Pres. Cyril Ramaphosa het Saterdag besluit om 'n 3%-verhoging aan alle openbare amptenare toe te ken.
Die presidensie sê in 'n verklaring dat Ramaphosa teen die voorstel van die Onafhanklike Kommissie vir die Vergoeding van Openbare Ampsdraers besluit het om aan amptenare 'n 3,8%-verhoging toe te ken.
Volgens die presidensie sal onafhanklike grondwetlike instansies, regters, magistrate en tradisionele leiers net 'n 3%-verhoging ontvang weens die "ernstige ekonomiese uitdagings" wat die land in die gesig staar.
Vir baie is dié verhoging egter steeds te hoog.
Die vakverbond Cosatu het Sondag uitgevaar teen Ramaphosa se "horende doofheid".
"Regters tot by die konstitusionele hof het die saak van staatsdienswerkers verwerp wat wou hê dat die regering die geld wat hulle toekom uit die derde been van 'n driejaar-loonooreenkoms, ingevolge resolusie 1 van 2018, aan hulle moet betaal," lui Cosatu se verklaring.
"Tog verwag die regbank verhogings vir homself met verwysing na stygende lewenskostes, terwyl hy min daarvan gedink het om dieselfde rasionaal vir swak betaalde skoonmakers, onderwysers, veiligheidswagte en ander staatsamptenare af te wys."
Volgens Cosatu is dit skynheilig van die regering om aan te voer dat die rede vir die toekenning van 'n verhoging aan openbare amptenare is om te keer dat dié belangrike werknemers "ontmoedig" word.
"Dit terwyl die regering min omgegee het om stakings van verhogings of onder-inflasie-verhogings in te stel op polisiebeamptes, verpleegsters en dokters wat 48-uur-skofte werk en selfs nie in ag neem dat veral die polisie minstens weekliks lede verloor weens misdadige aanvalle nie.
"Die groot salarisse en voordele wat aan politieke ampsdraers en senior burokrate betaal word, is die bron van die bestaande ongelykhede en onaanvaarbare inkomsteverskille wat tans in die staatsdiens bestaan.
"Die nederige staatsamptenare soos polisiebeamptes, verpleegsters en onderwysers sal gemiddeld nege volle jaar moet werk voordat hulle 'n jaarlikse salaris gelykstaande aan dié van 'n direkteur-generaal of 'n regter verdien."
Die vakbond Nehawu het ook vurig die verhogings veroordeel.
Dié vakbond, wat verantwoordelik was vir 'n verwoestende en onbeskermde staking vroeër vanjaar oor hul eie klein verhogings, sê Ramaphosa se besluit is "hoogs oneties".
Die verhoging wat toegeken is aan openbare ampsdraers sal terugwerkend uitbetaal word vir die 2022-'23-boekjaar wat einde Maart vanjaar geëindig het.
Die volledige verslag wat nog aan die parlement verskaf moet word, sal die presiese besonderhede oor die verskillende vergoedingsvlakke van die ampsdraers bevat.

















