Begroting

Mynbou-pyne knou Jan Taks die ergste

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Daar word nou al 30 jaar lank voorspel dat die Vrystaat se goudreserwes opraak, maar die bedryf vind maniere om nog goud te ontgin.  Foto: Reuters
Daar word nou al 30 jaar lank voorspel dat die Vrystaat se goudreserwes opraak, maar die bedryf vind maniere om nog goud te ontgin. Foto: Reuters

Die meevaller van geil belastinginkomste uit die mynbou is finaal verby.

Gegewe al die gate wat die tesourie nou moet toestop, gaan maatreëls vir die invordering van R15 miljard se ekstra belastinginkomste in Februarie se begroting aangekondig word, het die tesourie Woensdag aangekondig. Daar is egter nie 'n spesifieke aanduiding wat die maatreëls kan wees nie, met waarnemers wat vroeër gereken het die regering kan besluit om belasting op toegevoegde waarde (BTW) te verhoog.

Die tesourie verwag belastinginvordering vir die lopende boekjaar sal R56,8 miljard minder wees as wat in Februarie verwag is. Die laer invorderings sal ook na die komende drie jare deursyfer.

Die skerp daling in belastinginvordering van die mynbou is grootliks weens kommoditeitspryse wat vinniger gedaal het as verwag, wat mynmaatskappye se winsgewendheid erg geknou het.

Die invordering van voorlopige maatskappybelasting van mynboumaatskappye het in die eerste helfte van die lopende boekjaar met soveel as 55,4% of R24,6 miljard geval, het die tesourie gesê.

Benewens die laer kommoditeitspryse het swakker internasionale groei, Eskom se kragonderbrekings en die logistieke krisis by Transnet die mynbousektor erg geknou.

Waar die tesourie in Februarie belastinginkomste van R1 787,5 miljard verwag het vir die boekjaar, is dit nou met R56,8 miljard afgeskaal tot R1 730,7 miljard.

Groter BTW-terugbetalings het ook bygedra tot die minder belastinginkomste. Die terugbetalings vir die halfjaar tot einde September was R21,5 miljard meer as 'n jaar gelede, onder meer weens sterker as verwagte uitvoer, groter belegging in eie kragopwekking en hoër sakekoste soos die gebruik van duurder padvervoer vergeleke met spoorvervoer.

Groter BTW-invorderings weens invoer het wel die hoër BTW-terugbetalings deels teengewerk, sê die tesourie.

Persoonlike inkomstebelasting

Volgehoue salarisverhogings en bonusbetalings het gehelp dat invorderings uit persoonlike inkomstebelasting steeds groei. Dit is veral die werkers in die finansiële sektor wat ruim bygedra het tot die groei.

Die tesourie verwag inkomste uit persoonlike inkomstebelasting sal in die jaar met 6,4% groei tot R646,7 miljard, wat R6,4 miljard meer is as wat in Februarie verwag is.

Persoonlike inkomstebelasting is die belastingkategorie wat vanjaar die beste gaan groei, gevolg deur doeaneheffings met 3,5% en aksyns met 1,9%.

Die inkomste uit die brandstofheffing gaan na verwagting met 1,6% tot R92 miljard groei.

Maatskappybelasting sink met 35,8% tot R300,3 miljard, gevolg deur BTW-inkomste, wat met 25,6% tot R445,8 miljard daal.

Benewens mynbou het die vervaardigingsektor in die eerste helfte van die staat se boekjaar swakker belastinginkomste gelewer. Dit het in die ses maande tot einde September R3,8 miljard minder belasting opgelewer as 'n jaar gelede. Vervoer (R1,4 miljard minder) en groothandel (R1,2 miljard minder) se belastingbydraes het ook gekrimp.

Die sektore wat wel meer belasting betaal het, is finansies (R2,1 miljard meer as 'n jaar gelede), gevolg deur gemeenskapsdienste (R1,6 miljard meer), die elektrisiteitsektor (R700 miljoen meer), en konstruksie en landbou met elkeen R300 miljoen meer.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM