
Die minister van finansies moes tydens Woensdag se begrotingsrede soos 'n kulkunstenaar elke truuk in die boek gebruik om Suid-Afrika se geldsake te probeer balanseer.
Maar is sy besluit om geld uit 'n sterk reserwefonds te onttrek dalk die laaste haas wat hy uit die hoed kan trek?
Enoch Godongwana het in sy begrotingstoespraak gesê die regering sal R150 miljard uit die Reserwebank se gebeurlikheidsfonds vir goud- en valutareserwes (GFECRA) gebruik. Die plan is om R100 miljard vanjaar te onttrek en R25 miljard in 2025 en weer in 2026.
Die geld uit die gebeurlikheidsfonds sal Suid-Afrika se skuldterugbetalingkoste met meer as R30,2 miljard afbring, vergeleke met die ramings in die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober verlede jaar.
Die GFECRA is 'n rekening waarin die meerderheid van die Reserwebank se goud- en buitelandse-valutareserwes gehou word. Dit staan tans op R507 miljard en die bates daarin groei of daal soos wat die wisselkoers verander.
Die reserwes in die gebeurlikheidsfonds het oor die jare aansienlik toegeneem soos die rand verswak het. Die bates in die gebeurlikheidsfonds dien ook as 'n buffer teen eksterne gebeurlikhede omdat die randwaarde van die reserwes klim gedurende internasionale krisisse - soos gedurende Covid-19.
Hoewel die afgelope week se aankondiging nie vir ontleders en ekonome onverwags was nie, is daar verdeeldheid oor of dit 'n wyse besluit is.
Walter de Wet, senior navorser by Nedbank CIB se marknavorsingsafdeling, het aan Rapport gesê baie lande het al soortgelyke besluite geneem.
"Is dit goed of sleg? Dit hang alles af van hoe dit gedoen word.
"As internasionale beste praktyk gevolg word - soos die nasionale tesourie en Reserwebank onderneem het om te doen - is dit nie negatief nie," sê De Wet.
Die tesourie het gesê hy sal 'n span kundiges van onder meer die Internasionale Monetêre Fonds vra om te verseker die proses is deursigtig en dat dit volgens 'n amptelike raamwerk geskied. Die tesourie het ook die onderneming gegee hy sal sorg daar is genoeg buffers in die gebeurlikheidsfonds om op- en afswaaie in die wisselkoers te kan absorbeer. Die solvensie van die Reserwebank sal ook nie gekompromitteer word nie.
Pleks van skuld afbetaal sou dit veel beter gewees het om dit te gebruik vir kapitaalbesteding wat ekonomiese groei aanhelp.
Mike Adsetts, beleggingshoof van Momentum Investments, sê dis of die regering skielik 'n spaarvarkie agter in 'n kas gevind het om sy skuldlas te verlig.
"Die waarde van die goud- en buitelandse-valutareserwes het die laaste paar jaar goed gegroei omdat die rand so verswak het.
"Maar as die rand versterk, beteken dit die waarde van die reserwes daal."
Sanisha Packirisamy, ekonoom by Momentum Investments, sê die regering se enorme skuldlas van meer as R550 miljard beteken elke Suid-Afrikaner het skuld van R82 711.
Sy is van mening die tesourie het 'n geleentheid gemis om die geld uit GFECRA beter aan te wend. Pleks van skuld afbetaal sou dit veel beter gewees het om dit te gebruik vir kapitaalbesteding wat ekonomiese groei aanhelp - of die regruk van Transnet, waarvan die probleme die ekonomie terughou.
Die risiko is dat staatskuld net sal blý ophoop omdat die regering weens die skerp loonverhogings in die staatsdiens al hoe meer geld moet leen om sy boeke te laat klop. "Daar mag nie die risiko wees dat dié pot goud in die toekoms daarvoor gebruik sal word nie," sê Packirisamy.
Staatsbesteding en belastingbesluite in Suid-Afrika het veral die afgelope paar jaar min impak gehad op ekonomiese groei. Die maatstaf van hoe dit BBP beïnvloed, word die "fiskale vermenigvuldiger" genoem.
In die nasionale tesourie se begrotingsdokumente word gesê Suid-Afrika se fiskale vermenigvuldiger is laer as een wat beteken staatsbesteding het nie die nodige positiewe uitwerking op ekonomiese groei nie.
'n Rede vir die lae fiskale vermenigvuldiger is die onvolhoubare styging in besteding - aan dinge soos staatslone en begrotingstekorte - wat nié die ekonomie aanhelp nie. Hoër skulddienskoste beteken laer kapitaal- en maatskaplike besteding - juis dié dinge wat op langer termyn sterker ekonomiese groei meebring.
Die beste moontlike uitkoms vir Suid-Afrika is stewige ekonomiese groei van 5% plus per jaar.
De Wet sê dit sou beter gewees het om die geld uit die gebeurlikheidsfonds aan infrastruktuur te bestee wat die ekonomie kan help groei. Maar die feit dat dit vir staatskuld gaan, stuur wel 'n positiewe sein uit na die markte.
Maarten Ackerman, hoofekonoom by Citadel, vergelyk die gebruik van die geld uit die fonds met tydelike gewigsverlies, "soos wanneer iemand gewig verloor danksy 'n eenmalige gebeurtenis soos om siek te word - en nie omdat hy skielik gesonder lewe nie".
Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sê dit is beter dat 'n deel van die gebeurlikheidsfonds voor die verkiesing gebruik word om skuld af te bring voordat 'n veelparty-koalisieregering moontlik aan bewind kom wat dalk die geld vir iets minder voordelig kan aanwend.
"Die reserwes in die GFECRA was al in die visier van politieke faksies - veral diegene wat eis dat die Reserwebank genasionaliseer word."
Sy sê die beste moontlike uitkoms vir Suid-Afrika is stewige ekonomiese groei van 5% plus per jaar, soos tydens oudpres. Thabo Mbeki se bewind.
"Toe het staatsinkomste op 'n natuurlike wyse toegeneem en die begrotingstekort is weggewerk. Dit was nie nodig om die GFECRA se reserwes te gebruik nie."




















