
Graan SA se Nampo Oesdag is die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond en is, na 'n twee-jaar lange afwesigheid, gereed om 'n skouspel buite Bothaville aan te bied vanaf 16 tot 20 Mei 2022. Ja, vir die eerste keer in die geskiedenis word Nampo oor vyf dae aangebied! Dit sal voorsiening maak vir die verminderde kapasiteit wat toegelaat word.
Die 54ste Nampo Oesdag sal oudergewoonte landbou se jongste tegnologie, masjinerie, innovering en produktiwiteitsoplossings alles op een platform ten toon stel.
Die 2022-tema "Beleef dit!" is 'n uitnodiging aan die landboubedryf en die breë publiek om die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond weer eerstehands te kom ervaar.
"Die uitwerking om sedert 2019 nie 'n Oesdag by Nampo Park te kon aanbied nie, het verreikende gevolge nie net vir die organisasie gehad nie, maar ook vir die omliggende dorpe. Die plaaslike distrik, wat nog nie heeltemal van buitensporige waterskade in Januarie herstel het nie, maak staat op die ekonomiese en finansiële inspuiting wat deur die Oesdag meegebring is," sê dr. Dirk Strydom, Graan SA bemarkinghoof en Nampo- navorsingshoof.
Nampo-uitstallers wil graag weer produsente ontmoet en hul produkte ten toon stel. In oorleg met uitstallers het meer as 80% aangedui dat dit nodig is om die Oesdag in Mei 2022 aan te bied, en was dit eens dat 'n ekstra dag in die skedule broodnodige sakegeleentheid kan byvoeg. Met byna 800 uitstallers is Nampo dié platform om met die landboubedryf se toprolspelers te netwerk, vriendskappe en verhoudings te versterk en te geniet wat hierdie unieke vertoning bied in 'n rustige plaas-atmosfeer.
Volgens Danie Minnaar, voorsitter van die Nampo Oesdag, is die beste tegnologie en kennis vir produsente om volhoubaar te boer by Nampo te vinde. "Al bly die landbou onder geweldige druk, het landbouers steeds genoeg passie vir boerdery om elke aspek van landbou wat die Oesdag bied te verken om mededingend en relevant te bly," het hy gesê.
Die afwesigheid van Nampo Oesdag het die kritieke rol wat hierdie platform speel om netwerkvorming in die landbousektor te fasiliteer, beklemtoon. "Om regeringsverteenwoordigers en belanghebbendes uit die landbouwaardeketting te ontvang, bied geleentheid vir belangrike en soms uitdagende gesprekke om plaas te vind in 'n omgewing wat bevorderlik is vir en gemik is op die bevordering van die sektor plaaslik en regdeur die Sub-Sahara-streek," sê dr. Pieter Taljaard, Graan SA se uitvoerende hoofbestuurder.
Implementering sal nou in alle erns begin en Graan SA is opgewonde en gerat om produsente, landbou-belanghebbendes, verskaffers, ander waardekettingrolspelers sowel as die publiek terug te verwelkom by hierdie landbouvertoonvenster, wat 'n gediversifiseerde uitstalling met 'n verskeidenheid nuwe tegnologie, produkte en dienste op een platform aanbied.
Selfs te midde van die onsekerheid kan Nampo steeds 'n volledige lys uitstallers aankondig. Dit, tesame met die grootte van die terrein en die infrastruktuur wat goed versprei is, maak dat Nampo kan beloof om 'n veilige en rustige gesinsvriendelike ervaring met iets vir almal aan te bied. Vir diegene wat altyd gewonder het, en vir elke terugkerende besoeker wat twyfel of hul die besienswaardighede en klanke sou vergeet het, word jy uitgenooi om die 2022 Nampo Oesdag te besoek. Kom beleef dit!
Om in aanmerking te kom vir kaartjies klik hier.
Kom beleef ook 'n ekstra dag teen die 2019-toegangsfooie. Besprekings vir die immergewilde tentehotel op die noordelike grens van die park is reeds oop en verdere inligting rondom die Nampo Oesdag kan op www.nampo.co.za verkry word.















