Dit kos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sowat 80c om R100 se belasting in te samel, wat beter is as die internasionale norm van R1 om R100 se belasting in te vorder.
"Dís mos van die beste opbrengs op 'n belegging wat jy kan kry," sê Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

As die belastinggaarder vanjaar nog R1 miljard van die tesourie ontvang, sal die SAID "gemaklik enigiets tussen R10 miljard en R100 miljard ekstra kan insamel", sê Kieswetter.
Enoch Godongwana, minister van finansies, het in sy begrotingsrede gesê die SAID se beursie sal 'n inspuiting kry vir onder meer kapitaal- en IKT-projekte en om sy hande te versterk vir invordering.
Die bedrag sal in 'n brief aan die kommissaris gekommunikeer word.
Die minister het die SAID ook geprys vir sy harde werk om in die huidige boekjaar sowat R94 miljard meer in belastinginkomste vir die staatskas te in as wat in Februarie verlede jaar voorsien is. Dít te midde van moeilike ekonomiese omstandighede vir verbruikers en sakeondernemings.
Kieswetter sê dié prestasie spreek van die 12 500 SAID-amptenare se besef van 'n roeping en dat hul werk verandering bring en die lewens van miljoene Suid-Afrikaners raak.
"Daar is duisende SAID-personeellede wat hierdie sentiment deel. Dit vul my met matelose trots en dis 'n voorreg om 'n organisasie soos die SAID te lei."
Die afgelope twee jaar het die SAID bykomende belasting van meer as R300 miljard ingesamel.
Kieswetter sê die beter as verwagte insameling hou verband met die "voldoeningsdividend".
Suid-Afrikaanse belastingbetalers se voldoeningsvlak (dat hulle hul volle belastingplig nakom) het die afgelope jaar van 61% tot 64% verbeter.
Dit beteken daar is nog meer as 30% wat nie alles aan Jan Taks betaal wat hulle moet nie.
Nog beter nakoming kan nog baie bykomende rande vir die staatskas beteken.
Hy sê dis nie 'n eenvoudige som nie, maar ruweg bereken beteken dit as voldoening van 64% totale belasting van R1 600 miljard lewer, kan die ander 30% maklik R200 miljard tot R300 miljard per jaar se bykomende belasting beteken.
Kieswetter sê die bykomende R94 miljard in die staat se koffers is danksy " 'n klomp klein goedjies" wat SAID-personeel met volgehoue dissipline, noulettendheid en vasbeslotenheid doen. Dit sluit in:
- 1,4 miljoen gevalle van belastingskuld wat afgehandel is deur nóg 'n oproep of SMS aan die belastingbetaler, 540 000 finale aanmaningsbriewe wat uitgestuur is. Dit het R60 miljard se belasting ingebring.
- Doeanepersoneel wat in die belastingjaar 4 700 beslagleggings gedoen en vrag wat die land binnekom, geïnspekteer het vir onder meer onwettige goedere of onderverklarings. Daarmee is R3 miljard se belasting ingevorder.
- Doeane-oudits en voldoeningswerk om te verseker belastingbetalers kom hul volle belastingplig na, wat nog R10 miljard ingebring het.
- Die uitgebreide gebruik van data en kunsmatige intelligensie om bedrogrisiko's uit te lig waar die BTW-terugbetalingstelsel "aangeval" word. Dit het die uitvloei van sowat R62 miljoen se onregmatige BTW-terugbetalings gekeer.
Vroeg in Februarie voordat SAID-personeel geweet het wat die minister die Woensdag oor belastinginvordering sou sê, het Kieswetter in 'n brief aan personeel gaan leen uit Al Pacino se motiveringspraatjie aan sy Amerikaanse voetbalspan in die fliek Any Given Sunday.
Pacino verwys na die sentimeters wat die span nodig het om te seëvier, wat oral om hulle is.
"Vir die SAID beteken die sentimeters nog een telefoonoproep na 'n belastingbetaler, nog een brief, nog een belastingopgawe om na te gaan, nog R100 se belastingskuld om in te vorder."
Ons maak seker dat wanneer ons 'n lêer aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oorhandig, dit gereed is vir vervolging met die nodige lugdigte bewyse daarby.
Die SAID het ook die afgelope jaar verskeie belastingsake in die hof gewen.
"Ons maak seker dat wanneer ons 'n lêer aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oorhandig, dit gereed is vir vervolging met die nodige lugdigte bewyse daarby."
Wat strafregtelike sake soos bedrog betref, het die SAID 178 sake aan die NVG oorhandig: 94 is afgehandel, met 92 skuldigbevindings wat gesamentlike tronkstraf van meer as 75 jaar behels.
Sowat 40 BTW-verwante sake is afgehandel: 29 is in die SAID se guns beslis, twee vir die verweerder, en vyf is deur die belastingbetalers teruggetrek.
Kieswetter sê dit gee 'n warm gevoel in die hart as jy besef die bykomende R94 miljard is geld wat die minister nie in die mark hoef te gaan leen teen hoë rentekoerse nie. Dus kan die staat meer geld bestee op die talle gebiede waar dit nodig is om landsburgers se lewensgehalte te verbeter.
"Staan vir 'n oomblik stil en vra jouself af wat dié hoër belastinginkomste vir Suid-Afrika beteken . . .
"Dit is waarop ons trots is."
Kieswetter, wie se kontrak volgende jaar eindig, het die afgelope week gesê hy is nie beskikbaar om 'n tweede termyn as Jan Taks se grootbaas aan te durf nie. Hy het ook bespiegeling ontken dat hy moontlik André de Ruyter as uitvoerende hoof van Eskom kan opvolg.




















