Volg ses doodgewone Suid-Afrikaners wat die Absa/City Press Money Makeover Challenge aanpak en aan 'n strawwe oormaaksessie met hul geldsake deurgaan.
Oor die volgende ses maande sal hul voorneme beproef word en sal hulle ook moeilike besluite oor elke aspek van hul finansies moet neem. Elke kandidaat het hul eie Absa- finansiële raadgewer gekry wat hulle sal bystaan om hul finansies te organiseer en hul persoonlike finansiële doelwitte te bereik.
Daar sal van die kandidate verwag word om sekere finansiële take te voltooi en by die begrotings te hou wat vir hulle uiteengesit is om aansporingspryse te wen of uiteindelik as die wenner aangewys te word. Persoonlike finansdeskundige Maya Fisher-French sal hul stories met jou deel en jou hopelik inspireer om jou eie geldreis te begin.

Johan: Vereffen skuld voor aftrede
Johan is gesiggestremd en in sy laat vyftigs. Soos baie mense wat hul 60ste verjaardag nader, is hy bekommerd oor sy geldsake met aftrede.
"Ek moet my skuld vereffen en my aftreefondse vermeerder, want ek het net sewe jaar oor om te werk voordat ek moet aftree," sê Johan. Sy vrou gaan ook na verwagting oor vier jaar aftree.
Hul kinders is finansieel onafhanklik, maar die egpaar het aansienlik baie opgehoopte skuld en die terugbetalings neem die grootste deel van Johan se salaris op. Sy vrou se salaris dek gelukkig die dag-tot-dag-uitgawes.
Dit maak dit vir Johan uitdagend om sy aftreefondse 'n hupstoot te gee en al sy skuld teen aftrede te delg.
My groot droom: "Om so gou moontlik skuldvry te wees."
Lees hieroor hoe om 'n gesonde verhouding met geld te hê.
My grootste finansiële fout: "Om teen ons huislening te leen en, wanneer die huislening ten volle betaal is, geld op my kredietkaarte te bestee."
Die sesmaande-plan:
- Word skuldvry voor aftrede.
- Bou 'n noodfonds.
- Doen behoorlike boedelbeplanning.
- Tree finansieel gesond af.
Sy raadgewer: Takalani Badugela is 'n gesertifiseerde finansiële beplanner by Absa, met meer as agt jaar ondervinding. Sy gee raad aan kliënte oor verskeie finansiële pilare: skuld, risiko, belegging, belasting en bankoorsigte.
Sy is drie jaar agtereenvolgend met die Topbeleggingstoekenning bekroon.
"My wens is dat Johan gemoedsrus sal hê met die wete dat daar na sy finansiële nood omgesien word en dat dit tot 'n einde sal kom. Ek is opgewonde om saam met hom te werk. Hy is baie gretig om sy finansiële situasie ten goede te verander."

Mlibokazi: Die aanpak van familieskuld
Mlibokazi is in haar vroeë dertigs en werk by 'n finansiële instelling. Baie van haar eweknieë wat in die finansiële bedryf werk, sal empatie met haar uitdagings hê.
Omdat sy toegang het tot voorkeurlenings, het Mlibokazi se familie haar onder druk geplaas om fondse te leen om hulle te help.
"Ek het baie dinge vir my familie in die Oos-Kaap gedoen. Ek het skuld gemaak om koste te dek en daar was drie groot gebeurtenisse waarvoor ek baie vinnig geld moes leen. Ek het 'n gunstige rentekoers gekry, maar ek het nie besef hoeveel dit was nie. Ek verdrink nou in die skuld - dit bekruip jou," erken sy.
Nog 'n uitdaging is dat Mlibokazi en haar man nie hul finansies bespreek nie, daarom het sy nog nooit haar finansiële situasie en familieverpligtinge met hom bespreek nie.
My groot droom: "Om 'n lewe te kan lei waar ek nie finansiële spanning ervaar nie en nie oor geld hoef te bekommer nie."
My grootste finansiële fout: Om soveel skuld aan te gegaan het, veral in so 'n kort tydperk.
Lees hier as jy berou het oor geldsake.
Die sesmaande-plan:
- Stel 'n gekombineerde gesinsbegroting op.
- Stel 'n skuldterugbetalingsplan op.
- Begin spaar vir noodgevalle.
- Begin maandelikse bydraes tot 'n uittree-annuïteit maak.
Haar raadgewer: Khathutshelo Ravele werk al vir sewe jaar as 'n gesertifiseerde finansiële beplanner.
Sy is mal oor haar werk, aangesien sy met mense werk en 'n verskil in hul lewe maak.
"My wens vir Mlibokazi is dat sy die finansiële geletterdheid sal hê wat haar die selfvertroue sal gee om die finansiële uitdagings wat sy tans in die gesig staar aan te pak, asook om haar finansies in die toekoms te bestuur."

