Eiendomme

Attacq betaal weer dividend

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die JSE-gebou in Johannesburg.
Die JSE-gebou in Johannesburg.

Die eiendomsgroep Attacq, ontwikkelaar van Waterfall City in Gauteng, kan sy aandeelhouers weer met 'n dividend beloon.

Attacq het vir die boekjaar tot einde Junie 'n dividend van 50c per aandeel verklaar nadat geen dividende in die vorige boekjaar uitgekeer is nie.

Dit is danksy verspreibare inkomste per aandeel wat met 34,2% tot 62,8c gegroei het vanweë beter huurinvorderings, die ontvangs van 'n dividend van sy belegging in die Europese eiendomsgroep MAS, en laer rentekoste.

Winkelsentrums se handelsbedrywighede en besoekerstalle het só herstel dat die geweegde gemiddelde handelsdigtheid oor die 12 maande in totaal met 12,6% tot R3 392 per m² gegroei het. Handelsdigtheid verwys na die totale kleinhandelverkope per verhuurbare winkelruimte.

In Mall of Africa, die spogwinkelsentrum wat deel is van Waterfall City, het die handelsdigtheid met 18,7% gegroei. In Garden Route Mall in George in die Suid-Kaap was dit 11,9% beter en in Lynwood Bridge en die Mooirivier Mall het dit met 11,1% gestyg.

Die handelsdigtheid in die winkelsentrums is nou beter as voor die Covid-19-pandemie.

Sy verspreibare inkomste per aandeel uit die Waterfall City-ontwikkeling was wel 3% laer op 32,3c weens eiendomme wat verkoop is, 'n toename in verwagte kredietverliese wat met Cell C verband hou, en 'n groter leegstandsyfer weens Transnet wat sy kantore in Waterfall Circle gesluit het.

Wat die laer inkomste teengewerk het, was dat Attacq minder huurafslag aangebied het aan huurders en laer rentekoste gehad het danksy laer skuldvlakke.

Attacq se huurinkomste was min of meer dieselfde as 'n jaar gelede op R2,2 miljard, hoewel vergelykbare rente-inkomste met 2,5% verhoog het. In die vorige boekjaar het dit met 0,5% gedaal.

In die res van Suid-Afrika was sy samewerkingsnodusse effe beter benut.

Die groep se winkelsentrums het in totaal 'n beter besettingskoers geniet as in die vorige jaar, met 'n verbetering van 95,5% na 96,5%.

In Waterfall City was sy samewerkingsnodusse - eintlik maar kantoorruimte - nie so goed benut soos in die vorige jaar nie, met die besettingskoers wat van 93,8% tot 80,8% afgeneem het. In die res van Suid-Afrika was sy samewerkingsnodusse effe beter benut - van 85,5% na 87%.

Een van die nuwe projekte van Attacq by Waterfall City is om 'n hoofkantoor en verspreidingsentrum vir Plumblink te bou. Plumblink is 'n handelaar in badkamer- en loodgieterprodukte en is 'n filiaal van Bidvest. Die projek gaan R141,9 miljoen kos en sal uit die staanspoor 'n sonkragstelsel op die dak hê.

Attacq het in die boekjaar self 'n kragkooporeenkoms vir 15 MW se elektrisiteit gesluit met 'n onafhanklike kragprodusent.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM