Die besluit deur ouer huiseienaars van wanneer om af te skaal is geensins 'n maklike een nie.
Dit is 'n emosionele gewroeg oor die verlies van 'n anker waar lewensbepalende gebeure oor die jare afgespeel het; en gevolg aan die ander kant deur die wete dat jou volgende en laaste eiendom een tree nader aan die ewige impliseer.
Té vroeg of té laat skuif is egter ewe nadelig, meen Claude McKirby, die mede-prinsipaal by Lew Geffen Sotheby's International Realty in die Kaapse suidelike voorstede.
Jy kan ook die volgende oorwegings in ag neem om jou gereedheid vir afskaal te toets:
- Is die kinders al uit die huis uit?
As jy vind jy bestee tyd in slegs 'n sekere aantal vertrekke, moet jy die nodige vrae begin vra. Onthou ook dat leë, ongebruikte vertrekke aandag vereis terwyl jy veel eerder op die gholfbaan of strand kon wees. En dat vasklou aan 'n groter, veelvertrek-eiendom omdat die kinders een keer per jaar oor Paas- of Kersfees kom kuier, nie sin maak as daardie luukse 'n las word wat vir die res van die jaar nie benut word nie.
- Raak die onderhoud te veel?
Ouer huise verlang meer aandag, wat op sy beurt koste opjaag; en wanneer opknapping té duur of té veel moeite word, is dit dalk tyd vir rondkyk. Vergelykend is nuwer, kleiner huise meer energiedoeltreffend gebou en word die terrein en herstelwerk by komplekse en aftree-oorde deur die beheerliggaam bestuur, sodat inwoners kan fokus op stokperdjies, reis of rus.
- Dwing jou gesondheid 'n leefstylverandering?
Oorgroot, veelvlakhuise bied weinig waarde vir eienaars wat met mobiliteit sukkel. Huise in aftreekomplekse is spesiaal ingerig met handrelings of opritte en breër gange vir rolstoele; en bied amper altyd sorg- sowel as sosiale en fiksheidsfasiliteite op die perseel.














