Begroting

Eskom moet nou rente betaal op sy reddingsboei

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Beurtkrag word eers Woensdag om 16:00 hervat. Foto: Getty Images
Beurtkrag word eers Woensdag om 16:00 hervat. Foto: Getty Images

Die lening wat Eskom van die staat kry om sy skuld te delg, is nie meer rentevry nie.

Die skuldverligting van R254 miljard wat die regering in Februarie vir Eskom aangekondig het, druk te swaar op die balansstate van sowel die staat as Eskom, en dit impliseer 'n toename in staatskuld, het die tesourie Woensdag gesê.

'n Wysigingswetsontwerp oor Eskom se skuldverligting is Woensdag in die parlement ter tafel gelê.

Dit bepaal dat die minister van finansies sal bepaal wat die rentekoers is wat Eskom op die lening moet betaal.

Daar is ook 'n bykomende voorwaarde dat die minister ná konsultasie met Eskom die bedrag kan verminder wat die tesourie in 'n jaar aan Eskom betaal.

Maar die verlaging mag nie meer as 5% wees van die totale bedrag wat in die betrokke boekjaar toegeken word nie.

Volgens die tesourie het die regering besluit om die rentevrye lening in 'n rentedraende lening te verander om die koste van die skuldverligting beter te weerspieël.

In Februarie se begroting het die regering die skuldverligtingsprogram van R254 miljard aan Eskom aangekondig. Dit het streng voorwaardes en het aanvanklik die aanbied van rentevrye lenings behels wat dan in ekwiteit omskep word aan die einde van elke toepaslike boekjaar as Eskom aan al die voorwaardes voldoen het.

Maar as Eskom nie aan die voorwaardes voldoen nie, sal die lening nie in ekwiteit omskep word nie en dan moet hy dit terugbetaal.

Uit die R78 miljard wat Eskom in die lopende boekjaar sou ontvang, het die regering teen einde September al R16 miljard aan Eskom oorbetaal, het die tesourie bekend gemaak. 'n Taakspan bestaande uit amptenare van die tesourie, die departement van openbare ondernemings en Eskom is op die been gebring om te monitor of Eskom aan die voorwaardes voldoen. Hulle moet elke kwartaal verslag doen oor of Eskom daarvoor kwalifiseer dat die lening in ekwiteit omskep kan word.

Bykomend tot die skuldverligting het die tesourie 'n skuldverligtingsprogram aan munisipaliteite gebied, want 'n groot rede vir Eskom se skuldlas is die miljarde wat munisipaliteite hom skuld.

Teen Oktober het 67 munisipaliteite al by die tesourie aansoek gedoen vir die afskryf van hul Eskom-skuld. Dit verteenwoordig R56,8 miljard of 97% van die totale munisipale skuld wat teen einde Maart aan Eskom verskuldig was.

Altesaam 28 aansoeke is al goedgekeur en die res word nog verwerk en geverifieer deur provinsiale tesourieë.

Eskom se probleme en die gevolglike energiekrisis is 'n deurlopende tema in die mediumtermynbegrotingsraamwerk. Die impak van beurtkrag word gesien in laer ekonomiese groei, in die knou wat belastinginvordering gekry het, asook in beleggersvertroue en die gepaardgaande risiko vir staatskuld.

Die hersiening van Eskom se steenkoolkragstasies, wat 'n internasionale groep konsultante in opdrag van die tesourie gedoen het, is afgehandel, het Enoch Godongwana, minister van finansies, in sy toespraak oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk gesê. Die bevindings en aanbevelings van hul verslag sal binnekort bekend gemaak word, het Godongwana belowe.

Die tesourie meld dat beurtkrag teen einde September reeds meer was as die hele 2022, maar dat die ure van beurtkrag wel van kwartaal tot kwartaal begin afneem het. Dit het van 5 751 gigawatt-uur in die eerste kwartaal tot 4 005 in die derde kwartaal afgeneem.

Benewens nog twee eenhede van die Kusile-kragstasie wat teen die jaareinde weer aan die netwerk gekoppel sal wees, is daar meer as 11 000 MW se hernubare energie wat oor die volgende drie jaar verwag word, wat sal help om kragonderbrekings skerp te laat daal.

Die afgelope twee jaar is meer as 5 600 MW se private kragprojekte by die Nasionale Energiereguleerder geregistreer.

Daar is drie noodkragprojekte van 150 MW wat vandeesmaand aan die netwerk gekoppel sal word, en teen 2025 sal nege projekte van meer as 1 000 MW as deel van die regering se groenkragprogram aan die netwerk gekoppel word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM