Die vleisgroep Beefmaster is bly oor die hulp met dieselprys wat Woensdag in die begrotingsrede vir voedselvervaardigers aangekondig is.
Roelie van Reenen, verskaffingsketting-bestuurder van die groep, sê die begrotingsrede erken hoe swaar verbruikers kry met voedselpryse en dat die beurtkrag die koste van voedselproduksie verhoog het.
"Die regering erken dat voedselvervaardigers dalk geen ander keuse het nie as om die verhoogde produksiekoste aan reeds sukkelende verbruikers deur te gee, en probeer dit met doelgerigte maatreëls teenwerk.
"Ons is veral bly dat die regering beplan om die uitwerking van die kragkrisis op voedselpryse te verlig deur die terugbetaal van die Padongelukfondsheffing na voedselvervaardigers uit te brei."
Dié heffing beloop R2,18 per liter van die prys van diesel.
Die regering het in 2000 begin om die algemene brandstofheffing en dié heffing aan boere en ondernemings in die bosbou-, vissery- en mynbedryf terug te betaal.
Die heffing wat voedselvervaardigers terugkry, sal twee jaar lank van April geld.
Die staat verloor sowat R7 miljard se inkomste daarmee.
Die terugbetaling geld diesel wat vir die vervaardiging van voedsel gebruik word, insluitend vir kragopwekkers.

Die landbougroep AgriSA erken die maatstawwe aan die sektor, terwyl die regering werk om Eskom op 'n stewiger voet te plaas. "Dit is van besondere belang dat die terugbetaal van die Padongelukfondsheffing op diesel na vervaardigers van voedsel uitgebrei is. Die ingryping sal help om die koste van voedselproduksie tot voordeel van verbruikers te beperk."
AgriSa meen die begroting gee 'n nugter ontleding van die omgewing waarin die bedryf is.
"Agri SA is oor die algemeen tevrede dat Godongwana die konteks waarin die begroting gelewer is, verstaan. Dit is 'n kritieke oomblik vir 'n landbousektor wat deur beurtkrag geteister word."
Wynbedryf borrel
Die wynbedryf glo die regering het met die inflasieverwante aksynsverhoging wat in die begroting aangekondig is, getoon hy het begrip vir die finansiële werklikheid wat die bedryf teister.
Gondwana het 'n verhoging van 4,9% in aksyns vir wyn en brandewyn aangekondig, volgens die wynbedryfsliggaam Vinpro.
LEES OOK | Sondetaks: Sigarette se belasting byna R1 hoër
Rico Basson, bestuurshoof van Vinpro, sê die verhoging van net 0,7% op vonkelwyn is in ooreenstemming met 'n versoek van die bedryf.
"Ons is dankbaar dat die regering gehoor gegee het aan die pleidooie van ons bedryf. Vinpro en ander bedryfsorganisasies het in gesprekke met tesourie oor die afgelope paar maande die benarde posisie van die wynbedryf benadruk en versoek dat inflasieverwante aksynsbelasting ingestel word."
Die bedryf is gewoonlik ook bekommerd oor die impak van drank wat onwettig verkoop word en waarvoor daar dus nie aksyns aan die staat betaal word nie.
Daarom het die bedryfsliggaam, wat groot handelsname in die drankbedryf verteenwoordig (Salba), dit ook vewelkom dat die verhoging nie meer as inflasie is nie.
Kurt Moore, uitvoerende hoof, sê die bo-inflasie-verhogings vir baie jare op spiritualieë veral, het daartoe bygedra dat wettige alkohol se pryse nou onwettige alternatiewe gemiddeld met 43% oorskry.
Hy glo die verhoging erken die probleem en sal onwettige handelaars ontmoedig.
AgriSA glo egter dit is teleurstellend dat uitstel nie op die aksyns van alkohol en tabak gegee is nie, maar is dankbaar oor die suikerbelasting wat nie verhoog is nie.
Suikerbedryf nie bitter
Die suikerbedryf se bedryfsliggaam, SA Canegrowers, het die aankondiging verwelkom dat 'n beplande verhoging van die belasting op suiker toe nie ingestel is nie.
Ook dié bedryf sê produsente word deur ernstige probleme in die gesig gestaar.

Die bedryfsliggaam glo ook die aankondiging om die belasting nog vir twee jaar op sy huidige vlak te hou, toon Godongwana erken die moeilike omstandighede waarin die bedryf is.
Die minister het aanvanklik verlede jaar aangekondig daar kom 'n verhoging. Dit sou in April 2022 in werking tree en is toe uitgestel vir vanjaar April.
"Die uitwerking van 'n verhoging sou verwoestend vir die bedryf gewees het."
Infrastruktuurprojekte verwelkom
Van Reenen het die ondersteuning verwelkom aan die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley om ononderbroke watertoevoer in die gebied te verseker deur herstelwerk aan die Riverton -watervoorsieningskema, wat die enigste waterbron en voorsieningstelsel na die dorp is.
Beefmaster is ook bemoedig deur die regering se fokus op infrastruktuurbeleggings in plattelandse gebiede soos die Oos-Kaap, Mpumalanga en Limpopo.
LEES OOK | So word landbou gehelp
"Kos is duur vir behoeftige gemeenskappe wanneer hulle ver na winkels moet ry. Die bou van brûe in die gemeenskappe sal baie help om verligting aan die armstes van die armes in Suid-Afrika te bied."
Vinpro is ook dankbaar vir die belegging in die Brandvleidam en die belegging waarvoor begroot is in die Clanwilliam-dam.
Agri SA het ook die beplande besteding van meer as R480 miljard aan kritieke infrastruktuur, insluitend vervoer en logistiek, asook water en sanitasie verwelkom en sê dit toon nasionale tesourie se begrip van die noodsaaklike bydrae van hierdie belangrike projekte tot die nasionale ekonomie en die land se voedselsekerheid lewer.




















