Eiendomme

Hier is die duurste en gewildste woonbuurte in SA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
The beach of Llandudno in South Africa close to Cape Town. XXL size image.
The beach of Llandudno in South Africa close to Cape Town. XXL size image.

Byna 100 000 minder huise is in 2023 as in 2022 verkoop - 'n seker teken dat die styging in die rentekoers en gepaardgaande druk op verbruikers die eiendomsmark knou.

Volgens die eiendomsinligtingsfirma Lightstone is altesame 240 888 eiendomsoordragte in 2023 voltooi, teenoor 340 682 in 2022. (Die syfers is vir die jaar tot op hede en kan dus nog verander.)

Die totale waarde van die eiendomme was R257 miljard, sowat R88 miljard minder as die R345 miljard in 2022.

Die rentekoers is sedert November 2021 met 4,75 persentasiepunte verhoog. Ekonome verwag dat die koers van middel 2024 af verlaag gaan word, maar die Reserwebank het in November beklemtoon as inflasie nie volhoubaar terugsak nie, is nog 'n verhoging dalk wenslik.

Duurste woonbuurte

Nege uit die tien woonbuurte waar die duurste huise vanjaar verkoop is, is in die Wes-Kaap: ses in Kaapstad self, en een elk in Stellenbosch, Knysna en George.

Boaan die lys is Llandudno, waar die gemiddelde huisprys vanjaar R21,2 miljoen was.

Die lys is nie noodwendig die woonbuurte met die hoogste eiendomswaardes nie, maar bloot waar die duurste huise spesifiek vanjaar van hande verwissel het.

Die enigste Gautengse buurt op die lys is die Blair Atholl-landgoed in Centurion, suid van Pretoria, waar huise vanjaar vir gemiddeld R14,7 miljoen verkoop is. Dis nr. 8 op die toptienlys.

Gewildste woonbuurte

Die woonbuurte waar die meeste eiendomme verkoop is, is grootliks billiker woonplekke. Van hulle is sewe, insluitend die boonste vier, in Gauteng.

Boaan die lys is Impumelelo naby Devon in die suidooste van Gauteng waar 2 121 huise vanjaar verkoop is.

Huispryse

Die gemiddelde prys van mense wat van huis verwissel het of 'n tweede eiendom gekoop het, was R1,3 miljoen, teenoor R1,2 miljoen in 2022. Dis 'n goeie styging van sowat 8%.

Vir mense wat die eerste keer 'n eiendom gekoop het, het die gemiddelde waarde van R726 357 tot R739 640 gestyg, wat 'n minimale styging van 1,8% beloop.

Volgens FNB se huisprysindeks vir November is die aantal huise wat verkoop word, nou laer as voor die Covid-19-pandemie. Alle prysklasse word geraak, en daar is tekens dat baie mense afskaal na kleiner, meer bekostigbare wonings.

Die persentasie huisverbande wat aan mense jonger as 35 jaar toegestaan word, het skerp gedaal - van 47,3% in die derde kwartaal van 2020 tot 39,7% in die derde kwartaal van 2023. "Dit toon die oneweredige impak van gedempte ekonomiese bedrywighede en hoë rentekoerse op jonger individue, terwyl sterker balansstate dikwels ouer individue beskerm."

Volgens FNB was huispryse in November gemiddeld slegs 0,5% hoër as 'n jaar gelede.

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM