Begroting

Eskom maak droog – verloor hulp van miljarde rande

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Eskom het goeie nuus wat beurtkrag die naweek betref. Foto: Reuters
Eskom het goeie nuus wat beurtkrag die naweek betref. Foto: Reuters

Net een jaar nadat die regering 'n enorme skuldverligtingspakket van R254 miljard aan Eskom toegeken het, het die nutsmaatskappy genoeg drooggemaak om R4 miljard daarvan te verloor.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het die skuldverligting aan Eskom tot R250 miljard verminder.

Toe die pakket in die begrotingsrede van Februarie 2023 aangekondig is, het die tesourie benadruk dat Eskom slegs die ondersteuning sal ontvang indien hy aan streng vereistes voldoen.

Een item op die lang lys van vereistes was om ontslae te raak van sy eie finansieringsmaatskappy, die Eskom Finance Company.

Die sperdatum vir die afhandeling hiervan is 31 Maart vanjaar, maar die tesourie bevestig nou dat Eskom nie daarin sal slaag om die proses betyds te voltooi nie.

Die eerste deel van die drie jaar lange skuldverligting aan Eskom behels oordragte vanuit die staat se eie balansstaat. Die oordragte is gestruktureer om as lenings teen 'n 0%-rentekoers te dien, met die opsie om terugbetaling te vermy indien Eskom die tesourie se vereistes volledig nakom.

Indien Eskom hierin slaag, word die skuldverligting van lenings na ekwiteit omgeskakel.

Die aanvanklike plan was om voor die einde van die 2023-'24-boekjaar (wat 31 Maart eindig) die eerste betaling van R78 miljard aan Eskom te maak. Volgens die tesourie is R44 miljard reeds oorbetaal, waarvan R16 miljard in ekwiteit omgeskakel is danksy die feit dat deur die loop van 2023 daar aan sekere vereiste voldoen is.

Gedurende die 2024-'25-boekjaar sou R66,2 miljard oorgedra word.

Die tesourie het elk van dié beplande transaksies nou met R2 miljard verminder weens Eskom se versuim om van die Eskom Finance Company ontslae te raak.

Die ellelange lys vereistes wat Eskom nog moet nakom, beteken die volgende betalings is nou ook in die gedrang - veral ten opsigte van die groter mylpale wat die nutsmaatskappy nog op mediumtermyn moet behaal.

Die laaste twee dele van die skuldverligtingspakket word vir die 2025-'26-boekjaar beplan.

In dié boekjaar sal die tesourie R40,2 miljard aan Eskom vanuit die begroting oordra, en dan tot R70 miljard van Eskom se oorblywende skuld regstreeks oorneem en as staatskuld aanteken.

Die tesourie sê gesprekke word nou met alle betrokke kabinetslede en Eskom gevoer om die skuldverligtingspakket te hersien om die strawwe vir nie-nakoming strenger te maak.

Eskom het die rekening vir dié reddingsboeie oorheers.

" 'n Wysiging van die Wet op Skuldverligting aan Eskom is nou amptelik voorgestel om die minister van finansies te bemagtig om rente te begin hef op die lenings en (in 'n groter mate) die oordragte van skuldverligting te verklein as Eskom nie die vereistes nakom nie," lui die begrotingsraamwerk.

Die tesourie se nuwe, streng benadering tot reddingsboeie aan Eskom word gedryf deur die faling van vorige reddingsboeie om enigsins Eskom se agteruitgang te stuit.

" 'n Sleuteldrywer van Suid-Afrika se toenemend beperkte fiskale posisie is die uitbreiding van finansiële ondersteuning aan staatsondernemings," sê Godongwana.

"Eskom het die rekening vir dié reddingsboeie oorheers."

Van 2008 tot 2023 het Eskom altesaam R241,6 miljard van die staat ontvang.

"In sommige gevalle het selfs versnelde inspuitings vanuit die nasionale begroting min tot geen impak op Eskom se diensleweringsvermoë gehad nie."

Die ander groot ingryping wat die tesourie nou toepas, en al byna afgehandel het, is om die yslike agterstallige skuldrekening van munisipaliteite aan Eskom te takel.

'n Ander soort skuldverligtingspakket is aan munisipaliteite die land oor aangebied waardeur hul enorme skuldvlakke aan Eskom afgeskryf sal word, maar slegs indien hulle ook aan streng vereistes voldoen.

Van die belangrikste vereistes hiervoor is om heeltemal oor te skakel na koopkrag deur middel van die installasie van slimkragmeters (wat die staat sal finansier) en om in die tussentyd stelsels in plek te kry om te verseker dat geen nuwe skuld by Eskom opbou nie.

Teen Januarie het 72 munisipaliteite wat saam 96,9% van die agterstallige munisipale skuld aan Eskom verteenwoordig, dié geleentheid aangegryp en amptelike aansoeke ingedien. Van dié aansoeke is 70 reeds verwerk.

William Horne

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM