Promosie

Ons eet lekker in Afrikaans!

RESPEK & eiers
RESPEK & eiers

Ons praat, sing, droom en bid in Afrikaans, maar dis ook lekker om in Afrikaans te éét! Afrikaanse name en kosse is nie net lekker op die tong nie - dit is uniek en onmisbaar in ons kultuur.

Carryn-Ann Nel het by ‘n paar restaurante gaan hoor waarom hulle ‘n Afrikaanse naam het.

RESPEK & eiers, Pretoria

Respek & Eiers
Respek & Eiers

Die naam RESPEK & eiers was onlangs die wenner van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se kompetisie vir die treffendste Afrikaanse handelsname.

En met reg. Christo Harvey, eienaar van dié restaurant, het sowel die restaurant se naam as die woord respek laat registreer as handelsmerke in klas 43.

Hy het die naam gekies nie net omdat dit so uniek is nie, maar omdat hy Afrikaans is en die taal blootstelling wil gee. Daarby gaan ‘n Afrikaanse naam uitstaan tussen al die Engelse name, sê hy.

"Ek is Afrikaans en het Afrikaans grootgeword," sê hy trots. "Ek wil die taal 'n bietjie push."

Nog 'n rede vir die kies van dié eiesoortige naam is juis omdat dit sal uitstaan.

"Dit was nog altyd vir my vanselfsprekend om 'n Afrikaanse naam te hê, want dan staan jy uit. Daar is regtig nie so baie Afrikaanse handelsname nie."

Hy en sy sjef-vriendin, Elizabeth Collinet, het een oggend gesit en ontbyt eet by Cafe 41 in Arcadia, Pretoria, en koppe bymekaar gesit toe die naam by hom opkom.

"Ons het gesit en breinskrum en 'n mens droom mos maar saam met pelle," sê hy. "Ek het begin rol op ‘n R en toe kom die naam Respek, Respek en Eiers!"

Vir hom gaan dit oor meer as net kos. Dit gaan ook daaroor om met respek te dien. Benewens die kos wat by die restaurant voorberei word, moedig hy ook 'n gesonde leefstyl aan. Daar is gereeld staptogte vir kliënte wat dan deur 'n stewige ontbyt gevolg word.

"Ons identiteit is 'Respek' en dit is wat ons moet vier. Dit gaan nie net oor die bord kos voor jou nie. Dit gaan oor die respek vir 'n verskeidenheid kulture. Ons land se sterkpunt is ons diversiteit en ons kulture en ek wil dit vier."

OppieStoep, Paarl

OppieStoep
OppieStoep

'n Spyskaart in Afrikaans, maar ook nie net énige spyskaart in Afrikaans nie. By die Oppiestoep-restaurant sal die beskrywing van 'n paar geregte jou nie net laat kopkrap oor wat alles daarin is nie, maar dit sal sommer jou mond laat water.

Die spyskaart bevat die tipiese Afrikaanse geregte soos die "Oppiestoep-viskoekie" en varkribbetjies. Maar dan is daar ook die "Blixem Boere Sushi Platter" wat jou gaan laat smul aan murgbene, skilpadjies, lamsribbetjies, boerewors, biltong, skaapstertjies, tamatie-en-komkommer-stokkies met mosterdsous. Glad nie die "alledaagse" soesjibord nie, maar een wat jou lekker aan vleis sal laat kou.

Nóg 'n gunsteling op die spyskaart is genoem na die ontslape storieverteller Tolla van der Merwe. Jy kan ‘n "Tolla's banting platter" bestel wat jou gaan laat wegsit aan parmaham, salami, artisjokke, avokado, olywe en balsamies geroosterde tamaties, voorgesit met 'n doopsous van maaskaas, kruie en olyfolie.

Op die spyskaart sal jy ook die "Driesman Platter" en die "Pietman Platter" vind. Dié geregte is genoem na die aanbieders van die gewilde kykNET-storievertelprogram Oppiestoep waar Andries Vermeulen en Pietman Geldenhuys saam met bekende gaste van oor die land heen juis hier by die Kleine Parys-wynlandgoed, tuiste van die Oppiestoep-restaurant, kuier en oor kos gesels.

Die Plek, Pretoria - eetplek, kuierplek

Die plek waar mense familie word, waar kinders sommer by die kombuis inloop en vir ‘n ekstra pampoenkoekie vra, die plek waar gesinne bymekaar kom om aan lekker egte Afrikaanse kosse te smul.

"Dit is in die middel van die stad, maar as jy hier inry, kry jy glad nie daardie stadsgevoel nie," sê Natasha Joubert, bestuurder van die familieonderneming. Daar is hout- en grasdakke en beelde van diere teen die mure. Alles saam skep 'n 'wildsplaas-atmosfeer'.

En die kos is alles egte boerekos, sê sy.

"Jy sal nie by ons iets kry soos soesji nie. Dis gewone gekookte kos met baie botter en suiker."

Ook die spyskaart is in Afrikaans, hoewel hulle glad nie huiwer om dit te vertaal of om ‘n Engelse weergawe vir kliënte te gee nie.

