Begroting

Tesourie verdedig sy ‘snoeiwerk’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Yunus Carrim. Foto:  Nardus Engelbrecht, Gallo Images
Yunus Carrim. Foto: Nardus Engelbrecht, Gallo Images

Die ideologiese foutlyne oor fiskale beleid en hoe die ekonomie aan die groei gekry moet word, is weer Vrydag blootgelê tydens die nasionale tesourie se reaksie op die publiek se sienings oor die begroting.

Dr. Duncan Pieterse, direkteur-generaal van finansies, en sy span van die tesourie moes weer, soos dit jaar ná jaar gebeur, die tesourie se beleid van fiskale konsolidasie en pogings om skuld te verlaag, verdedig op 'n vergadering van die parlement se staande en gekose komitees oor finansies.

Selfs Joe Maswanganyi en Yunus Carrim, die voorsitters van die onderskeie komitees, het die tesourie se beleid van fiskale konsolidasie in twyfel getrek.

Edgar Sishi, begrotingshoof by die tesourie, se ophaal van verslae van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het veral vir Carrim omgekrap.

Volgens Sishi is die jongste advies vanuit die buiteland dat dit Suid-Afrika sal baat om te besuinig deur besteding in te kort en sy skuld te verlaag.

Carrim wou weet waarom slegs die IMF gevra word om die tesourie se deursigtigheid oor begrotingsprosesse te beoordeel. Volgens hom is die IMF ideologies bevooroordeeld.

Sishi het probeer verduidelik dat die IMF 'n baie spesifieke meting gebruik wat ook op talle ander lande toegepas word, wat dit vir die tesourie moontlik maak om homself behoorlik aan 'n internasionale maatstaf te meet.

Anders as wat instellings soos die Finansiële en Fiskale Kommissie en die Parlementêre Begrotingskantoor aanvoer, is daar nie bewyse dat konsolidasie ekonomiese groei belemmer nie, het Sishi aangevoer.

As daar krag is, treine loop en betyds is, en as hawens doeltreffend werk, kan die ekonomie groei.

Die tesourie pak fiskale konsolidasie aan sodat skuld kan afneem, want as skuld afneem, daal kredietrisiko en die koste van lenings ook.

Sishi moes ook die Reserwebank se beleid oor inflasieteikens verdedig. "Ons weet nie van enige land wat suksesvolle en inklusiewe groei met hoë inflasie behaal het nie. Dis hoekom inflasieteikens nodig is. Dit het op lang termyn tot laer inflasie en laer rentekoerse gelei. Dit help om prysstabiliteit te bereik."

Duncan Pieterse, direkteur-generaal van die tesourie, sê streng kriteria geld vir enige aanpassing aan die begroting. Foto: Jaco Marais
Duncan Pieterse, direkteur-generaal van die tesourie, sê streng kriteria geld vir enige aanpassing aan die begroting. Foto: Jaco Marais

Salarisse

Op 'n vraag oor staatsdienssalarisse het Sishi gesê vanjaar se begroting maak voorsiening vir die koste van verlede jaar se loonooreenkoms en vir salarisse vir personeel-intensiewe departemente.

Die rolspelers by die Openbaresektor-bedingingsraad het ooreengekom om daarna te mik dat die loononderhandelings oor staatsamptenare se salarisse van die 2025-'26-boekjaar afgehandel word voordat die daaropvolgende jaar se begroting gefinaliseer word, sê Sishi.

Dit was een van die tesourie se groot kopsere dat die proses om lone vir staatsamptenare vas te stel, nie histories ooreengestem het met die begrotingsproses nie.

Studies oor fiskale vermenigvuldigers in Suid-Afrika het ook gewys die effek van fiskale konsolidasie of fiskale verruiming op die ekonomie is baie laag, het Sishi gesê. Dit beteken daar is min impak op ekonomiese groei, ongeag of die staat meer of minder geld uitgee.

LEES OOK | Staat gooi geld in die water, sê tesourie sélf

As besteding uitgebrei word, is dit met geleende geld wat rente trek, en die rente vreet weg aan geld wat bestee kon word aan werklik belangrike goedere en dienste.

Reserwebank

Volgens Pieterse is daar besluit om die geld uit die Reserwebank se gebeurlikheidsreserwefonds (GFECRA) nie aan voortgesette besteding te wy nie, want dit is net 'n eenmalige benutting van so 'n omvang. Dit het sin gemaak om dit eerder te gebruik om die staat se skuld te verlaag.

LEES OOK | Die A tot Z van GFECRA: Só werk die plan met reserwe-wins

Sishi sê met die omvang van die GFECRA het die Reserwebank 'n uitsondering gemaak onder sy eweknieë. Dit is die grootste bedrag van laste verskuldig aan die staat van enige sentrale bank in die IMF se databasis, relatief tot die grootte van sy balansstaat.

Dr. Dion George, DA-lid van die staande komitee oor finansies, het egter daaroor uitgevaar dat die land 'n groeiprobleem, 'n bestedingsprobleem en 'n skuldprobleem het. Die meer as R1 miljard per dag wat aan rente op skuld bestee word, is nie volhoubaar nie en is 'n resep vir 'n ramp. Hy meen die "strooptog" op die Reserwebank gaan nie 'n verskil maak nie.

Prof. Michael Sachs van die Public Economy Project het die tesourie lof toegeswaai, al verskil hy van hulle, en het gemeen die debat oor fiskale beleid was van die hoogste gehalte wat nog gevoer is.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM