Suid-Afrika se sowat 150 staatsbeheerde entiteite is soos ou klere wat in 'n oorvol hangkas geprop is - sommige is jare lank nie gedra nie en ander is so van die motte gevreet dat dit nie eens meer waarde het nie. Die laaste dekade is R266 miljard bestee om die gate toe te stop, maar vergeefs.

Daarom is die tyd van tienpuntplanne om hulle te red lankal verby, sê Olga Constantatos, hoof van krediet by Futuregrowth Asset Management.
"Ons is baie goed met diagnoses en om planne te beraam. Maar ons moet nou ophou praat en begin doen."
Hoewel sukkelende en skuldbelaaide staatsbeheerde ondernemings soos Eskom en Denel al jare die staatskas leegtap en Suid-Afrika se kredietgradering benadeel, het Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag in sy begrotingsrede nog R1 miljard aan die bloedsuiende SAL toegewys om die sakereddingsproses te voltooi en R2,4 miljard aan die Poskantoor.
Intellidex se ontleders sê dit is bo en behalwe sowat R30 miljard wat tydens die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober aan Transnet, Sanral en Denel toegewys is. Die regering sal ook R254 miljard van Eskom se skuld oorneem.
Al dié hulp sal net vloei as streng voorwaardes nagekom word, het Godongwana gewaarsku.
Luidens die begrotingsdokumente het die regering tussen 2012-'13 en 2021-'22 meer as R266 miljard se reddingsboeie aan staatsbeheerde ondernemings uitbetaal. Dit is meer as die totale gesondheidsbegroting vir 2023-'24 en byna soveel soos die jaarlikse rente op skuld wat die staat betaal.
Rentebetalings op skuld sal oor die volgende drie jaar gemiddeld R366 miljard per jaar beloop.
Die departement van openbare ondernemings het onlangs in 'n parlementêre aanbieding gesê daar was 73 gevalle van tugstappe teen direkteure van staatsbeheerde entiteite wat hulle skuldig gemaak het aan vergrype. Daar was 63 gevalle van belangebotsings waar kontrakte toegeken is aan werknemers by staatsbeheerde entiteite.
Dr. Iraj Abedian, hoofekonoom van Pan-African Research, het by 'n geleentheid van ENSafrica ná Woensdag se begrotingsrede gesê die oorname van Eskom-skuld skep nie 'n balansstaat-probleem nie, maar is 'n "morele gevaar".

"Dit stuur die boodskap dat al word belangrike instansies op hul knieë gedwing deur wanbestuur en korrupsie, as die gemors groot genoeg is dat dit 'n landsprobleem word, sal die regering dit uitstryk, sonder dat enigeen verantwoordelik gehou word."
Abedian sê voor dié soort skuld oorgeneem en die geld aan die mislukte entiteite gegee word, moet die skuldiges tronk toe gaan, hetsy dit 'n politikus of 'n tegnikus is.
Pres. Cyril Ramaphosa het in 2020 'n raad in die presidensie aangestel wat moet besluit oor watter staatsbeheerde ondernemings behou of toegemaak moet word of moet saamsmelt met ander entiteite. Daar het nog dadels van gekom.
Constantatos sê planne om staatsbeheerde entiteite te rasionaliseer is suksesvol in ander lande gedoen - soos onlangs in Namibië waar die entiteite breedweg in drie kategorieë verdeel is. Daar is 'n saak daarvoor uit te maak om iets soortgelyks te doen in Suid-Afrika.
"Enersyds is daar dié wat suiwer kommersieel is wat die privaat sektor doeltreffender kan bestuur en finansier. Andersyds is daar dié wat staatsdepartemente behoort te wees en gefinansier behoort te word deur geld uit die nasionale begroting.
"In die middel is daar 'n hibriede kategorie wat die privaat sektor en staat saam kan bestuur met vennootskappe, iets soos 'n openbare-private-vennootskap (PPP)."
In die PPP-kategorie tel dinge soos paaie, elektrisiteit, en waterrade - waar die entiteit nie 'n balansstaat het om homself te finansier nie.
