Begroting

Alternatiewe begroting: ‘DA sal nie belasting verhoog’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Jaco Marais
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Jaco Marais

Die DA sal buitelandse beleggings lok en binnelandse markte ontwikkel om die ekonomie te laat groei en die rand te laat stabiliseer, het dr. Dion George, DA-woordvoerder oor finansies, Maandag gesê.

Hy het as deel van die DA se alternatiewe begrotingsrede wat die party tradisioneel voor die jaarlikse nasionale begroting lewer, gesê die DA sal sistemiese korrupsie pak en binnelandse besparing aanmoedig.

Sonder spaar sal daar minder beleggings wees, en sonder beleggings is daar nie vooruitgang nie. Om meer op binnelandse spaar te steun, hoef 'n land minder afhanklik te wees van internasionale finansiering.

Dit sal die binnelandse finansiële markte ontwikkel.

Ashor Sarupen, DA-LP wat ook oor finansies praat, sê met die regering se miljarde wat in staatsondernemings ingepomp is, is daar net geld verkwis en besteding aan ander belangriker kwessies weggekalwe.

Daar is dringende hervorming nodig in energie, vervoer, water en telekommunikasie, maar die DA is gekant teen enige reddingsboei vir staatsondernemings, sê Sarupen.

Die ongekende kragonderbrekings in 2023 het vanjaar voortgegaan. Deur 'n monopolie op energie vol te hou, het die regering die land se inwoners onderwerp aan armoede weens die skerp styging in kospryse. Groot kosprodusente moet geld bestee aan kragopwekkers pleks daarvan om in hul ondernemings te investeer.

Sarupen sê hy was 'n tiener toe beurtkrag in 2007 begin het. Sedertdien kon die regering nog nie Eskom regruk nie. Die kragkrisis kos die Suid-Afrikaanse ekonomie R1,5 miljard tot R4 miljard per dag.

Dr. Dion George, DA-LP en partywoordvoerder oor finansies. Foto: Melinda Stuurman
Dr. Dion George, DA-LP en partywoordvoerder oor finansies. Foto: Melinda Stuurman

Wat Eskom se skuldverligting deur die regering betref, meen Sarupen dit is nie lewensvatbaar om meer skuld van Eskom oor te neem nie. Dit raak nie die ware oorsake van Eskom se probleme aan nie, en die DA sal dit nie steun nie.

Die DA sal veral nie enige poging steun om die staat se goud- en valutareserwes se gebeurlikheidsfonds te gebruik om gate toe te stop nie.

Die DA sal nie belasting verhoog nie, sê George.

Die party sal glad nie 'n verhoging in BTW steun nie, het hy gesê in reaksie op bespiegeling dat soiets oorweeg word.

Die DA se alternatiewe begroting fokus op vier beleidsprioriteite:

1. Vestig die fondasies vir volgehoue groei wat werk skep

Dit kan gedoen word deur buitelandse kapitaal te lok, binnelandse spaar aan te moedig, staatsondernemings te herstel, verswakte infrastruktuur te herstel, instellings te versterk wat korrupsie beveg, deelname aan die arbeidsmark uit te brei, en om klein en groot ondernemings te help om uit te brei.

2. Herstel die kragsektor om volgehoue kragonderbrekings te pak

Dit kan behaal word deur Eskom te ontbondel en die kragmark vir onafhanklike kragprodusente oop te maak.

Eskom moet sy verkrygingsprosesse meer vaartbelyn maak om private kapasiteit toe te laat.

3. Bereik fiskale stabiliteit deur beheerde staatsbesteding en skuldverlaging

Onder die ANC-leierskap is die staat 'n verbruikende entiteit wat voortdurend hulpbronne van die ware welvaartskeppers opsuig. Die DA stel 'n raamwerk van fiskale besuiniging voor om 'n primêre begrotingsoorskot te bereik.

4. Steun kwesbare Suid-Afrikaners deur welsynstoelaes te beskerm

George stel voor dat die armoedetoelaag omskep word in 'n werksoekerstoelaag.

Met besparings met geteikende besteding en besnoeiings meen die DA hulle kan welsynstoelaes verhoog.

Daar is ook verskeie maniere waarop belastingverligting gegee kan word. Die DA sal die mandjie van kosprodukte wat van BTW vrygestel word, verder uitbrei en die belasting op brandstof verlaag.

As die DA die verkiesing wen, sal die drempel op belasting op rente-inkomste tot R500 000 verhoog word, en die jaarlikse bydrae tot belastingvrye spaarrekeninge tot R100 000, sê George.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM