Die rand, wat heel week reeds bo R18 boer, het Woensdag met die begrotingsrede net vir 'n wyle effens asem geskep en versterk nadat Enoch Godongwana, minister van finansies, met sy begrotingsrede begin het.
Sanisha Packirisamy, 'n ekonoom van Momentum, sê daar was oor die algemeen 'n positiewe reaksie van die vaste-inkomste- en valutamarkte (dit is onderskeidelik waar staatseffekte verhandel en die rand verhandel) vanweë die aansienlike finansiële steun wat die regering aan Eskom beloof het.
Sy glo die begroting is ook goed vir Suid-Afrikaanse aandele.
Dit is gegewe geen belastingverhogings (geen brandstofheffingverhoging en slegs inflasieverwante verhogings in sondebelasting) en dat persoonlike inkomstebelastingkerwe met inflasie aangepas is, asook die inflasieverwante verhogings in welsynstoelae.
Bloomberg berig die rand het met sowat 0,7% teenoor die dollar versterk toe Godongwana oor die plan met Eskom se skuld gepraat het, waarop in spanning gewag is.
Teen die tyd dat hy sy toespraak afgehandel het, was die rand steeds op dieselfde vlak.
Die opbrengskoers op die mees likiede staatseffek, wat in 2026 verval, het getoon dat "beleggers optimisties is dat die plan om Eskom se skuld na die staat oor te dra, nie 'n drastiese impak op die regering se stand van sy skuld het nie".
Robert Hoodless, 'n valutastrateeg van InTouch Capital Markets in Londen, sê: "Dis die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, en uiteindelik sal Eskom en Suid-Afrika dít moet lewer wat die belowende woorde in die begroting sê."
Elna Moolman, 'n ekonoom van die Standard Bank-groep, glo beleggers sal troos put uit die voortsetting van die voorneme met die fiskale situasie en meer duidelikheid oor die fiskale impak van steun vir Eskom.
"Die begroting herhaal die regering se verbintenis tot skuldstabilisering en 'n primêre surplus."
Die rand het teen 18:00 teen R18,16 verhandel wat 6c of 0,3% sterker as die vorige sluiting van R18,22 was, toon Investing.com se inligting.
In 'n stadium gedurende die oggend voor die begrotingstoespraak het die rand tot R18,38 verswak.





















