Begroting

Regering hou Denel-beursie styf vas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Een van Denel se vliegtuigskure op die O.R. Tambo- Internasionale Lughawe in Johannesburg.   Foto: William Horne
Een van Denel se vliegtuigskure op die O.R. Tambo- Internasionale Lughawe in Johannesburg. Foto: William Horne

Die verhouding tussen die wapentuigvervaardiger Denel en die staat herinner aan dié tussen kinders en ouers: "As jy onder my dak bly, moet jy my reëls gehoorsaam."

As Denel nie die reëls gehoorsaam wat die regering daargestel het nie, kry hy doodeenvoudig nie die geld wat die regering aan hom beloof het nie.

Die regering het in verlede jaar se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) 'n reddingsboei van om en by R3,4 miljard aan Denel toegeken.

'n Jaar later het Denel nog net R1,9 miljard van die reddingsboei ontvang.

Ravesh Rajlal, 'n amptenaar van die tesourie, het tydens 'n vraag-en-antwoordsessie gesê Denel het die R1,9 miljard ontvang omdat hy reeds van sy niekernbates verkoop het.

Hy het die geld gebruik om skuld te betaal, sy herstrukturering te finansier en om sy kapitaal aan te vul.

Volgens Rajlal het Denel reeds om en by R992 miljoen se niekernbates verkoop.

Indien Denel nog van sy bates verkoop, kan die res van die reddingsboei aan hom uitbetaal word.

Denel het in September 'n verdere R100 miljoen van die regering aangevra om sy laaste staatsgewaarborgde skuld te delg.

Hierna het Denel nie meer enige uitstaande skuld nie en sy staatswaarborg is teruggetrek.

Volgens die regering bly die onderneming nietemin in 'n "finansiële verknorsing".

Hy het sedert die 2020-boekjaar geen state uitgereik nie.

Denel sal teen Maart 2024 altesame R9,8 miljard van die staat oor die afgelope drie jaar ontvang het.

Dit is amper gelykstaande aan die totale inkomste wat die monopolie-wapentuigvervaardiger sedert die 2018-'19-boekjaar ingevorder het.

Denel is al sedert die 2019-boekjaar insolvent.

Hy was egter vroeër vanjaar vol vertroue dat hy sy regrukplan sal kan uitvoer, as die res van die regering se beloofde reddingsboei aan hom uitbetaal word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM