Begroting

Diplomate moet nou minder drink – net ’n bottel per dag!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Drankverkope hervat op 1 Junie, maar winkels pleit dat almal nie op dié dag probeer om hul voorraad aan te vul nie. Foto: Pixabay
Drankverkope hervat op 1 Junie, maar winkels pleit dat almal nie op dié dag probeer om hul voorraad aan te vul nie. Foto: Pixabay

'n Druppende kraan van belastingverliese van minstens R100 miljoen per maand kan deur 'n uitspraak van die konstitusionele hof toegedraai word.

Dit kom nadat vier tariefvrye drankhandelaars pas Dinsdag in dié hof bloedneus gekry het.

Die saak spruit uit die ontdekking in 2019 deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking dat diplomate van ander Afrikalande sakkevol geld maak uit die herverkoop van drank wat hulle danksy hul konsulate se drankkwotas tariefvry by dié handelaars kon koop.

Die raming in 2021 was dat die SAID weens dié praktyk tot R100 miljoen per maand se aksyns en belasting op toegevoegde waarde (BTW) verloor het.

Die departement het in Junie 2021 gesê een diplomaat het in drie maande R36 miljoen bestee om drank te koop by van die drankwinkels, om dit dan teen 'n wins te verkoop. Die diplomaat was glo lid van 'n sindikaat.

Diplomate van Lesotho en Malawi is in daardie stadium versoek om die land te verlaat en hul diplomatieke immuniteit is herroep.

Diplomatieke amptenare van Rwanda, Ghana, Burundi en Guinee is ook geïdentifiseer as van die mense wat hulle aan dié praktyk skuldig gemaak het.

LEES OOK | SA gee diplomate trekpas oor onwettige drank

Om die probleem te takel het Tito Mboweni, die vorige minister van finansies, al in April 2021 wysigings aan die BTW-wet en die Doeanewet aangebring. Dit was nadat hy al in die begrotingsrede van 2019 aangekondig het die belastinghantering van tariefvrye winkels gaan hersien word.

Om skurkagtige diplomate te keer om hul voorregte te misbruik deur buitensporige hoeveelhede tariefvrye alkohol- en tabakprodukte te koop, net om dit vir hul persoonlike wins te herverkoop, is 'n legitieme doelwit.

—  Regter Steven Mathopo

Dit was om 'n kwotastelsel in te stel om die ongeoorloofde herverkoop van tariefvrye drank- en tabakprodukte deur diplomate hok te slaan. Dit het ook in sekere situasies BTW-aanspreeklikheid op invoerders, insluitend tariefvrye handelaars, afgedwing.

Dit is teen dié wetswysigings deur die minister dat die drankhandelaars Nu Africa, Ambassador Duty Free, Flemingo Duty Free en Assortim Duty Free hof toe gegaan het. Hulle het aangevoer die minister het sy magte oorskry deur die wetswysigings aan te bring en dat dit ongrondwetlik en ongeldig is.

Al vier dié handelaars is in Pretoria.

Die hooggeregshof in Pretoria het hulle aanvanklik gelyk gegee, maar daarna het die SAID en Enoch Godongwana, die huidige minister van finansies, die saak by die konstitusionele hof gaan appelleer.

Dié hof het Dinsdag beslis die minister en die SAID het binne hul regte opgetree.

LEES OOK | Drank: Diplomate verneuk Jan Taks uit miljoene

"Om skurkagtige diplomate te keer om hul voorregte te misbruik deur buitensporige hoeveelhede tariefvrye alkohol- en tabakprodukte te koop, net om dit vir hul persoonlike wins te herverkoop, is 'n legitieme doelwit," het regter Steven Mathopo in die uitspraak gesê.

Die minister het die probleem vasgestel en die stappe wat hy gedoen het, is toepaslik. Mathopo sê die hof kan dus nie insien hoe die minister se ingryping irrasioneel kan wees soos wat die drankhandelaars aanvoer nie.

Buitelandse diplomate kon voor Augustus 2021 'n onbeperkte hoeveelheid drank en tabakprodukte by tariefvrye winkels in Suid-Afrika koop solank dit vir amptelike gebruik by hul ambassades of konsulate of vir persoonlike gebruik was.

Volgens Mathopo verstaan hy dat die kwota wat ingestel is konsulate nou beperk tot 360 liter wyn vir ses maande vir amptelike gebruik, en 135 liter per individu vir persoonlike gebruik oor 'n sesmaandetydperk.

Dit kom neer op 'n hele bottel wyn per dag.

Hy reken dit is toepaslik en glad nie irrasioneel nie, en enige besware daarteen is misplaas.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM