Begroting

Reserwebank se spaarvarkie oopgebreek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Reserwebank se kantoor in Pretoria.
Die Reserwebank se kantoor in Pretoria.

Dieselfde pyne as laas jaar met persoonlike belasting, erger pyne met drank en twak, maar darem steeds verligting by die vulstasie.

Om die ekstra R15 miljard in te vorder wat Enoch Godongwana, minister van finansies, in Oktober verlede jaar beloof het, het hy soos verwag geen aanpassings aan die belastingkerwe vir persoonlike inkomstebelasting gemaak nie.

Die belastingdrempels is ook geensins vir inflasie aangepas nie.

Maar erger nog, vir liefhebbers van alkohol en tabakprodukte, en die drankbedryf wat juis gesmeek het vir inflasieverwante aksynsverhogings, het Godongwana Woensdag 'n veel skerper verhoging in aksyns aangekondig.

Soos vermoed, gaan die staat ook R150 miljard van die se goud- en valutareserwes in die Reserwebank se gebeurlikheidsrekening oor die volgende drie jaar vat. Dit sal gebeur via 'n amptelike ooreenkoms tussen die tesourie en die Reserwebank en sal in wetgewing vervat word. Omdat die geld gebruik gaan word in plaas daarvan om nuwe skuld aan te gaan, gaan dit help om die regering se skulddienskoste oor die drie jaar met R30,2 miljard te verminder vergeleke met wat in die mediumtermynbegrotingsraamwerk geraam is.

Dit blyk die tesourie wil vanjaar al R100 miljard van die geld vat sodat hy minder hoef te leen, met R25 miljard elk in die daaropvolgende twee boekjare.

Dr. Duncan Pieterse, direkteur-generaal van finansies, het ontken dat die geld uit die Reserwebank se gebeurlikheidsrekening gebruik sal word om salarisverhogings aan staatsamptenare te betaal. Dit is eerder om die staat se leningsvereistes te verlaag. Die tesourie gaan dus minder effekte hoef uit te reik, en die geld gaan gebruik word om die duurste staatslenings eerste af te los.

Dit is duidelik dat die regering wil voortgaan met die armoedetoelaes wat tydens die Covid-19-pandemie ingestel is. Werk word gedoen om die toelaes teen April vanjaar te verbeter, het Enoch Godongwana, minister van finansies, in sy begrotingsrede gesê.

Die tesourie verwag vir die eerste keer sedert die 2008-'09-boekjaar 'n primêre begrotingsoorskot vir die boekjaar wat einde Maart sluit. Dit is wanneer inkomste meer is as nie-rentebesteding. Godongwana het in Oktober wel voorspel dat 'n primêre begrotingsoorskot binne die volgende drie jaar behaal sal word, maar het nie toe voorspel dat dit al vanjaar sal wees nie.

Met skulddienskoste van R382,2 miljard vir die komende boekjaar, is dit steeds die snelgroeiendste bestedingsitem, maar die tesourie verwag nou dat dit oor twee jaar as persentasie van inkomste 'n spits sal bereik en daarna sal daal.

Die tesourie is steeds meer optimisties as die Reserwebank oor ekonomiese groei, en verwag dat die BBP vanjaar met 1,3% sal groei teenoor die Reserwebank se raaiskoot van 1,2%. Die tesourie verwag groei van 1,6% volgende jaar, met die Reserwebank wat net 1,3% verwag.

Goeie nuus uit die begroting vir die motorbedryf wat na elektriese voertuie wil oorskuif, is dat vervaardigers van elektriese voertuie in Suid-Afrika 150% van hul kwalifiserende kapitaalbesteding sal kan terugeis as aansporing om die oorgang na nuwe-energievoertuie te versnel. Dit sal geld vir nuwe investering hierin van 1 Maart 2026 af.

Hoewel daar verwag is dat Godongwana vanjaar die brandstofheffing sou verhoog om te help invorder aan die ekstra R15 miljard wat hy teiken, is daar besluit om soos die afgelope twee jaar reeds geen verandering daaraan te maak nie, asook nie aan die Padongelukfondsheffing nie. Dit verteenwoordig volgens die tesourie sowat R4 miljard se belastingverligting, en dit is ook die enigste belastingverligting wat vuisvoos verbruikers skynbaar vanjaar uit die begroting kry.

Internasionale maatskappye wat in Suid-Afrika sake doen, word vasgevat in die begroting, en moet nou hoor dat hulle 'n effektiewe belastingkoers van minstens 15% sal moet betaal, ongeag waar hulle hul winste behaal. Dit is in pas met 'n internasionale inisiatief van 'n groep lande om multinasionale maatskappye wat oor landsgrense heen sake doen, te kry om hul belastingverpligtinge na te kom.

Met die jaarlikse kommer oor waar die geld vandaan gaan kom om aan staatsdiensvakbonde se eise vir salarisverhogings te voldoen, het die tesourie R58 miljard se besteding wat hy in die mediumtermynbegrotingsraamwerk sou besnoei, teruggesit in die begroting om salarisse vir onderwysers, verpleegpersoneel, polisiebeamptes, dokters en ander te finansier. Vir die komende drie boekjare is R251,3 miljard opsy gesit vir staatsdienssalarisse asook om welsynstoelaes te betaal.

Die staatspensioentoelae word met R100 verhoog tot R2 185, en vir mense ouer as 75 styg dit tot R2 205. Die kindertoelae styg met R25 tot R530, en die ongeskiktheidstoelae van R2 085 tot R2 185. Daar is R33,9 miljard begroot vir die armoedetoelae van R350 per maand, en in die volgende twee jaar is daar onderskeidelik R35,1 miljard en R36,7 miljard "voorlopig geoormerk vir welsynsbeskerming" - 'n manier vir die tesourie om te sê die armoedetoelae sal voortgaan sonder om dit só te stel. 'n Geraamde 9,2 miljoen mense gaan vanjaar die toelaes kry.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM