Parlementslede het wyd uiteenlopende kritiek op die Wetsontwerp oor Openbare Verkryging.
Gaan die beoogde tribunaal wat geskille oor tendertoekennings moet besleg, genoeg kapasiteit hê om al die geskille te kan hanteer?
Wat word van kritieke dienslewering as verkryging stopgesit moet word hangende 'n hersiening deur die tribunaal?
Met die sentralisering van staatsverkryging op een plek, hoe word daar seker gemaak dit word nie net nog 'n deel van die stelselmatige korrupsieprobleem nie?
Hoe gaan die wet seker maak die staat kry waarde vir geld vir sy aankope?
Dit is van die vrae wat die staande komitee oor finansies Dinsdag aan amptenare van die nasionale tesourie gestel het.
Die wetsontwerp is bedoel om 'n eenvormige wetsraamwerk vir staatsverkryging te vestig. Dit sal die Wet oor 'n Beleidsraamwerk vir Voorkeur- Openbare Verkryging in sy geheel vervang, en verskeie ander wette sal gewysig moet word om daarby in te pas.
Dit maak voorsiening vir 'n gesentraliseerde verkrygingsowerheid binne die nasionale tesourie, en 'n tribunaal waar klagtes oor die staat se tendertoekennings gehanteer sal word.
Volgens Willie Mathebula, hoof van voorsieningskettingbestuurbeleid by die tesourie, spruit die wetsontwerp uit 'n opdrag in Desember 2014 van die kabinet dat die staat se verkrygingstelsel gemoderniseer moet word.
Die wetsontwerp is einde Junie in die nasionale vergadering ter tafel gelê, en dit is nou die staande komitee oor finansies se werk om die wetgewing te verwerk. Openbare sittings daaroor word vir volgende week beplan.
Volgens Mathebula poog die wetsontwerp om staatsverkryging in pas met die Grondwet te bring, wat bepaal dat staatsverkryging billik, deursigtig, mededingend en kostedoeltreffend moet wees.
Dit sal ingevolge die Grondwet steeds staatsinstellings in staat stel om voorkeur te gee in hul tendertoekennings aan mense wat deur onbillike diskriminasie benadeel is, soos swart mense, vroue, gestremdes en die jeug.
Die premie wat die staat bereid is om te betaal vir kontrakte wat transformasie bevorder, moet nog bepaal word, sê Mathebula. Ingevolge huidige wetgewing kan die staat tot 11,1% meer betaal vir 'n tenderaar waar die bemagtigingskomponent 10% van die telling uitmaak, en soveel as 25% meer vir 'n tenderaar waar die bemagtigingskomponent 20% van die telling vorm.
Dit is 'n verwysing na die 90-10- en 80-20-beginsel, wat vir die huidige voorkeurverkryging geld.
Daar is tans te veel teenstrydige wette en verwarring oor verskillende verkrygingsreëls by verskillende staatsentiteite, sê Mathebula. Van die wette kom nog van voor 1994 af.
Die nuwe wetgewing sê daar moet benewens bemagtiging en transformasie ook voorkeur wees vir plaaslike inhoud, werkskepping en nywerheidsontwikkeling.
Van die aanbevelings uit die Zondo-kommissie se verslag oor staatskaping word ook ingewerk, soos 'n gedragskode, beter riglyne en opleiding vir verkrygingsbeamptes, en standaarde vir deursigtigheid.
Die Zondo-kommissie het ook leefstyloudits aanbeveel vir alle senior bestuurders en amptenare wat by verkryging betrokke is, maar volgens Mathebula moet dit ingesluit word in arbeidswetgewing.
Toe die wetsontwerp by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad bespreek is, was daar heelparty verskille en onenigheid oor van die aspekte, het Mathebula aan die komitee gesê.
Die arbeidsektor wou byvoorbeeld hê fluitjieblasers moet beloon word met soveel as R100 000 as hulle korrupte aktiwiteite in verkrygingsbestuur aanmeld. Maar Mathebula sê die tesourie meen enigiemand is moreel verplig om misdaad aan te meld.
Die arbeidsektor wou hê die wetsontwerp moet duideliker uitstippel hoe mense wat polities blootgestel is, gemonitor word om te keer dat hulle hul poste misbruik om staatstenders te kry.
Die wetsontwerp bied maatreëls wat sal sorg dat die publiek, die burgerlike samelewing en die media insae kan kry in verkrygingsprosesse.
Mzwanele Manyi, EFF-lid van die komitee, was skerp krities oor die wetgewing en meen die staat moet self sekere dienste lewer pleks van om gedurig tenders toe te ken.
Joe Maswanganyi, ANC-parlementslid en voorsitter van die komitee, meen dis onregverdig teenoor sy kinders dat hulle altyd onder die soeklig sal wees net omdat hy 'n parlementslid is.
Hy was bekommerd oor wat sou gebeur as 'n tender opgeskort word weens 'n beswaar by die te stigte tribunaal, en hoe lank dit sou duur. "As dit drie jaar duur, beteken dit daar is geen diens om water aan 'n dorpie in Limpopo te lewer nie, net omdat iemand 'n tenderbesluit op hersiening geneem het."
Daardie skuiwergate moet toegemaak word, en mense kan nie ignoreer dat swart mense meer as 350 jaar deur kolonialisme en apartheid benadeel is nie.
— Joe Maswanganyi, ANC-LP en voorsitter van die komitee
Maswanganyi sê die wetsontwerp moet ondubbelsinnig wees oor transformasie, want daar is "regsgesinde bewegings wat die regering hof toe vat wat voorkeurverkryging betref".
"Daardie skuiwergate moet toegemaak word, en mense kan nie ignoreer dat swart mense meer as 350 jaar deur kolonialisme en apartheid benadeel is nie. Die grond is nie gelyk in Suid-Afrika nie, en die kwessie van transformasie deur voorkeuraankope moet duidelik uitkom in die wet."
Adv. Empie van Schoor, hoofdirekteur vir wetgewing by die tesourie, sê die wetsontwerp gebruik nie die term polities blootgestelde mense nie, maar mense soos openbare ampsbekleërs en amptenare wat outomaties daarvan uitgesluit word om vir staatskontrakte te tender. Daar is egter geen verbod op familielede van openbare ampsdraers om te tender nie.
Volgens Van Schoor sal daar 'n afsnytyd wees vir die hersiening van tenders en as daar 'n noodgeval is, sal dit toegelaat word dat 'n verkryging kan voortgaan.
Oor 'n vraag van dr. Dion George, DA-lid van die komitee, oor hoe waarde vir geld verseker gaan word, het Mathebula gesê waarde vir geld, gehalte en transformasie kan saam behaal word en is nie wedersyds uitsluitend nie.





