Met 'n PPP moet bepalings en voorwaardes bestaan, soos 'n duidelike tarief-regime, 'n beleidsraamwerk, stewige regskontrakte en ooreenkomste met duidelikheid oor die kontantvloei wat die PPP sal genereer. Een voorbeeld is 'n kontrak waar die eindverbruiker instem om die voltooide bate te koop of te gebruik, sê Constantatos.

Lugdienste is 'n voorbeeld van entiteite waarby die regering nie 'n belang behoort te hê nie, sê sy. "In ons geval het die SAL vir jare staatsgeld geabsorbeer in 'n baie mededingende mark. Die regering kan die mark skeeftrek wanneer dit 'n deelnemer is op grond van bepalings wat nie regverdig is nie - soos byvoorbeeld om reddingsboeie te gee met belastingbetalersgeld.
"Die SAL het vir jare finansieel oorleef, selfs al was dit onvolhoubaar - bloot omdat dit reddingsboeie van die aandeelhouer (die staat) gekry het. Kulula moes byvoorbeeld sluit toe dit die einde van die pad bereik het."
Munisipaliteite wat nie hul Eskom-skuld kan betaal nie, gaan ook hulp kry, onder meer op voorwaarde dat munisipaliteite voorafbetaalde meters installeer, het Godongwana gesê.
Dié skuld het einde Desember 2022 R56,3 miljard beloop.
In 2016 was dit R6 miljard.
Busi Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa (BLSA), is skepties oor of die voorwaarde ooit sal realiseer.
"Dit is nie polities verteerbaar (vir die ANC-regering) om die munisipaliteite se ligte af te sit nie. Daar is 'n kultuur van eiegeregtigheid - ons wil gratis elektrisiteit en wat nog alles hê. Sal die regering voorafbetaalde meters installeer 'n jaar voor die volgende nasionale verkiesing? Ek weet nie of ek dit glo nie."
Constantatos sê enige onderneming wat 'n diens lewer, behoort geld daarvoor te kan vra en die geld te kan invorder. Maar Eskom kon, om verskeie redes, nie die geld invorder van munisipaliteite aan wie hy elektrisiteit verkoop het nie. Eskom het dus 'n groot gaping in sy kontantvloei gehad, want hy het elektrisiteit aan munisipale kliënte verkoop waarvoor nooit betaal is nie. Die regering moet dus kontantinspuitings gee om die gapings toe te stop. "Die probleem moes al in 2016 aandag gekry het, dan sou dit nie so handuit geruk het nie."
Die tesourie sê weer in die jongste begrotingsdokumente staatsbeheerde ondernemings se vertoning is "inkonsekwent en in die algemeen negatief" weens hul afhanklikheid van reddingsboeie. Dié ondernemings se vermoë om winste te genereer, het effens verbeter van -13,5% in 2020-'21 tot -1,2% in 2021-'22. "Maar die feit dat hierdie syfer negatief is dui daarop dat die langtermyn-winsgewendheid van ons staatsbeheerde ondernemings steeds swak is."
Staatsbeheerde ondernemings is ook nie in staat om kapitaal te bestee nie. "Baie kan nie hul bedrywighede finansier of hul skuldverpligtinge nakom nie en is nog minder daartoe in staat om in infrastruktuur te belê. Die onderbesteding aan kapitaalprojekte ondermyn hul ekonomiese vertoning net verder," lui die begrotingsoorsig.
Rapport het 'n paar van die staatsbeheerde entiteite van naderby bekyk:
1. Van die wat goed werk:
- SA Reserwebank
- Gedragsowerheid vir die Finansiëledienstesektor
- Mededingingskommissie en -tribunaal
- Kantoor van die belastingombud
- Spesiale Ondersoekeenheid
- Openbare Beleggingskorporasie
2. Gewoonte-oortreders:
Eskom: Die nasionale elektrisiteitsverskaffer is die grootste bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, sê die tesourie. Eskom het 'n voorbelaste verlies van R8,9 miljard gely einde Desember 2022 teenoor 'n voorbelaste wins van R3,7 miljard in dieselfde tydperk in 2021. Die totale skuldlas is R423 miljard, waarvan die regering onderneem het om 60% (R254 miljard) oor te neem.
Transnet: Die entiteit se flenters infrastruktuur bedreig ook die ekonomie en dringende ingryping is nodig. Die tesourie het Transnet se aansoek vir 'n reddingsboei van R40 miljard verwerp. 'n Spesiale toewysing van R5,8 miljard is in 2022 aan Transnet gemaak vir die herstel van stukkende spoorlyne weens vloedskade en die herstel en onderhoud aan lokomotiewe.
Landbank: Die Landbank versuim sedert April 2020 om sy skuld te betaal. R5 miljard wat in die 2022-mediumtermynbegroting in die gebeurlikheidsreserwefonds was, sal nou aan die bank toegeken word. Die bank se geldsake het wel onlangs verbeter en 'n wins van R1,4 miljard in 2021-'22 aangeteken vergeleke met 'n R747 miljoen-verlies in 2020-'21.
SAL: Die lugdiens kort dringend 'n kontantinspuiting voordat sy kooptransaksie met die Takatso-konsortium gefinaliseer kan word. Die SAL kry R1 miljard uit die begroting. Die lugdiens se geldsake lyk ietwat beter en hy is nie meer insolvent nie. Verliese vir die eerste drie kwartale was R50 miljoen - beter as die verlies van R636 miljoen waarvoor begroot was. Die SAL het nog nie finansiële state vir die 2021-'22-boekjaar ingedien nie.
3. Tikkende tydbom
Die Padongelukkefonds (POF), wat uit die POF-heffing as deel van die brandstofprys gefinansier word, het in 2019-'20 'n tekort van byna R60 miljard gehad.
Die langtermyn- voorwaardelike aanspreeklikheid van die fonds kan teen 2025-'26 meer as R370 miljard beloop.
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, sê hoewel dit goeie nuus is dat die POF-heffing nie in vanjaar se begroting verhoog is nie, beteken dit die POF raak al hoe verder agter.
"Uiteindelik sal die belastingbetalers weer daarvoor betaal.
4. Onbemind
Denel: 'n Reddingsboei van R3,4 miljard is toegeken in die mediumtermynbegrotingsraamwerk in 2022, maar die entiteit sukkel steeds om solvent te bly. Die regering moet intree om sy skuldwaarborge, salarisse en belasting te betaal. Denel is bankrot en laste het bates teen einde Desember 2022 met R1,1 miljard oorskry.
SA Poskantoor:Uitgawes oorskry inkomste en het gelei tot 'n verlies van R1,6 miljard die afgelope boekjaar. Uitstaande skuld beloop R5,3 miljard. Die Poskantoor het 'n reddingsboei van R2,4 miljard in die 2023-begroting ontvang, maar daar is geen besonderhede oor hoe dit aangewend gaan word nie.
5. Onbekend
Independent Development Trust: Val onder die departement van openbare werke. Die entiteit sukkel finansieel sedert 2008 en vra voortdurend vir reddingsboeie. R710,9 miljoen sal in die 2023-'24-boekjaar aan salarisse bestee word.
Institute of People Management: 'n Onderafdeling van die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAQA) wat onder die departement van hoër onderwys val. SAQA sal in die 2023-'24-boekjaar R238,3 miljoen aan salarisse bestee.
Korrelbed Modulêre Agentskap: Die entiteit is in 1999 gestig om klein reaktors te ontwikkel. Rapport kon nie enige begrotingsyfers vir die agentskap opspoor nie.
Tegnologie-innoveringsagentskap: Die entiteit val onder die departement van wetenskap en tegnologie en bestaan van 2008 af om die gaping tussen tegnologie en ontwikkeling te oorbrug. Die agentskap sal in 2023-'24 sowat R367,5 miljoen aan salarisse bestee.
Val onder die departement van kommunikasie en het ten doel om universele dienste aan die elektroniese en uitsaai-media te verskaf. Die agentskap sal na verwagting R66,5 miljoen aan salarisse bestee in die huidige boekjaar.



