Molefi: Finansiële onafhanklikheid teen 45
Grootdata-administrateur Molefi is 32 jaar oud en beoog om teen 45 finansieel onafhanklik te wees. Vir hom beteken finansiële onafhanklikheid dat hy sy eie konsultasiepraktyk kan begin.
Hy het egter ander lewensdoelwitte tussen nou en dan, wat sy groot doelwit kan belemmer as hy nie behoorlik daarvoor beplan nie.
Molefi wil graag 'n huis in die voorstede van Kaapstad koop, wat teen die huidige eiendomspryse 'n aansienlike groot deposito verg.
Hy beplan ook om te trou en wil graag in staat wees om vir sy vrou te kan sorg. "Ek wil in 'n sterk finansiële posisie wees om my toekomstige kinders 'n beter opvoeding te bied as wat ek gehad het."
My groot droom: "Om my eie onderneming in die tegnologiebedryf te hê, wat nie net innoverende oplossings vir die jeug sal bewerkstellig nie, maar tegnologiereuse sal ontwikkel."
My grootste finansiële fout: "Ek het vasgevang geraak in 'n beleggingsbedrogspul wat beleggings in kommoditeite uit China behels het."
Lees hier oor die voordele van vooruitbeplanning van jou begroting vir die daaropvolgende jaar.
Die sesmaande-plan:
- Begin kapitaal in 'n afsonderlike portefeulje opbou om sy troue te finansier.
- Begin spaar om sy huis te bou nadat hy getroud is.
- Hersien sy begroting en maak seker dat hy daarby kan hou terwyl hy sy PhD voltooi.
- Oorweeg dit om meubels aan te skaf, aangesien hy dit tans huur.
- Skep 'n plan om finansieel gereed te wees om oor tien jaar sy eie maatskappy te begin.
Sy raadgewer: Mcebisi Ndaba is 'n virtuele finansiële raadgewer by Absa, met 'n BCom in finansies. Hy werk al byna 15 jaar as finansiële raadgewer.
Hy is passievol daaroor om kliënte by te staan met die bou van 'n volhoubare finansiële toekoms en rykdom deur middel van 'n holistiese finansiële beplanningsbenadering.
"Molefi is die ideale jong professionele kliënt, aangesien hy nog op sy reis na finansiële onafhanklikheid is en besig is om te bou aan sy loopbaan. Hy het hoegenaamd geen skuld nie, wat indrukwekkend is vir iemand van sy ouderdom.
"Oor die volgende ses maande beplan ons om sy begroting te verfyn en planne te maak om sy doelwitte te bereik."

Raymond: Kos-entrepreneur
Raymond is in sy vroeë dertigs en het 'n klein restaurant in die Ngwelezane-township naby Empangeni, KwaZulu-Natal.
Hy het 'n passie en aanvoeling vir kos en hy skep watertand-etes, maar sukkel om die restaurant finansieel lewensvatbaar te maak. "Ek het sakebystand nodig oor hoe om meer inkomste te genereer en hoe om die onderneming se kontantvloei te bestuur."
Raymond is die pa van twee kinders en die broodwinner van die gesin.
Soos soveel jong Suid-Afrikaners het hy gesukkel om werk te kry en die enigste manier waarop hy vir sy gesin kan voorsien, is om 'n entrepreneur te wees en sy eie inkomste te skep, wat hy deur sy restaurant en boerdery doen.
Maar dit verg vaardigheid en kennis om 'n suksesvolle onderneming te bedryf - iets wat jong Suid-Afrikaners nie op skool geleer word nie.
My groot droom: "Om 'n professionele kitskosrestaurant te besit met die doel om werksgeleenthede te skep en om suksesvol te wees."
My grootste finansiële fout: "Om nie vir noodgevalle te spaar nie en meer te bestee as wat ek verdien weens te veel persoonlike behoeftes."
Die doelwitte:
- Onderskei tussen persoonlike, restaurant- en plaasfinansies.
- Oorweeg verskeie finansieringsopsies om elektrisiteit te installeer en 'n bromponie vir aflewerings aan te skaf.
- Verbeter sakebestuursvaardighede.
Sy raadgewer: Jacoline de Villiers is al agt jaar 'n finansiële raadgewer en put groot vreugde daaruit om kliënte te help om op hul gemak te voel met hul finansies.
"Ek wil graag hê Raymond moet sy droom bereik en die finansiële vryheid kry wat hy verdien deur genoeg kennis op te doen en vaardighede aan te leer om 'n suksesvolle sake-eienaar te word."
"Uiteindelik moet die boerdery die restaurant en homself van kos voorsien en op sy beurt moet die restaurant genoeg inkomste genereer om sy gesin gemaklik te onderhou."

Sello: Beginner-onderneming in vervaardiging
Sello is in sy vroeë veertigs en het 'n beginner-onderneming gestig met die doel om eko-vriendelike strooitjies vir restaurante en kleinhandelaars te vervaardig. Hy het persoonlike lenings aangegaan om die onderneming te begin, wat nog nie 'n inkomste genereer nie, aangesien Sello nog besig is om die prototipe te vervaardig. Tot dusver het hy die klein treetjies van sy onderneming uit sy salaris gefinansier. Sy doelwit oor die volgende ses maande is om sy eerste prototipes te vervaardig en sy sakeplan te verfyn sodat hy aansoek kan doen vir finansiering by die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK).
Hy fokus nou daarop om 'n klein pakhuis te vind waarheen hy sy twee masjiene kan skuif en waar sy twee deeltydse werknemers dit kan gebruik om die prototipes te vervaardig.
"Om my salaris te gebruik om die onderneming te finansier, help my nie om vinnig te beweeg nie, want ek het kinders op skool, 'n huislening, motorfinansiering en ander gesinsverantwoordelikhede, terwyl ek ook die lenings wat ek aangegaan het, moet probeer afbetaal."
My groot droom: "Om hierdie onderneming suksesvol te loods, dit te stabiliseer en te laat groei sodat ek eendag saam met my werknemers daarin kan werk."
My grootste finansiële fout: "Ek het in 2008 'n voertuig gekoop terwyl ek 'n kontrakwerk van net drie jaar lank gehad het. Ek het gedink ek sal daarna 'n ander werk kry. Ek het nie en het begin om die terugbetalings van my motorpaaiement te versuim nadat my werkskontrak tot 'n einde gekom het. Dit het my 'n veroordeling van vyf jaar teen my naam op die hals gehaal."
Die sesmaande-plan:
- Stel 'n sakeplan saam om aansoek te doen vir finansiering.
- Vereffen kleiner skuld om sy krediettelling te verbeter voordat hy vir 'n lening aansoek doen.
- Stel 'n behoorlike huishoudelike begroting op om bykomende fondse te vind om die skuld te delg.
- Hersien sy lewensdekking en boedelbeplanning.
Sy raadgewer: Philander Tshivhenga is al sewe jaar 'n finansiële raadgewer en staan graag mense by met hul finansiële behoeftes deur holistiese finansiële beplanning. "Ek sou graag wou sien dat Sello die finansiering ontvang wat hy vir sy onderneming nodig het. Sy energie, entoesiasme en bereidwilligheid om te leer, sal hom laat seëvier. Hy is so 'n doelgerigte man, en hy weet en verstaan waarheen hy sy onderneming wil sien groei."

Zihle: Werkbeginner en familieondersteuner
Zipho-Zihle is net 26 jaar oud en ondersteun albei haar susters nadat haar ma byna drie jaar gelede oorlede is. Haar jongste suster voltooi vanjaar matriek en die ouer een het pas aan die universiteit gegradueer, maar sukkel om werk in Gqeberha, in die Oos-Kaap, te kry.
Haar ma is oorlede kort nadat Zihle begin werk het, wat haar as die enigste broodwinner agtergelaat het. Zihle het skuld aangegaan sodat sy die rekeninge kon aanhou betaal.
"Ek het gedink ek kan dit mettertyd inhaal en het aanvanklik net 'n klein lening aangegaan, maar toe het die skuld net meer en meer geword. Ek is moeg vir die voortdurende kommer en die vrees dat ek nie in my en my gesin se behoeftes kan voorsien nie. Ek wil graag 'n manier vind om my skuld af te betaal en steeds aan my basiese behoeftes te kan voldoen."
My groot droom: "Om finansiële vryheid te hê om aan my drome te werk, soos om te studeer en my eie onderneming te begin."
My grootste finansiële fout: "Dat ek op 'n jong ouderdom skuld aangegaan het en nie gespaar het nie. Dit het daartoe gelei dat ek afhanklik is van skuld en dit bedreig my finansiële sekuriteit."
Die doelwitte:
- Kry ekstra geld in haar begroting om haar skuld te verminder.
- Handel haar ma se boedel af en dra die eiendom in die drie susters se name oor.
- Hersien haar versekering om dekking teen 'n laer koste te verbeter.
- Begin spaar vir haar aftrede.
- Stel 'n testament op.
Haar raadgewer: Anton Battiss het by Absa as finansiële raadgewer aangesluit nadat hy as prokureur gekwalifiseer het. Hy het besluit om in finansiële raadgewing te spesialiseer eerder as om in die regte te praktiseer omdat hy mense wou help om hul finansiële doelwitte te bereik. "Niks maak my gelukkiger as wanneer 'n kliënt vir my sê hulle voel meer op hul gemak nadat hulle met my gepraat het nie, want dis asof 'n groot gewig van hul skouers gelig is."
Sy wens vir Zihle is finansiële gesondheid: "Sy is 'n jong professionele persoon en behoort die vrugte van haar harde werk en studies te kan pluk en geniet."
City Press sal die kandidate se vordering op die eerste en derde week van elke maand volg, sowel as aanlyn op die Money Makeover-blad:
- https://media24.shorthandstories.com/moneymakeover/
- Jy kan die storie op sosiale media volg #CPMoneyMakeover
- Facebook: @CPMoneyMakeover
- Twitter: @CPMoneyMakeover
Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die adverteerder. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produk nie.
