"Dit is maar waar ons vandaan kom. Dis waarin ons gemaklik voel, waarin ons gaste wil help, wat ons wil praat.

"Die boerekos en kookkos is so lekker dat talle gesinne dit hul daaglikse aandete maak. Daarom verander die spyskaart ook elke week sodat mense darem 'n verskeidenheid kan kry.

"Die mense word later familie. Hulle bly en sit. Dis baie gemaklik hier by ons. Kinders loop sommer by kombuis in en vra vir 'n ekstra pampoenkoekie. Dit gaan nie net oor die kos nie, maar oor die atmosfeer.

Haar pa, Gawie, het die naam gekies omdat hy wou hê dit moet dié plek raak waar mense uithang. En elke aand blyk dit so te wees vir baie mense in die dorp. En nou ís dit die plek, sê Joubert.

Die Plek
Die Plek

Hokaai, Mosselbaai

Hier skep jy soveel jy wil en eet soveel jy kan, sê die eienares, Rochelle Meyer. En moenie skaam wees om te skep nie. Jy is mos hier om te eet, of hoe?

En dis alles boerekos, so na aan die hart van die hongeres wat langs die N2 tussen Albertinia en Mosselbaai stilhou vir 'n bord of twee om aan te peusel.

"Ek maak net boerekos. Ek maak nie pizzas nie. Daar is ander mense wat dit doen. Ek maak ook nie tjips nie. 'n Mens kan oral tjips koop," sê Meyer.

Wat Hokaai egter so uitsonderlik maak, is dat sy mense wil innooi en laat kou selfs voordat hulle hul hoofgereg begin eet het.

"Ek bak elke dag 'n brood in 'n jêmblik. As jy inkom by die deur, dan kry jy dadelik ‘n broodjie uit die oond wat so 15 cm hoog is met botter vir die gesondes, margarien vir die siekes, kaas en drie soorte konfyt. Dis my dankie dat jy ingedraai het. Dit kom ook saam met regte moerkoffie."

Alles op die spyskaart is egte boerekos, sê sy.

"Ek het nie ‘n groot spyskaart nie. Die laaste jaar het ek begin met bredies (skaapskenkels en slapkerriebredie) en gewone afval, dis dan die gereg van die dag."

Dan op 'n Vrydagaand stuur sy sommer 'n SMS aan kliënte om te sê sy maak heel skaapnek "sag gekook van die been af".

"Dis hoe ek grootgeword het. My ma het dié soort kos gemaak."

Hokaai
Hokaai

Antie Evelyn se Eetplek, Nieu-Bethesda

Meer as 20 jaar gelede het Evelyn Olifant vir 'n gastehuis op Nieu-Bethesda gewerk en 'n groot liefde vir kosmaak ontwikkel. Kosmaak was vir haar 'n stokperdjie. En toe besluit sy: "Ek gaan nou my eie ding doen".

"Ons maak bobotie, ouma se frikkadelle en lam, maar ons maak nie eintlik afval nie. Ons sal afval maak as hulle mooi vra vir afval," sê sy.

Haar restaurant is uniek in die sin dat sy mense aanmoedig om 'n halfuur voor die tyd te bel en te sê wat hulle wil eet.

"Jy moet sê wat jy wil hê en wat jy nie wil hê nie. Hulle moet sê wat hulle wil kom eet, want ek maak nie kos wat opgewarm moet word nie."

Dit is veral mense van Johannesburg en Pretoria wat gaande is oor haar geregte, veral haar roosterkoek en vetkoek, sê sy. Dit word maklik ngepak vir die langpad huis toe.

Haar kosse is uniek en sy sal 'n plan maak as jy mooi vra.

"Om te dink ek het destyds met brood en gemmerbier begin."

Auntie Evelyne se Eetplek
Auntie Evelyne se Eetplek

Die Akker, Potchefstroom

Die Akker, Potchefstroom
Die Akker, Potchefstroom

Die waar-kry-ons-mekaar-plek van Potchefstroom. Dis 'n warm, huislike, dog gesofistikeerde restaurant in Afrikaans, met 'n lekker eiesoortige spyskaart en alles tussenin. Die Akker het sy naam gekry danksy die akkerbome wat Potchefstroom toepak. Die plek het die gevoel en voordele van 'n koffiewinkel, maar bied ook 'n uitgebreide spyskaart vir die fynproewer, sê Bertus Els, die eienaar.

Daar is nou nie waterblommetjiebredie op die spyskaart nie, maar wel geregte met name soos Wille Wikus en Wille Dingo. Jy sal maar moet gaan uitvind wat dit is.

Afrikaans is #onmisbaar in die mond van sy mense.

Hoekom kan en wil jy nie sonder Afrikaans leef nie?

Vertel ons met #onmisbaar op sosiale media of stuur vir ons 'n WhatsApp na 064 652 6873.

Lees meer op Afrikaans.com!

Afrikaans.com
Afrikaans.com
Carryn-Ann Nel

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM