Begroting

Oliefirmas kry hul sin met tantième

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Skip wat vloeibare aardgas vervoer aan die kus van Japan. Die nasionale tesourie wil die minimum koers verhoog waarteen olie- en gasmaatskappye in Suid-Afrika tantième aan die staat moet betaal.  Foto: REUTERS
’n Skip wat vloeibare aardgas vervoer aan die kus van Japan. Die nasionale tesourie wil die minimum koers verhoog waarteen olie- en gasmaatskappye in Suid-Afrika tantième aan die staat moet betaal. Foto: REUTERS

Die koers waarteen olie- en gasmaatskappye tantième aan die staat moet betaal, sal steeds 'n wisselende koers wees.

Die minimum koers is wel van 0,5% tot 2% verhoog, terwyl die maksimum koers op 5% behou word.

Die nasionale tesourie wou eers 'n eenvormige, vaste tantième-koers hê.

Maar die olie- en gasbedryf het hard geveg dat die bestaande koers behou word wat na gelang van winsgewendheid wissel.

Dit blyk uit 'n voorlegging Dinsdag deur die nasionale tesourie oor die verskillende belastingwysigings wat vanjaar aangekondig is.

Al die veranderings moet beslag kry in 'n reeks belasting- en geldwette, waaroor die tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) Dinsdag met die parlement se staande komitee oor finansies gepraat het.

Hayley Erasmus, 'n direkteur vir korporatiewe belasting by die tesourie, sê die huidige tantième wissel volgens 'n formule gegrond op winsgewendheid en bruto verkope van 0,5% tot 5%.

Die tesourie het einde 2021 'n besprekingsdokument gepubliseer oor 'n voorgestelde belastingraamwerk vir die olie- en gasbedryf.

Die bedryf het in konsultasies aangevoer daar is groot verskille in koste tussen verskillende olie- en gasontwikkelings. Die kosteprofiel vir 'n maatskappy wat in die diepsee olie ontgin, is byvoorbeeld aansienlik anders as vir iemand wat op land of in vlak water bedrywig is.

Die tesourie het dus besluit om die buigsame koers te behou eerder as om na 'n vaste koers oor te skakel.

Om egter seker te maak die land word voldoende vergoed vir die verlies aan beperkte hulpbronne, is die minimum koers van 0,5% tot 2% verhoog, het Erasmus gesê.

BTW op koopbewyse

Telekommunikasiemaatskappye kry effe verligting in die jongste belastingveranderings.

Dit gaan oor die BTW wat op voorafbetaalde koopbewyse gehef word. In die vroeë dae van die selfoonbedryf in Suid-Afrika kon voorafbetalende intekenaars koopbewyse koop om vir SMS'e of lugtyd te betaal, het Aneesa Baig, direkteur vir onregstreekse belasting by die tesourie, gesê.

Oor die jare het die bedryf só verander dat verbruikers sulke koopbewyse ook by derdepartydiensverskaffers kon gebruik om vir enigiets van versekering tot musiek en flieks en mobiele gelddienste te betaal.

Maar daar is nooit in die belastingwette voorsiening gemaak vir die implikasies wat dit vir BTW inhou nie.

Die selfoonmaatskappy wat die koopbewys verkoop, sou BTW oorbetaal, maar die derdepartyverskaffer ook. Die staatskas kry dus twee keer BTW op dieselfde produk.

Die wetgewing word nou verander sodat die selfoonmaatskappy sy gerapporteerde inkomste kan aanpas.

Dit neutraliseer BTW in die hande van die selfoonmaatskappy, volgens Baig.

Terreurfinansiering

Belastingadministrasie-wetgewing word aangepas om in pas te kom met wetgewing teen geldwassery, het Franz Tomasek, hoof van belastingwetgewing by die SAID, gesê.

Dit sal mense wat daaraan skuldig bevind word dat hulle terreur gefinansier het, verbied om direkteure of trustees van enige openbarevoordeelorganisasies, ontspanningsklubs of verenigings te word wat van belasting vrygestel is.

As sulke organisasies wel so iemand aanstel, kan die kommissaris van die SAID die organisasie se status van belastingvrystelling terugtrek.

Sonkragaansporing

Oor die belastingaansporing vir sonkrag wat in Februarie se begroting aangekondig is, het Marle van Niekerk, direkteur vir persoonlike belasting by die tesourie, gesê die tesourie kan nog nie bepaal hoe gewild die aansporing is nie.

Dit sal eers gesien word as die meeste mense teen volgende jaar hul belastingopgawes vir die lopende belastingjaar indien. Sy het wel gemeld dat daar reeds tekens is dat die invoer van sonpanele in die eerste twee kwartale vanjaar dubbel soveel of selfs drie keer soveel soos vorige jare is.

Inkomste onder druk

Op vrae van parlementslede oor verwagtings oor belastinginvordering, het Tomasek gesê die maandelikse syfers wat die tesourie publiseer, wys inkomste is onder druk. Hoe dit die jaar en komende jare se begrotingsprojeksies sal raak, sal egter eers in die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober aangedui word.

Salarisse

In 'n ander parlementskomiteevergadering Dinsdag het die tesourie gewys hoe die loonooreenkoms met staatsamptenare vroeër vanjaar reeds tot oorbesteding lei.

Dit is omdat daar nooit begroot is vir die loonverhoging van 7,5% wat staatsamptenare vanjaar gekry het nie.

In die eerste kwartaal van die staat se lopende boekjaar - die drie maande van April tot Junie - is R46,79 miljard al aan salarisse bestee teenoor die verwagte R44,791 miljard. Dit is R2 miljard of 4,5% meer. Hierteenoor was daar in al vyf die vorige boekjare in die eerste kwartaal 'n onderbesteding vergeleke met projeksies wat salarisse betref.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM