Eiendomme

DEELTITELFORUM #108: Mag Jeremia steeds stem?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
GESKEP DEUR TOQAN KI
GESKEP DEUR TOQAN KI (GESKEP DEUR TOQAN KI)

Volgens die webblad van die Universiteit van Wene is die uitdrukking “boontjie kry sy loontjie” ontleen van ’n Nederlandse sprokie van ertjie, boontjie, strooitjie en kooltjie vuur wat gaan wandel het. Toe hulle by ’n rivier kom, moes hul beplan hoe hulle by die oorkantste wal gaan uitkom.

Strooitjie bied toe vriendelik aan om oor die water te lê sodat sy maats hom kan gebruik om die rivier oor te steek. Ertjie en boontjie het eerste oorgegaan. Toe dit kooltjie vuur se beurt is, loop dinge skeef, want kooltjie vuur slaan aan die brand en val in die water. Boontjie, onsensitief en ontydig, lag toe so hard oor dié debakel van sy kooltjie-vuur-vriend dat hy bars – sy verdiende loon.

Wyle Tertius Maree se denkbeeldige deeleienaar, Jeremia Jackson, was ’n lawaaierige oorlas wat die lewe vir sy bure en mede-eienaars dikwels moeilik gemaak het. Hy meen die skema se reëls is vir ander om na te kom en betaal daarom ook nie boetes wat opgelê is vir sy oortredings nie. Met hande in hul hare sien die trustees op na die komende algemene jaarvergadering, want hulle weet al hoe Jeremia dinge kan ontstig.

Dit is daarom dat die trustees die Deeltitelbestuurswet (DBW) nadergetrek het om te kyk of Jeremia mag stem terwyl sy boetes onbetaald bly; immers, dit sal sy verdiende loon wees as sy stemreg opgeskort word in sulke omstandighede.

Wanneer word ’n deeleienaar sy stemreg ontneem?

Bestuursreël (BR) 20(2) dui aan dat wat besluite wat ’n gewone meerderheid verg, betref, ’n eienaar se stemreg opgeskort word in die volgende gevalle:

  • As ’n eienaar versuim of weier om ’n bedrag aan die regspersoon te betaal nadat ’n hof of die Gemeeskapsbehuisings­ombud (CSOS) ’n bevel te dien effek uitgereik het. Hierdie opskorting geld slegs indien daar so ’n hofbevel of CSOS-bevel bestaan én die eienaar steeds versuim om te betaal. ’n Eienaar wat agterstallig met sy heffing-betalings is, behou die reg om ten opsigte van alle resolusies te stem in die afwesigheid van ’n formele bevel teen hom of haar.
  • So ook as ’n eienaar aanhou om gedragsreëls te oortree ten spyte van ’n hof- of CSOS-bevel wat hom of haar gelas het om sodanige optrede te staak, mag daardie eienaar nie ten opsigte van gewone resolusies stem nie.

Net soos in die geval van agterstallige heffings, geld hierdie diskwalifikasie slegs indien daar ’n formele bevel is en die oortreding voortduur. (Wat Jeremia Jackson betref, beteken dit dat die trustees ’n hof of die CSOS moet nader vir ’n bevel voordat oorweging geskenk kan word aan opskorting van Jeremia se reg om te stem.)

Eienaars wat op grond van bogenoemde redes gediskwalifiseer is om te stem ten opsigte van gewone besluite, behou egter steeds die reg om te stem ten opsigte van spesiale en eenparige besluite.

Dit voel met die eerste oog­opslag dat dié vergunning ’n teenstrydigheid is. Maar dit is nie: Die wetgewer het voorgeskryf dat waar besluite geneem moet word wat ernstige gevolge het en die inhoud van ’n persoon se eiendomsregte aanraak, spesiale en/of eenparige besluitneming voorgeskryf is.

Weens die gewigtigheid van sulke besluite moet ook die Jeremia Jacksons van die deeltitel-wêreld betrek word. En as ’n Jeremia Jackson halsstarrig is, is daar remedies in die wet wat die regspersoon te hulp staan.

Wat voorgaande betref, maak dit nie saak of ’n persoon ’n eienaar of trustee is nie – die stemreg word opgeskort indien die eienaar of trustee nie gehoor gee aan ’n hof- of CSOS-bevel nie. Wat trustees betref, is daar egter bykomende omstandighede waar stemreg ingeperk word.

BR 14(3) bepaal dat ’n trustee nie mag stem nie wanneer:

  • Daar ’n kontrak of dispuut is waarby die regspersoon én die trustee self, in sy persoonlike hoedanigheid, betrokke is; en
  • Besluitneming geskied ten opsigte van ’n aangeleentheid waarby die trustee ’n persoonlike belang het (direk of indirek).

Hierdie reël het ooglopend ten doel om ’n konflik van belange tussen trustees se persoonlike belange en dié van die regspersoon te voorkom.

Hoe word die kworumvereistes geraak in gevalle waar iemand se stemreg opgeskort is?

BR 19(2) en (3) antwoord hierdie vraag as volg:

  • Slegs lede wat geregtig is om te stem word getel vir kworumdoeleindes by algemene vergaderings. Dit beteken dat enige persoon wie se stemreg opgeskort is, uitgesluit word van die berekening van die kworum, want daardie persoon is nie geregtig om te stem nie.
  • Dele wat geregistreer is in die naam van die regspersoon self, word nie ingereken by bepaling van die kworum nie.

Dit is belangrik dat eienaars en trustees kennis neem van hierdie bepalings. As iemand se stemreg ongeldig ontneem word, is daaropvolgende besluite geneem deur die regspersoon aanvegbaar. Die eienaar sal na ’n hof of die CSOS kan gaan en aanvoer dat die algemene vergaderings nie regmatig saamgestel was nie en dat die besluite wat geneem was nie regskrag het nie.

Dieselfde probleem sal opduik as iemand toegelaat word om te stem terwyl hy nie geregtig is om te stem nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM