Begroting

Dis wat jou babelaas jou méér gaan kos

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Aksynsbelasting op alkoholiese produkte en sigarette bly ’n melkkoei vir die tesourie.  Foto: Argief
Aksynsbelasting op alkoholiese produkte en sigarette bly ’n melkkoei vir die tesourie. Foto: Argief

Belasting gaan dit nie nog duurder maak om jou voertuig se tenk vol te maak nie, maar dit gaan wel jou beursie leër maak vir drink- en rookgoed.

Die voorgestelde nasionale begroting bied min vreugde vir verbruikers ten opsigte van die heffings wat die staatskas se koffers moet vul.

Kom ons begin maar by die goeie nuus... soort van.

Brandstofheffing

Vir die derde jaar agtereenvolgens bly die brandstofheffing onveranderd op R3,85 per liter vir petrol en R3,70 per liter vir diesel.

Die Padongelukfondsheffing is ook onveranderd gelaat.

Die tesourie sê daar is steeds 'n wesenlike risiko van stygende brandstofpryse, veral omdat die bepaling daarvan afhang van buitelandse faktore soos geopolitieke spanning.

Die besluit bied verligting van R4 miljard aan motoriste.

Plaaslike rolspelers in bedrywe in die primêre sektor, soos landbou, mynbou en bosbou, kan steeds terugbetalings van 80% op brandstof- en Padongelukfondsheffings eis.

Dit word beskou as 'n manier om plaaslike bedrywe mededingender te maak.

Sondebelasting

Heffings op alkoholiese en tabakprodukte bly 'n melkkoei vir die tesourie.

Aksyns op drank word teen meer as dubbeld die huidige amptelike inflasiekoers van 3% met 6,8% verhoog.

Die aksyns vir die verskillende drankprodukte styg só:

• Bier: 16c per 340 ml;

• Ongefortifiseerde wyn: 28,5c per 750 ml-bottel;

• Gefortifiseerde wyn: 48c per 750 ml-bottel;

• Vonkelwyn: 90c per 750 ml-bottel;

• Appelsider en alkoholiese vrugtedrankies: 16c per 340 ml; en

• Spiritualieë: R6,04 per 750 ml-bottel.

Veranderings aan aksyns beplan

Die tesourie noem wel dat daar in die toekoms veranderings aan aksyns kan kom nadat hy sy besprekingsdokument oor aksynsbelasting op alkoholiese produkte uitgereik het.

Dit handel spesifiek oor 'n nuwe beleidsraamwerk, veral omdat die drankbedryf al jare lank pleit dat belasting sy bedrywighede en werkskepping kniehalter.

Aksynsbelasting op sigarette en sigaret-tabak en op damprookprodukte styg met onderskeidelik 4,83% en 6,83%.

Die aksyns hierop styg só:

• Sigarette: R1,04 per pakkie van 20;

• Verhitte tabak-stokkies: 77c per pakkie van 20;

• Sigarettabak: R1,16 per 50 g

• Pyptabak: 50c per 25 g

• Sigare: R8,49 per 23 g

• Nikotien en nie-nikotien-oplossings vir damprook: 14c per ml.

- heinz.schenk@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM