Gaste op Netwerk24 en Die Burger se jaarlikse vroueoggend op 21 Oktober kan uitsien na 'n propvol program. Vanjaar se tema is die krag van vrouwees.
Tracey Lange is die programleier, terwyl televisiesjef en kookboekskrywer Marinda Engelbrecht gaste 'n ding of twee in die kombuis gaan leer. Die bekroonde skrywer Marita van der Vyver kuier ook op die verhoog. Verder kan gaste uitsien na van die Suidooster-akteurs wat saam gaan kuier.
Persoonlike stilis Rozanne Serdyn gaan 'n styl-persoonlikheidsanalise doen, terwyl gewilde plaaslike sanger Rouchelle Liedeman gaste gaan vermaak met haar pragtige stem.
Daar sal oudergewoonte 'n propvol geskenksak wees vir elke vrou, keurige eet- en drinkgoed asook stalletjies waar jy kan snuffel en koop na hartelus.
Die geleentheid vind weer by die Kronenburg-landgoed in die Paarl plaas. Dit begin om 09:00 en sal rondom 12:30 ten einde loop.
Kaartjie inligting
Maak seker jy bespreek jou plek! Kaartjies kos R450 en is beskikbaar op Quicket.co.za.
Vir meer inligting of om as 'n borg betrokke te raak, stuur e-pos aan carlin.daniels@media24.com.

















