Begroting

Einde van beurtkrag draai belastingkraan met R22,3 mjd. toe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die ondertekening van die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering is ’n reuse-stap vorentoe vir Suid-Afrika se kragbedryf. Dit kan ook mettertyd billiker krag vir verbruikers beteken. Foto: Unsplash
Die ondertekening van die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering is ’n reuse-stap vorentoe vir Suid-Afrika se kragbedryf. Dit kan ook mettertyd billiker krag vir verbruikers beteken. Foto: Unsplash

Die inkomste uit belasting wat die regering gehoop het om in die lopende jaar van die begroting in te samel, is swakker as verwag weens minder beurtkrag as verlede jaar en die vraag na brandstof wat skerp gedaal het.

Die inkomste uit dié belasting is met R22,3 miljard afwaarts aangepas vir die boekjaar tot einde Maart 2025.

Dit word toegeskryf aan "stabiele kragvoorsiening", wat meegebring het dat minder goedere vir kragopwekking ingevoer is. Dit het die BTW wat ingevorder word op ingevoerde goedere met 4,5% laat daal vergeleke met dieselfde tyd verlede jaar.

In geheel het die inkomste uit BTW met R13 miljard gedaal van waar dit in die begrotingsoorsig in Februarie voorsien is.

Boonop gaan dit ook meebring dat die bruto inkomste uit belasting wat verwag is vir die komende twee boekjare tot einde Maart 2026 en 2027, gesamentlik met R41,4 miljard gaan daal. Die aanvanklike skatting was gegrond op baie hoë invoer vir kragopwekking.

"Beter belastinginkomste sal nou meer volhoubare ekonomiese groei en verdere verbeteringe met belastingnakoming en -administrasie vereis."

Luidens Woensdag se mediumtermynbegrotingsraamwerk is daar ook R13,4 miljard minder belasting ingesamel as wat verwag is weens die "skerp daling" in die vraag na brandstof.

Hoewel daar nie uitgewei is hieroor nie, is dit moontlik weens minder brandstof vir kragopwekking wat nodig was.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID (heel regs), staan langs Enogh Godongwana (met hoed), minister van finansies, David Masondo, adjunkminister, en Ashor Sarupen (heel links), ook adjunkminister, op 'n mediakonferensie voor die lewering van die mediumtermynbegrotingsraamwerk Woensdag.  Foto: Jaco Marais
Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID (heel regs), staan langs Enogh Godongwana (met hoed), minister van finansies, David Masondo, adjunkminister, en Ashor Sarupen (heel links), ook adjunkminister, op 'n mediakonferensie voor die lewering van die mediumtermynbegrotingsraamwerk Woensdag. Foto: Jaco Marais

Die grootste belastingbydraer tot die staatskas, wat die persoonlike inkomstebelasting is wat individue opdok, is ook met R9,7 miljard afwaarts aangepas tot 'n hersiene R729 miljard.

Die nasionale tesourie sê dit is egter te verwagte omdat werkskepping deur die private sektor en salarisse swakker is as wat in die 2024-begroting voorsien is.

Maatskappybelasting het egter R11,7 miljard meer ingebring as wat vir vanjaar begroot is en dividendbelasting R3,4 miljard meer.

"Maatskappybelasting en binnelandse BTW gaan na verwagting beter wees as die vooruitskatting in die 2024-begroting. Die winsgewendheid van maatskappye het verbeter danksy bottelnekke aan die verskaffingskant wat opgeklaar is."

In die begrotingsoorsig van Februarie is daar vir 'n bruto belastinginkomste van R1 863 miljard begroot in die jaar tot einde Maart 2025. Dit is nou afwaarts aangepas tot 'n hersiene R1 840,8 miljard.

Die kleiner belastinginkomste het bygedra tot die begrotingstekort wat met R34,7 miljard toegeneem het vergeleke met wat in Februarie aangekondig is vir vanjaar.

Die kerf van meer as R2 000 miljard se belastinginkomste word steeds soos begroot in die jaar tot einde Maart 2027 oorgesteek, hoewel die belastinginkomste minder gaan wees weens die minder invoer van energie-verwante goedere.

Die beramings vir die hoofbegrotingsinkomste in die komende twee jaar gaan nou relatief tot die 2024-begrotingsoorsig van Februarie met R31,2 miljard verlaag word, grootliks weens die afwaartse aanpassing in die vooruitgeskatte belastinginkomste.

Die belastingveerkragtigheid (die verhouding tussen belastinginvordering en ekonomiese groei) gaan na verwagting in die boekjaar tot einde Maart 2026 weer tot bo 1 herstel. Wanneer die belastingveerkragtigheid bo 1 is, beteken dit die belastinginkomste groei vinniger as wat die ekonomie groei, en andersom.

Daar is met die begroting in Februarie verwag die belastingveerkragtigheid gaan in die lopende jaar herstel tot 1. Nou word aangedui dit is nog 0,95. Op medium termyn, tot oor drie jaar van nou in die boekjaar tot einde Maart 2028, gaan dit na verwagting gemiddeld 1,08 beloop.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM