Begroting

Tesourie: Basiese inkomstetoelae gaan te duur wees

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Net twee lande ter wêreld het werklik 'n basiese inkomstetoelae, en albei dié lande het dit al afgeskaal weens bekostigbaarheid.

Só het Edgar Sishi, hoof van die tesourie se begrotingskantoor, Vrydag wal gegooi teen burgerlike organisasies en ander dinkskrums se volgehoue pleidooi dat die huidige Covid-19-armoedetoelae in 'n permanente basiese inkomstetoelae omskep moet word.

Volgens Sishi kos die armoedetoelae tans sowat R40 miljard per jaar, en dit kan teen 2033 tot R171 miljard wees as dit 'n permanente toelae sou raak, en namate meer mense dit ontvang en dit verhoog word om naby die kos-armoedelyn te kom.

Die staatskas kan bloot nie dié bedrag bekostig sonder permanente groot belastingverhogings nie, het Sishi op 'n parlementsvergadering gesê tydens die tesourie se reaksie op die openbare voorleggings oor die afgelope mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR).

Daar is tegnies nie tans 'n middeletoets vir 'n basiese inkomstetoelae nie, en dit kan tot soveel as 35 miljoen mense tussen 18 en 60 wees. Dan sal dit byna R400 miljard per jaar kos, het Sishi gesê.

Edgar Sishi, hoof van die begrotingskantoor van die nasionale tesourie. Foto: Facebook
Edgar Sishi, hoof van die begrotingskantoor van die nasionale tesourie. Foto: Facebook

Volgens die tesourie is dit die regering en die kabinet wat uiteindelik moet besluit of die armoedetoelae moet voortgaan of nie. Die tesourie se werk is om geld te kry daarvoor. Tot 60% van die ontvangers van die armoedetoelae is jonger as 35, en van hulle is gekwalifiseer.

Oor die volgehoue kritiek deur die parlementêre begrotingskantoor, vakbonde en ander burgerlike organisasies wat meen die tesourie se klem op fiskale konsolidering is teen armes en dat meer gedoen moet word om werkskepping aan te spoor, het Sishi gesê die tesourie glo steeds 'n onvolhoubare fiskale vooruitsig gaan nie werk skep en die ekonomie laat groei nie.

"Groei het oor dekades ooreengestem met werkskepping. Ons siening is dat die fiskale wanbalanse sedert 2008 groei beperk het. As dit nie aangepak word nie, plaas dit ons nie in 'n goeie posisie nie.

"Sommige mense meen ons kan aanhou bestee en leen en dat dit nie opsigself 'n probleem is nie, maar ons moet op groei én die fiskale wanbalanse fokus.

"Die samelopende impak van tekorte en skuld lei tot groter rentekoste en toenemende persepsies van Suid-Afrika as 'n riskante belegging. Suid-Afrika se risikopremie het toegeneem vergeleke met ander opkomende markte namate ons skuld toegeneem het."

Oor kritiek dat die MTBR ter tafel gelê is nog voordat die jongste mediumtermynontwikkelingsplan ook ter tafel gelê is, het Sishi gesê daar is geen wetlike verpligting dat die plan saam met die MTBR gepubliseer moet word nie.

'n Debat het in die vergadering ontstaan oor of die belastingaansporings vir indiensneming doeltreffend is of nie. Volgens Sishi is navorsing daaroor gedoen, en die vennote in die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) het reeds ingestem dat die aansporings tot 2029 verleng moet word, en vorige finansiële komitees van die parlement het daartoe ingestem.

Sishi gee toe navorsing oor die impak van die aansporing was wisselend, met sommige wat 'n positiewe impak wys maar ander wat geen impak wys nie.

Dr. Seán Muller, 'n navorser wat in die openbare sitting kritiek op die indiensnemingsaansporings gelewer het, het in reaksie gesê van die navorsers wat 'n positiewe impak daaroor gevind het, was nie onafhanklik nie, want hulle het geld van die presidensie, die tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ontvang om hul navorsing te doen.

Volgens Muller het hy 'n studie in 'n internasionale akademiese joernaal gepubliseer wat dui op geen geloofwaardige bewyse dat dié aansporings enige verskil gemaak het nie.

Prof. Seeraj Mohamed van die parlementêre begrotingskantoor het gewys op die "engheid" van die ekonomiese perspektiewe van die tesourie. Hy het gevra die parlement moet die tesourie smeek om 'n "meer pluralistiese benadering" tot die ekonomie te volg.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM