Begroting

Tesourie vat R150 mjd. van Reserwebank se ‘pot goud’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die tesourie het aangekondig dat die Reserwebank se goud- en dollarreserwes vir die staatskas benut gaan word. Foto: iStock
Die tesourie het aangekondig dat die Reserwebank se goud- en dollarreserwes vir die staatskas benut gaan word. Foto: iStock

Die tesourie het aangekondig dat die Reserwebank se goud- en dollarreserwes vir die staatskas benut gaan word.

Bespiegeling oor dié omstrede besluit het reeds verlede jaar vlamgevat, met sekere kommentators wat baie bekommerd was oor die moontlike impak wat dit kan hê op die Reserwebank se vermoë om sy werk te doen.

Die tesourie gaan altesame R150 miljard oor die volgende drie jaar onttrek, met R100 miljard wat vir vanjaar beplan word.

Die Reserwebank besit meer as R1 000 miljard se bates in verskeie vorms.

Die enigste rekening waaruit die tesourie 'n onttrekking wil maak, is die gebeurlikheidsrekening vir goud en buitelandse valuta (GFECRA).

Dié rekening stel die Reserwebank in staat om internasionale betalings te doen.

Wanneer die rand teenoor die dollar of ander belangrike geldeenhede versterk, verklein dié rekening, en as die rand verswak, dan groei dit.

Die tesourie is egter van mening dat die GFECRA nou tot so 'n hoë vlak gegroei het dat dit "groter as enige denkbare verliese weens die moontlike verswakking van die rand is".

Daarboonop wil die tesourie die regulasies rakende die Reserwebank se bestuur van sy reserwes wysig.

Binne die raamwerk van huidige regulasies is die tesourie daarvoor verantwoordelik om die Reserwebank te herfinansier indien hy weens enige eksterne skokke in internasionale markte verliese begin ly.

Die regering is op sy beurt geregtig op sekere oorskot-opbrengste, maar nie die reuse-waarde van die GFECRA nie.

"Dis baie eienaardig," lui die begrotingsraamwerk wat Woensdag ter tafel gelê is.

Die plan is dus om die regulasies rakende die bestuur en benutting van spesifiek die GFECRA te wysig om dit nader aan die norm van ander sentrale banke te bring.

Die Reserwebank se reserwes sal dus in drie "potte" verdeel word.

Die eerste pot is die GFECRA, wat voortaan nie bloot onbeperk sal groei nie, maar net 'n toepaslike reserwe sal handhaaf.

Wanneer dié vlak bereik word, sal enige ander oorskot na die tweede pot beweeg. Dié pot sal 'n gebeurlikheidsfonds wees om sowel die Reserwebank se eie solvensie te beskerm as om geldinspuitings beskikbaar te hê om die impak van nodige rentekoersverhogings op die ekonomie te versag.

Wanneer 'n oorskot in dié pot aangeteken word, sal dit regstreeks na die derde pot beweeg, wat die tesourie se eie rekening sal wees.

Sodoende mik die tesourie om transaksies soos die R150 miljard-onttrekking te formaliseer en 'n "deursigtige" regulatoriese raamwerk daarvoor op te stel.

Die tesourie sal ná die onttrekking van die R150 miljard vanjaar geld aan die Reserwebank teruggee om sy tweede pot, die algemene gebeurlikheidsfonds, te finansier sodra die nuwe regulatoriese raamwerk toegepas word.

Die tesourie sê die benutting van die reserwes vir die staatskas vanjaar sal regstreeks lei tot 'n vermindering in skulddienskoste van R30,2 miljard oor die drie jaar van die nuwe mediumtermynbegrotingsraamwerk.

William Horne

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM