Die stewige herstel ná die Covid-19-pandemie het meegebring dat belastinginkomste in die jaar tot einde Maart 2022 met 25% of R314,1 miljard gestyg het.
Dit was 'n vinniger herstel as van vorige eksterne skokke, moontlik omdat die ekonomiese krisis wat weens die pandemie ontstaan het, kunsmatig deur die inperkings veroorsaak is.
Dit is van die inligting vervat in die 15de jaarlikse verslag van belastingstatistieke wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die nasionale tesourie Vrydag uitgereik het.
Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, en Ismail Momoniat, waarnemende direkteur-generaal van die tesourie, sê in die verslag dit het byvoorbeeld jare geduur voordat belastinginkomste ná die internasionale finansiële krisis van 2008 herstel het.
Die jongste verslag bied ook 'n oorsig van die belastingjare van 2018 tot 2022 en die begrotingsjare van einde Februarie 2018 tot 2022.
Ander inligting in die verslag sluit in:
1. Meeste nog geregistreer vir belasting
- Die individue wat vir persoonlike inkomstebelasting geregistreer is, het met 17% van 21,1 miljoen in 2018 tot 24,8 miljoen einde Maart 2022 gestyg. Dit kom nadat die SAID in 2010 nuwe vereistes gestel het dat almal wat formeel in diens is, ongeag hul belastingaanspreeklikheid, geregistreer moet word. Dit is die meeste nog. In 2010 was net 5,9 miljoen belastingbetalers geregistreer.
- Die SAID het meer as 18,3 miljoen belastingsertifikate vir werkers gekry vir die belastingjaar tot einde Maart 2022. Van hulle is sowat 13,3 miljoen as unieke belastingbetalers geïdentifiseer. Dit is nie 'n aanduiding van hoeveel mense in die formele arbeidsektor in diens is nie omdat diegene wat voordele van aftreefondse of annuïteite kry, ook belastingsertifikate ontvang.
- Die getal maatskappye wat geregistreer is vir belasting het van 3,1 miljoen in 2021 tot 3,5 miljoen in 2022 gestyg. Die beduidende styging van 420 137 word toegeskryf aan meer maatskappye wat van die Kommissie op Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) se outomatiese registrasieproses gebruik maak. In 2017 was meer as 3,7 miljoen geregistreer. Dié getal het in 2019 met 36% tot net meer as 2 miljoen gedaal toe onaktiewe maatskappye van die register af verwyder is.
- Die getal werkgewers wat vir die lopende betaalstelsel (LBS, Engels PAYE) geregistreer is, het met 2,3% tot 632 599 gestyg. Dit is die meeste nog, volgens beskikbare inligting op die SAID se webtuiste.
- 941 406 ondernemings was vir BTW geregistreer, ook die meeste nog.
- Daar was 332 970 geregistreerde invoerders en 299 793 geregistreerde uitvoerders. Albei getalle het effens afgeneem van die vorige jaar.
2. Belastinginvordering groei stadiger
Oor die kwarteeu van die SAID se bestaan het sy belastinginvordering van R147,3 miljard in 1996 tot R1 563,8 miljard in 2022 gegroei.
'n Saamgestelde jaarlikse groeikoers van 9,9% is oor die tydperk bereik.
Van 2018 het die belasting wat ingevorder is teen 'n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 6,5% gegroei.
Die beduidende laer groei as die 8,4% van 2013 tot 2018 is toegeskryf aan die lae ekonomiese groei die afgelope jare.
3. 5,5 miljoen aangeslaan
Die individue wat na verwagting belastingopgawes vir persoonlike inkomstebelasting sou indien, het van 7,1 miljoen in die 2018-belastingjaar tot 6,4 miljoen in die 2021-belastingjaar gedaal nadat die drempel vir die indiening van opgawes verhoog is.
- Van dié belastingpligtiges is 5,5 miljoen (86% van dié wat na verwagting sou opgawes indien vir die 2021-belastingjaar) aangeslaan.
- Dié belastingbetalers het 'n totale belasbare inkomste van R1 800 miljard en 'n belastingaanspreeklikheid van R388,1 miljard gehad.
- Die gemiddelde belastingkoers was 21,4% vergeleke met 22,3% in die vorige belastingjaar.
- Die meeste belastingbetalers was in Gauteng waar 39,5%, of 2,1 miljoen, geregistreer is.
- Gauteng het die hoogste gemiddelde belasbare inkomste van R385 711 gevolg deur die Wes-Kaap met R319 593.
- Van die belastingpligtiges in Gauteng woon 726 663 in Johannesburg. Hul gemiddelde belasbare inkomste was R446 739.
- 1,4 miljoen (26%) van die aangeslane belastingpligtiges was tussen 35 en 44 jaar oud.
- 47,4% van die belastingbetalers was vroue en 51,9% was mans. Die res kon nie in terme van geslag geïdentifiseer word nie.
- Die belasbare inkomste vir vroue was R753,2 miljard en die belastingaanspreeklikheid R140,2 miljard. Die belasbare inkomste vir mans was R1 039,9 miljard en die belastingaanspreeklikheid R239,6 miljard. Die gemiddelde belastingkoers vir hulle was onderskeidelik 18,6% en 23%.
- Vroue het gemiddeld 16% minder as mans verdien gemeet aan die belasbare inkomste en is gemiddeld aanspreeklik vir 26% minder belasting as mans.
4. Meeste kry terugbetalings
Luidens die verslag het 14,7% van die individue wat aangeslaan is vir belasting iets aan die SAID geskuld, 18,7% is vir niks aangeslaan nie en 66% het 'n terugbetaling ontvang.
5. Baie maatskappye het aangeslane verlies
Die meeste van die 3,5 miljoen maatskappye wat vir maatskappybelasting geregistreer was, was onaktief of dormant.
Van dié wat geregistreer was in die 2021-belastingjaar, sou net 1,1 miljoen na verwagting opgawes indien. Teen die tyd dat die inligting vir die verslag onttrek is, was nog net 67% van hulle aangeslaan.
In die 2020-belastingjaar het 21,4% wat opgawes ingedien het 'n positiewe belasbare inkomste verklaar. Sowat die helfte het geen belasbare inkomste verklaar nie en 'n kwart het 'n aangeslane verlies verklaar.
Sowat 57% van die belasting wat in dié belastingjaar aangeslaan is, is deur groot maatskappye betaal (wat 'n belasbare inkomste van meer as R200 miljoen het). Dit is sowat 371 groot maatskappye wat soveel belasting betaal.
Maatskappybelasting bly die derde grootste bydraer tot belastinginkomste die afgelope 13 jaar ná persoonlike inkomstebelasting en BTW.
Die finansiële sektor en die mynbedryf is die grootste belastingbetalers.
6. BTW ingevorder
Daar is 941 406 maatskappye, individue, trusts en vennootskappe vir BTW geregistreer, waarvan die helfte (470 237) aktief is.
Maatskappye en beslote korporasies verteenwoordig 80% van dié BTW-geregistreerdes en individue 14,8%.
Die netto BTW wat binnelands ingevorder is in die 2021-'22-fiskale jaar het R447,3 miljard beloop, 'n toename van 14%. Die groei is toegeskryf aan die ekonomiese herstel ná die inperkings tydens die pandemie.
7. Hoogste invoerbelasting
In die fiskale jaar tot einde Maart 2022 was die hoogste effektiewe invoerbelasting op skoene en bykomstighede (43,6%); velle en leer (37%) en tekstiel en klere (30%).
Die meeste BTW van invoer is ingevorder van masjinerie en elektroniese produkte (25,6%). Die grootste bydraers tot doeane was voertuie, vliegtuie en vaartuie (22,7%) gevolg deur tekstiel en klere (17,3%).
8. Tantième verdubbel
Die tantième wat betaal word deur myne het met R14,2 miljard tot R28,5 miljard gestyg danksy die groot verhoging in die pryse van platinum, ystererts en steenkool. Dit is veel hoër as in die boekjaar tot einde Maart 2017 toe dit met R2,1 miljard of 56% gestyg het.
9. Belastingverligting
Iemand wat in 1995 'n belasbare inkomste van R100 000 gehad het, sou belasting teen 'n gemiddelde koers van 33,8% betaal het. Indien dié belasbare inkomste met inflasie tred gehou het, sou die gemiddelde belastingkoers tot 40,9% gestyg het in 2021.
Die aanpassing wat aan die inkomstebelastingkerwe gemaak word, help dié impak teenwerk. Die impak van die aanpassings van 1995 tot nou verlaag die gemiddelde belastingkoers tot 20%.
10. Meestal elektronies ingedien
In 2006 het feitlik nog alle belastingbetalers hul opgawes op papier ingedien. Nou dien minder as 1% dit só in. Die res gebruik eerder die elektroniese diens.
Van die 2017-belastingjaar tot 2021 het 40 500 belastingbetalers aangedui hulle is nie meer 'n belastinginwoner van Suid-Afrika nie.





















