer dit uit daardie konteks gehaal word. Jackie voeg by: "Die aandrang op die verwydering van standbeelde word deur politieke ideologie gedryf. Dit los niks op nie, want dit is bloot simbolies." Rhodes se beeld is dalk verwyder, maar dit verander niks aan sy bydrae tot tersiêre onderrig in Suid-Afrika nie.
"Moet daar nie na die beelde gekyk en meer moeite gedoen word om byskrifte in verskillende tale met verskeie interpretasies aan te bied, pleks daarvan om net op één ‘waarheid' te fokus nie?" vra Cecilia. "Moet daar nie liewer bygevoeg word om die konteks te verbreed as wat daar weggevat word nie?"
Jackie stem saam die aanbring van nuwe beelde en gedenktekens langs bestaandes kan balans bring. "Op Kerkplein in Pretoria is daar byvoorbeeld niks wat aandui dat [wyle oudpres. Nelson] Mandela sy beroemde verklaring in die Rivonia-verhoor in die Paleis van Justisie voorgelees het nie."
Volgens hom is die toekoms van monumente, standbeelde en museums maar duister. "Dit is nie politiek korrek om trots te wees op Afrikaner-monumente nie, want dit word voor die voet as nalatenskappe van apartheid afgemaak. Die wortel van die probleem is dat die oorheersende waardestelsel vandag aan ideologie en politieke korrektheid gemeet word, eerder as eerlikheid en waarheid."
Tog bly hy glo in die versoenings-potensiaal van die geskiedenis - dat jy die hede kan verstaan deur 'n kritiese kyk na die verlede. "As die uiteen-lopende gemeenskappe in Suid-Afrika nie met 'n tikkie deernis van mekaar se verlede kennis neem nie, gaan ons nooit by mekaar uitkom nie."
* Hierdie artikel het in die lenteuitgawe van Taalgenoot verskyn. Taalgenoot is die amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Skakel 011 919 9112 om in te teken of laai 'n intekenvorm hier af.












