Vir avontuurlustiges is kampeer amper tweede natuur en die ideale buitemuurse aktiwiteit. Maar, wat as jy niks van die buitelewe weet nie en kampering graag deel van jou doenlysie wil maak? Moet jou nie te veel bekommer nie, want daar is gelukkig baie hulpbronne tot jou beskikking.
Rensche Dalziel, stigter van die Matzikama-voetslaanklub, sê die eerste ding waarna jy moet kyk, is watter omgewing jy wil besoek, watter tyd van die jaar jy wil gaan en die kostes per dag na gelang van die omgewing."Ons verkies om nie te gaan wanneer dit te warm is nie en verkies maande soos Maart. Dit sal nooit in November, Desember, Januarie of Februarie wees nie."Sy sê in die winter is dit ongemaklik en gevaarlik met die nat terreine. Jy moet ook jou medestappers se veiligheid in ag neem, sou julle 'n groter groep wees. As die weer te warm is, bring dit slange mee en die hitte kan ook tot dehidrasie lei."
Hoewel elkeen hulle eie voorkeur het oor wanneer hulle wil gaan kamp, is dit tog belangrik om voorbereid te wees en bewus te wees dat die weer kan verander.
Hier is 'n paar wenke wat jy kan volg:
- Hou jou oog op die weervoorspelling: Hoewel dit nie altyd akkuraat is nie, kan jy 'n idee kry waarvoor om voor te berei.. Beplan jou aktiwiteite: Jy kan op jou kampeerplek se webtuiste kyk na al die aktiwiteite wat jy kan doen en dit by jou dae indeel.
- Pak lig: Hoe jy pak, hang natuurlik af van die soort kamp wat jy beoog. "As jy oornagkampe soos dié op staproetes doen, is dit belangrik om lig te pak, want jy gaan alles met jou saamdra," sê Dalziel.
- Beplan jou etes vooraf: Dit is baie makliker om kampkos te kook as jy presies weet watter bestanddele jy gaan nodig hê. Jy kan ook voorbereide kosse koop as jy nie wil kook nie.
- Kyk uit vir afslag op kampering: Met die internet tot jou beskikking, kan jy uitvind wanneer jy minder vir kampeergeriewe sal betaal.
- Neem 'n noodhulpkissie saam: Hopelik hoef jy dit nie te gebruik nie, maar jy sal darem die basiese benodigdhede hê indien nodig.. Moenie onder 'n boom kamp nie: Hoewel dit mooi op foto's lyk, kan dit probleme veroorsaak. In erge wind kan boomtakke afbreek en skade aan jou tent aanrig.
- Pak 'n kragbank: Hoewel die meeste kampeerterreine elektrisiteit het, is dit beter om voorbereid te wees as jy byvoorbeeld 'n staproete gaan doen.
- Let op die reëls van jou kampeerplek: Die meeste plekke sal riglyne hê. Maak seker jy weet vooraf wat dit is en dat almal daarmee gemaklik is.
- Koop 'n groter tent as wat jy dink jy benodig: Die grootte van die tent word aangedui deur die maksimum aantal mense wat daarin kan slaap. Dit is egter beter om ekstra plek te hê vir jou persoonlike items. Dalziel sê dat daar verskeie vierseisoen-tente beskikbaar is wat geskik is vir enige klimaatstoestand.
- Maak seker jou slaapsak is voldoende: Jou slaapsak is jou grootste bron van hitte wanneer jy slaap. Belê in 'n slaapsak wat gemaklik, liggewig en duursaam is. "Dit moet ook geskik wees vir alle weerstoestande," voeg Dalziel by.
Onthou dat jou noodsaaklikhede gaan verskil na gelang van die soort kamp wat jy doen en of jy betaal vir verblyf of nie, sê sy. Moet egter nie so vasgevang raak in al die beplanning, dat jy vergeet om pret te hê nie! "Onthou, die beste herinneringe is eenvoudig - blikbekers- en borde, malvalekkers en stilte," sê Dalziel.
Bykomende bron:Camping in the forest
Probeer gerus dié lekker plekke:
Monks Holiday Park

Die Monks Holiday Parkgrens aan die lieflike Knysna-strandmeer en is loopafstand van die dorp. Daar is 22 kampplekke met elektrisiteit en silwerskoon ablusiegeriewe. Monks bied jou toegang tot die strandmeer, visvang, groot karavaan- en kampeerplekke met gras, ablusieblokke met warm en koue water, badkamers, storte en spoeltoilette. Daar is ook chalets, kamers en karavane te huur. Winkels, petrolstasies en al Knysna se aanloklikhede is slegs vyf minute weg!Vir meer inligting skakel gerus 082 455 8144, 0721815985 of stuur e-pos.
Cape Mobi Adventure

Cape Mobi Adventure is 'n geakkrediteerde Mobi Lodge & Mobi Golf Cart-agentskap in die Wes-Kaap. Hulle is geleë in Malmesbury in die hartjie van die Swartland. Cape Mobi Adventure het 'n volledige dienssentrum en vertoonlokaal met Mobi Lodge & Mobi Golf Cart se nuutste produkte. Maak gerus 'n afspraak met Reghardt van Vuuren by 082 322 8325 of gaan kuier vir hulle by die kykNET Buitelugekspo vanaf 25 tot 27 Maart op die Môreson-plaas buite Malmesbury.
Sanddrif-vakansieoord

Die Sanddrif-vakansieoord is geleë op die plaas Dwarsrivier, tuiste van Cederberg-wyne en sowat 250 km noord vanaf Kaapstad. Dié plaas lê in die hartjie van die Cederberg Wildernis-gebied, bekend vir sy interessante rotsformasies, pragtige uitsigte, rotskuns en fynbos. Verblyf by Sanddrif behels selfsorgkothuise en kampeerterreine met elektrisiteit. Aktiwiteite vir natuurliefhebbers en avontuurlustiges sluit in staptogte, rotsklim, bergfietsry, voëlkyk en vele meer. Daar is ook wynproe by Cederberg Wines en Cederberg Brewery se yskoue vlytbier is te koop by die plaaswinkel. Vir meer inligting skakel gerus 027 482 2825 of stuur e-pos.
Wolfkop Camping Villages

By Wolfkopkan jy sorgvrye kampering met die beste toerusting wat reeds vir jou opgestel is, op die oewer van die Olifantsrivier ervaar. Elke kampeer-villa kan agt mense huisves. Daar is ook 'n vuurput, losstaande braai, 'n leefvertrek, eettafel en -stoele asook tente met beddegoed. Jy het 'n keuse van verskeie kampterreine, of dit nou vir 'n gesinsvakansie, 'n viering of selfs 'n troue is. Gaan geniet 'n ontspanne wegbreek met 'n verskeidenheid keuses van kampeergeriewe! Vir meer inligting stuur 'n WhatsApp-boodskap na 076 017 4905 of stuur e-pos.
Bulshoekdam-vakansieoord

Kom weg van al die gejaag en geniet die skoonheid van die natuur waar die Olifantsrivier en Bulshoekdam mekaar naby Clanwilliam ontmoet. Hierdie vakansieoord se selfsorgverblyfopsies is geskik vir mense met verskillende smake en begrotings, insluitend driester-kothuise met satelliettelevisie en lugversorgers, eenvoudige houthuise, mobiele huise, karavane en kampering. Die rustige omgewing bied uitstekende geleenthede vir voëlkyk en skilderagtige komberse wilde lenteblomme tussen die Kaapse fynbos. Vir avontuurlustiges is daar uitstekende watersport. Vir meer inligting skakel gerus 072 124 7747 of stuur e-pos.
Lake Pleasant-vakansieoord

Hierdie vreedsame, skaduryke oord lê halfpad tussen Wildernis en Knysna op die oewer van Groenvlei, die Tuinroete se enigste varswatermeer. Lake Pleasant bied kothuise, lodges asook karavaan- en kampeergeriewe langs die water. Jy het toegang tot 'n muurbalbaan, restaurant, kroeg, winkel en wegneemetes, asook verskeie wateraktiwiteite. Die oord is trots op die drie sterre wat sedert 2002 jaarliks vir hul selfsorggeriewe deur die Toerismegraderingsraad van Suid-Afrika toegeken word. Vir meer inligting skakel gerus 044 343 2662.
Slanghoek-bergoord

Die Slanghoek-bergoord se kampeerplek lê knus tussen die wingerde van die Slanghoekvallei. Tente en karavane word langs 'n kabbelende stroom opgeslaan, omring deur groen gras met genoeg speelplek vir kinders. Elke kampeerplek het sy eie badkamergeriewe, 'n kragpunt en braaigeriewe. Dinge wat jy hier kan doen om besig te bly, sluit in minigholf, swembaddens, klimrame en visvang in die dam naby die kampeerplek. Daar is ook 'n kort staproete vir die hele gesin met 'n ongelooflik uitsig oor die vallei. Vir meer inligting skakel gerus 023 344 3138 of stuur e-pos.
Bonnievale River Lodge

Bonnievale River Lodge bied stylvolle selfsorg- of bed-en-ontbyt-verblyf in die hartjie van die Robertson-wynvallei. Daar is ook 'n kampterrein met volop bome teen die rivier. Dit is teen die Breederivier naby aan die dorp geleë. Tussen die wynplase kan gaste 'n egte plattelandse ervaring geniet, slegs 'n klipgooi van die beskawing en wonders van die omgewing. Of jy nou vir besigheid of ontspanning toer, hulle het alles wat jy nodig het vir 'n sorgvrye verblyf. Vir meer inligting skakel gerus 081 799 2151 of stuur e-pos.













